’n Matriekafskeid van hoop

Anastacia Slinger (18) en Robin Adams (19) by die huis, kort voor hulle matriekafskeidbal begin. (Foto: Verskaf)

Dit was ’n Maandagmiddag, 7 Junie 2013. Kinders van Vygieskraal in Manenberg op die Kaapse Vlakte het buite in die strate baljaar. ʼn Doodnormale skoolvakansiedag.

Robin Adams, toe 13 jaar oud, het buite sokker gespeel. Sy ma, Shereen Adams (46), was in die huis toe ʼn kind ingehardloop kom en sê Robin het omgeval.

“Daar kom slange bloed by sy neus uit, het die kind gesê. En ek gaan toe met ʼn waslap uit. Onwetend wat gebeur het,” vertel Shereen.

Op pad na die GF Jooste-hospitaal in Manenberg het die waarheid swaar tot Shereen deurgedring.

“Ek kyk vir hom aan in my hande. Daar is geen lewe in hom nie. Ek is onbewus dat my seun in my hande gesterf het. Hy is dood. En ek sê Here, ek weet nie wat makeer my seun nie, maar ek pleit die bloed van die Lam oor hom.”

By die hospitaal kon hulle geen hartklop by Robin vind nie en is kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op hom toegepas. “Hulle sê vir my daar is ʼn koeël in sy kop. In dieselfde asem vra hulle of ek nie my kind se organe wil skenk nie – hy gaan dit nie maak nie. Ek sê vir hulle nee, dit is nie die plan wat die Meester met my kind het nie,” onthou Shereen.

Kort nadat hy by GF Jooste-hospitaal aangekom het, versoek Robin se pa, Ewald Adams (44), ʼn oorplasing na die Groote Schuur-hospitaal. Robin word dieselfde dag nog Groote Schuur toe oorgeplaas. “Die Dinsdag sê die mediese personeel dit is alleen te danke aan die masjiene dat Robin nog lewe; hy kom nie uit die koma nie. Hulle sê hulle gaan Vrydag die masjiene afsit,” vertel sy.

Daardie Donderdagaand bid Shereen en Ewald sonder ophou vir hulle seun.

Robin Adams op 13-jarige ouderdom in die hospitaal ná verskeie operasies. (Foto: Verskaf)

God maak die onmoontlike moontlik

“God het nie opgehou om die onmoontlike moontlik te maak nie” – Shereen Adams, Robin se ma

“Vrydagoggend toe ons daar kom, toe lag almal met ons. Toe is Robin se oë oop. Maar hy kon nie praat nie; hy het net in die lug in gekyk.”

“Ek het nie geweet wat met my gebeur het nie. Soos die dokters en verpleegsters hulle rondtes gedoen het, het ek gehoor hulle sê vir mekaar die seun wat hier lê, is geskiet,” onthou Robin.

Robin het ʼn ernstige traumatiese breinbesering (TBB) opgedoen. Die koeël het sy kleinbrein beskadig en gevolglik het al die organe aan die regterkant van sy liggaam skade gely. “Om te loop, te praat, te eet – alles was uitdagend. Ek moes alles van voor af leer, soos ’n baba,” sê Robin.

Ná drie maande in die hospitaal is hy na die Wes-Kaapse Rehabilitasiesentrum vir Persone met Gestremdhede in Lentegeur gestuur.

Sy ma vertel trots: “Van ʼn rolstoel af het Robin met twee krukke begin loop. Toe raak hy sterker. Van die twee krukke is hy na een kruk en later het hy só goed geloop dat hy net aan ons moes vashou. Die 19de Desember het hy sy verjaarsdag in die rehab gevier. Die 20ste Desember, toe kom hy huis toe…”

Ewald Adams lees Jesaja 45:2-3 aan die gaste voor. (Foto: Verskaf)

ʼn Moeilike pad na herstel

As jong seun moes Robin die skietvoorval verwerk.

Robin se pa vertel: “Na ʼn besoek aan hom in die hospitaal het ons huis toe gegaan en moes hy agterbly met sy gedagtes. Die onsekerheid oor wat voorlê en of hy weer gaan kan loop of huis toe gaan, het bygedra tot Robin se emosionele trauma. Die voorval het ons lewe radikaal verander.”

Shereen, wat kort na die skietvoorval haar werk prysgegee het om voltyds na Robin te kyk, erken: “Hy was baie kwaad en bitter. Ons kon nie verstaan nie. Dit was net lelik. Ek kon dit later nie meer hanteer nie.”

Vandag kyk Robin terug en sê: “Ek was nie deurmekaar nie. Ek was kwaad, want dit het gevoel asof my lewe van my gesteel is.”

In Februarie 2014 is Robin op 14-jarige ouderdom terug na Wynberg Hoër, ’n hoofstroom-skool. “Dit was moeilik. Ek was stadig met alles. Die kinders kon normaal rondloop, maar ek was stadig.” Saam met Robin het sy ouers besluit om hom uit die hoofstroom-skool te haal, en na drie maande se gesoek het hulle hom ingeskryf by Eros, ’n skool vir serebraal gestremde kinders.

Met die nuwe aanpassings het die Adams-gesin se finansiële uitdagings toegeneem. Waar Shereen haar werk prysgegee het, moes Ewald van ʼn toesighouerspos laer afskuif om vaste ure te kon werk om sodoende meer tyd saam met sy gesin deur te bring. Die gesin van vyf woon tans in ʼn tweeslaapkamerhuis. Hulle is op ʼn behuisingswaglys by die Stad Kaapstad, maar wag al nege jaar vir ’n antwoord.

Robin Adams saam met Desmond Bratts (44), sy destydse katkisasie-onderwyser. (Foto: Verskaf)

’n Feesviering tot eer van die Here

“Hierdie skietvoorval het ons baie nader aan mekaar gebring” – Ewald Adams, Robin se pa.

In 2019 het die tyd vir Robin aangebreek vir ʼn gebeurtenis wat op die Kaapse Vlakte as een van die belangrikste gebeure in ʼn jongmens se lewe beskou word: sy matriekafskeidbal.

Shereen beskryf Robin se matriekafskeid as ʼn feesviering tot eer van die Here. Ewald voeg by: “Ons is dankbaar dat die Here ʼn juweel vir ons teruggegee het.”

Daarom is gaste wat die feesvieringe bygewoon het, ook verwelkom met ʼn banier waarop Jesaja 45 verse twee tot drie staan: “… En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die Here is wat jou by jou naam roep, die God van Israel.”

“Hierdie skietvoorval het ons baie nader aan mekaar gebring,” getuig Ewald wanneer hy aan alles wat gebeur het, terugdink.

“Robin was voor die ongeluk ’n baie aktiewe jongman. Sy passie was sokker. Hy gaan nooit plaaslik of internasionaal sy sokkerdoelwit kan bereik nie. ʼn Jongman se droom is van hom af weggeneem.”

Maar uit hierdie hartseer het die Adams-gesin besluit om ’n verhaal van hoop te skep. “Wat vir ons gehelp het, was dat ons Godvresende mense is. En dat ons ons geloof in aksie gesit het. Die uitwerking daarvan is dat Robin tot in matriek kon vorder.”

Die paadjie wat nou voorlê, is nog nie heeltemal duidelik nie, hoewel Robin graag wil gaan studeer om hom te bekwaam as ʼn IT-werkskermspesialis. Al het hy steeds daagliks uitdagings met sy balans, is sy een kruk permanent onder die bed.

En wanneer jy hom vra wat sy droom is, sê hy: “Ek wil hardloop. Ek wil weer sokker speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Mark ·

Dis regtig n storie van Hoop. Julle moes baie deurmaak maar God was en sal altyd met julle wees. Robin jy is werklik ‘n gorie inspirasie.

Liza ·

Wat ‘n ongelooflike God wat ons dien…..alle ere aan Hom……
Robin jy is ‘n pragtige seun, ek bid dat die pad vorentoe vir jou net mooi sal wees……en dat jy weer sokker sal kan speel…..hou moed, niks is onmoontlik in God se oe nie…..
Sterkte vir jou……..

Mockie Stoltz ·

Dit is vir ons almal ‘n inspirasie. Glo en vertrou God met alles. Dankie Maroelamedia dat julle hierdie getuienis met ons gedeel het.

Rina Kotze ·

Hallelujah!

Prys ons Heer! Robin, jy is ‘n inspirasie vir baie,
‘n vasbyter, ‘n bittereinder!

Mag Vader jou seën en mag jy vir baie nog lank ‘n inspirasie wees.

Aan jou ouers: Dankie dat julle volhard het in gebed en God eerste gestel het in alles en dat julle bly glo het.

Charmaine ·

Ons dien n Lewende God, en sy Genade het geen perke nie. Robyn mag jy en jou familie net die seeninge uit die hand van die Here ontvang. Alle sterkte

Ewald Adams ·

To God be the Glory for great things he has done.
I sincerely want to thank the Lord for my salvation and His unconditional Love towards me and my family.
We the Adams family want to thank Eunice Stoltz,Roegshana Pasco and everyone that sacrificed their time to read our life story.
Much thanks to all the encourageing massages and prayers.

God Bless.
Ewald

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.