Monument maak erfenis pret met speletjie

Marguerite van Zyl het dit geniet om haar kennis van geskiedenis te toets. (Foto verskaf)

Talle mense het Dinsdag hul vellies vir tekkies verruil om deel te neem aan die Voortrekkermonument se Erfenispret-speletjie.

Dié speletjieprojek is vanjaar begin met die doel om die Voortrekkergeskiedenis lewendig te hou onder Suid-Afrika se jeug. Die amptelike opening het egter bewys dat volwassenes net soveel aanklank vind by dié opwindende speletjies as die jongspan. Meer as 60 mense het in die erfenispret kom deel en almal was dit eens; daar is geen lekkerder manier om die geskiedenis te leer as om te speel nie.

Met die Erfenispretspeletjie kry besoekers aan die Voortrekkermonument die geleentheid om die geskiedenis van die Groot Trek, Anglo-Boereoorlog en vele meer te leer met ’n lekker resies, ietwat soortgelyk aan die gewilde realiteitsprogram, Amazing Race, rondom die monumentterrein.

Tydens die resies ontmoet deelnemers verskeie skatte op die monumentterrein, soos die Danie Theron-standbeeld, die vier hoekfigure van die monument en die Quo Vadis-beeld.

By elke punt kry deelnemers ook ’n wawielbalkie om aan hul Erfenispret-rugsak vas te pen, waarmee hulle na die tyd kan spog.

Die Marais-gesin verdien hul wawiele by die monument se hoeksteen. (Foto verskaf)

Jaco Cilliers, die Voortrekkermonument se bestuurder van erfenisbewaring, sê hierdie projek is ’n lekker manier om die geskiedenis te leer ken en terselfdertyd lewendig te hou.

“Hier is so baie skatte om te ontdek op die VTM-terrein en nie altyd genoeg tyd om als te sien nie.

“Daarom is dié projek so waardevol omdat dit jonk en oud leer om met ’n ander oog na die geskiedenis te kyk en speel-speel jou erfenis te herontdek.”

Marguerite van Zyl, wat saam met haar familie aan die speletjie deelgeneem het, sê dit was vir haar baie lekker om te kon rondhardloop en bietjie háár geskiedeniskennis te toets.

“My oupa het ons soveel geskiedenis geleer, so dit was regtig lekker om saam met hom en die res van my gesin bietjie hier te kom speel. Ek het selfs nuwe goed geleer, so dit was nie net lekker nie, maar interessant ook.”

Die Hendricks-gesin, wat as algehele wenners uit die stryd getree het, sê dit was vir hulle ongelooflik lekker om op só ’n manier die monument te kon herontdek.

Die Voortrekkermonument wil oud en jonk uitnooi om te kom deel aan die pret en jou volgende besoek by die monument ’n Erfenispret-besoek te maak. Inskrywings kos R125 per persoon en sluit jou Erfenispret-rugsak, wawiele en terreinkaarte in. Maak vas jou veters, sit op jou hoed en kom leer en speel saam by die Voortrekkermonument. Stuur ʼn e-pos na [email protected] om meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.