Mediamense verken monument met skattejag

Maroela Media het tydens die geleentheid koning gekraai. (Foto: verskaf)

Ter viering van Internasionale Dag vir Monumente en Erfenisterreine (18 April) het Maroela Media en Pretoria FM hul tekkies nadergehark om dit teen mekaar uit te spook in ’n prettige erfenisskattejag op die Voortrekkermonument (VTM) se terrein.

Dié skattejag, waartydens Maroela Media koning gekraai het, het opnuut die kollig geplaas op die monument se terrein en alles wat dit inhou.

“Internasionale Dag vir Monumente en Erfenisterreine is ’n dag wat ons nou trots kan vier want ons is ’n wêreldklasmonument en ons wil dit graag vir die wêreld wys,” het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, oor die geleentheid gesê.

“Die VTM het oor die afgelope paar jaar deur baie moeilike tye gegaan met die Covid-19-pandemie. Ons moes ’n groot omdraaistrategie van stapel stuur en om dit te laat werk, het ons die inkoop van die gemeenskap nodig gehad.”

James Kemp, Riaan Grobler, Amorie Rossouw en Mari Oosthuizen het Pretoria FM verteenwoordig, terwyl Monica Mynhardt, Du Preez de Villiers, Hester Botha en Beyers Collett namens Maroela Media aan die monument se erfenispretspeletjie deelgeneem het.

Die jagtog het by die Pioniersentrum weggespring en weer daar geëindig. Spanne moes vyf roetes op die terrein te voet verken, insluitend dié na Fort Schanskop, die navorsingsbiblioteek en die Genealogie Genootskap Suid-Afrika (GGSA).

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Vir elke vraag wat die span reg geantwoord het of geskiedkundige voorwerp wat hulle reg geïdentifiseer het, het hulle ’n aansteek-kenteken, oftewel “wawiel” ontvang.

Hul kennis oor die monument, sentrums en standbeelde op die terrein is opnuut getoets, terwyl hul fisieke uithouvermoë ook uitgedaag is.

Dié opwindende uitdaging is geskep om mense op ʼn avontuurlustige wyse uit te daag om hul geskiedenis- en erfeniskennis te verbreed. Dit is ontwerp sodat die hele gesin daaraan kan deelneem, en hoewel vandag se uitdaging te voet plaasgevind het, mag besoekers van hul motors of een van die monument se gholfkarretjies, oftewel “ossewaens”, gebruik maak om by van die punte uit te kom.

“Mens besef eers as jy aan so iets deelneem, of besoek aflê by plekke soos die monument, hoe belangrik dit is om jou geskiedenis te leer ken en te laat voortleef,” het Du Preez de Villiers, landboujoernalis by Maroela Media, oor die geleentheid gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.