Motorfietsklub trakteer ‘Danville se tannies’ vir Kersfees

Bejaardes, motorfietsryers en gaste kuier lekker saam by vanjaar se jaarlikse Kersete vir die “Danville-tannies”. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se motorfietsklub het die afgelope naweek vir die sesde agtereenvolgende jaar ’n groepie selfversorgende bejaarde vroue van Danville, in die weste van Pretoria, met ’n Kerspartytjie bederf.

Isabel Böning, projekkoördineerder van die klub, sê die groep passievolle vroue van die Danville Woonstelle is Saterdag by hul woonstelblok met ’n bussie opgelaai van waar hulle na die Revive Café by die Moreletapark-gemeente, in die ooste van die stad, geneem is.

Daar is hulle vermaak met ’n optrede deur sanger, radio-aanbieder en akteur Francois van Rensburg. Elke bejaarde het ’n groot geskenkpak ontvang wat spesiaal vir elkeen se behoeftes opgemaak is, en ’n heerlike driegangfeesmaal het die geleentheid afgerond.

Kersvader en Isabel Böning het geskenke uitgedeel. (Foto: Verskaf)

Vanjaar is nie net die “Danville-tannies”, soos die motorfietsklub met respek na hulle verwys, bederf nie, maar ook ander bejaardes wat bande met die motorfietsklub het. Vir ’n paar van dié bejaardes was dié bederfgeleentheid al wat hulle hierdie Kerstyd gaan beleef.

Helpende Hand se motorfietsklub is in 2014 gestig deur ’n groep Christelike motorfietsgeesdriftiges wat ’n passie vir liefdadigheid het. “Ons is reeds sedert 2014 by die Danville-tannies betrokke,” sê dr. Johan Böning, voorsitter van die motorfietsklub.

“Die tannies is ’n ware inspirasie en het diep in ons harte ingekruip. Hulle het hulle nie net in hul omstandighede berus nie, maar streef daarna om selfversorgend te wees. Hulle het verskeie selfdoenprojekte om geld in te samel. Hierdie tannies het uitmuntende gees en liefde vir die lewe, al moet hulle slegs met ’n karige Sassa-toelaag oor die weg kom.”

Hannes Noëth, Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur, het ook die geleentheid bygewoon om vir die bejaardes ’n geestelike boodskap oor te dra ná al die uitdagings wat 2020 gebied het.

“Bejaardes vorm ’n baie belangrike deel van ons samelewing, maar weens siekte of armoede raak hulle dikwels vereensaam.

“Helpende Hand wil graag mense aanmoedig om die bejaardes in hul gemeenskappe te ondersteun. Net soos ’n kindjie nie honger moet gaan slaap nie, moet daar nie bejaardes wees wat eensaam is nie, veral nie oor Kersfees nie,” sê Noëth.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.