Meisies baat by eerste HelpHetta-toer

Gavin Ludick, oudonderwyser wat die seuns toegespreek het, Lize van Zyl, streeksmaatskaplike werker van Helpende Hand, Benette Welman, projekorganiseerder, Bernadette Nel-Naude, gemeenskapsontwikkelingsbestuurder by Atlas Sekuriteit, Marlene Basson, streeksorganiseer van Helpende Hand, en Leandie Bräsler, bestuurder van jeugleierskap by AfriForum. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se #HelpHetta-projek het verlede week met sy #EkIsWondermeisie-veldtog by tien skole in die Oos-Kaap gaan kuier om die meisies fisiek, emosioneel en geestelik toe te rus.

#HelpHetta verskaf die afgelope agt jaar sanitêre ware en higiëniese produkte aan behoeftige skoolmeisies landwyd sodat hulle nie elke maand ʼn week lank skool hoef mis te loop nie.

ʼn Navorsingstudie van Helpende Hand dui egter daarop dat die meisies meer as net sanitêre ware nodig het. Volgens die navorsing het die meisies onder meer behoefte aan motiveringspraatjies, bemoedigende dagstukkies, inligting oor selfbeeld, selfwaarde en hoe verhoudings werk asook om geestelik ontwikkel te word. Die navorsing toon ook dat ʼn groot hoeveelheid van die meisies selfverdedigingsklasse wil bywoon.

Daarom is die #EkIsWondermeisie-veldtog, die eerste van sy soort, vanjaar saam met AfriForum se teenboelieveldtog aangebied.

“Ons wou woord by daad voeg en regtig die meisies in al hierdie behoeftes ondersteun. Ons wou bydra tot die holistiese ontwikkeling van ons skoolgaande meisies. Die uitbreek van die Covid-19-pandemie het ʼn negatiewe uitwerking op ons leerders gehad. Ons wil weer hoop saai en ons skole op alle vlakke bemagtig,” sê Benette Welman, projekorganiseerder van #HelpHetta.

Leandie Bräsler, bestuurder van jeugleierskap by AfriForum, het oor die tema #EkIsWondermeisie gesels.

“In ʼn gebroke en kompeterende wêreld is dit nodig om meisies te bemagtig om uit te staan deur net hulself te wees. Tydens die #EkIsWondermeisie-veldtog word baie elemente van AfriForum se teenboelieveldtog gebruik, waar ek gesels oor die belangrikheid van selfwaarde en dat ons nie ons waarde in hierdie wêreld moet soek nie, maar dat ons klaar waardig is in God se oë.

“Ek het ook aandag gegee aan boeliegedrag teenoor onsself, want meisies is geneig om hulself af te breek deur hulle te vergelyk met dit wat hulle op sosialemediaplatforms sien  – dit knak hul selfvertroue. Dit is belangrik dat meisies ook op só ʼn manier bemagtig word, dat hulle moet besef dat hul liggame ʼn tempel van God is, dat hulle hul eie liggame moet respekteer en bewaar en dat hul liggame ook deur ander gerespekteer moet word,” sê Bräsler.

Bernadette Nel-Naude wys vir die meisies hoe om hulleself te verdedig. (Foto: Verskaf)

Bernadette Nel-Naude, gemeenskapsontwikkelingsbestuurder by Atlas Sekuriteit in Port Elizabeth (Gqeberha), het die meisies met die nodige kennis en vaardighede toegerus om hulself op ʼn  fisieke vlak te beveilig.

“In my 16 jaar in die veiligheidsbedryf het ek ondervind dat misdaad teen vroue meer en meer toeneem. Dit het ʼn negatiewe impak op die groei en ontwikkeling van jong meisies. Ek het vervolgens besluit om alles moontlik te doen om hierdie teikengroep te bemagtig en te beveilig deur toesprake en selfverdedigingswerksessies aan te bied,” sê Nel-Naude.

Gavin Ludick, ʼn inwoner van Port Elizabeth wat nege jaar in die onderwys was, het ook saam getoer om met die seuns by die onderskeie skole te gesels oor dissipline, die rol van seuns in ʼn skool en die rol van mans in die samelewing.

Welman sê sy hoop dat die veldtog ʼn jaarlikse instelling gaan word en in al die provinsies van die land gaan plaasvind.

Vir meer inligting oor #HelpHetta, of om daarby betrokke te raak, besoek www.helphetta.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.