’n Pakkie van genade vir babas, mammas in hul donkerste uur

Die span by The Grace Factory (TGF) het vanjaar reeds dubbeld die hoeveelheid pakkies uitgedeel en versoeke stroom steeds in. (Foto: Verskaf.)

Deur Maretha Botes

Vir duisende mammas reg oor Suid-Afrika is die koms van ‘n nuwe baba ‘n geweldige kommerwekkende gebeurtenis. Met min of geen inkomste en dikwels sonder die ondersteuning van familie en vriende is sulke ma’s uitgelewer aan die goedheid van ander. Só ‘n mamma skenk dikwels geboorte sonder om te weet waar babadoeke, klere, komberse of selfs haar eie sanitêre ware vandaan gaan kom.

Vrywilligers by The Grace Factory (TGF) se onwrikbare passie en liefde om sulke ma’s in hul desperaatste ure by te staan, het oor die afgelope paar jaar gesorg  dat duisende ma’s en hul babas die nodige het wanneer hulle die hospitaal of kliniek ná ‘n bevalling verlaat. Behalwe die aardse dinge wat so ‘n mamma nodig het om die eerste paar weke na geboorte te oorleef, sorg TGF ook dat die ma’s wegstap met waardigheid.

Dié niewinsgewende organisasie met drie takke in die Vaaldriehoek, Johannesburg Kaapstad, staan behoeftige mammas en babas op ‘n praktiese wyse by in die eerste weke van moederskap. Ellouise Wood van Vuuren, mededirekteur van TGF en bestuurder van die Vaaldriehoek-tak, sê hul grootste doel is om vir so ‘n mamma toe te rus met waardigheid en waarde in een van die mees kwesbare tye van haar lewe. Een manier om dit te doen, is om kraampakkies te verskaf aan ma’s wat nie die basiese benodighede vir haar en haar baba kan koop wanneer die baba gebore word nie.

Sulke pakkies sluit in ‘n groeipakkie (babygrow), frokkie, kombersie, sokkies, doeke, afveedoekies (wet wipes), boudjieroom, lyfroom, babaseep, waslap, nageboorte sanitêre doekies en borsmelkdoekies (breast pads). Dié kraampakkies word deur staatshospitale en klinieke, maatskaplike werkers en ander gemeenskapsvennote wat hulle daartoe verbind het om vroue op die lang termyn by te staan en te bemagtig, versprei. TGF herversprei van die ware wat hulle ontvang na tehuise wat omsien na weggooi- en weesbabas.

The Grace Factory het die afgelope paar jaar 14 000 mammas, babas en kinders in 110 organisasies, hospitale en klinieke gehelp. Hoewel hulle hoofsaaklik in Kaapstad, die Vaaldriehoek en Johannesburg funksioneer, het hulle pakkies al mammas sover as Limpopo, Mpumalanga, die Vrystaat en Kwazulu-Natal bereik.

“Ons probeer ons bes om te help waar en wanneer ons kan. Ons ontvang géén befondsing nie en maak staat op die goedhartigheid van die publiek,” sê Ellouise. Buiten die normale uitdagings het die nasionale staat van inperking ook sy tol op organisasies soos TGF geëis.

“Ons het meer as dubbeld die hoeveelheid pakkies, klere en ander goedere uitgedeel as in ‘n normale jaar,” sê Ellouise. “En die versoeke stroom steeds in.”

Die ontstaan van TGF

TGF hou deurlopend insamelings om swangerskap en geboortepakkies vir behoeftige ma’s op te maak en maak staat op die algemene publiek om hulle te ondersteun. (Foto: Verskaf)

Dit het alles in Julie 2012 begin to Amy Westerman van Johannesburg haar eerste baba gehad het. Terwyl sy op kraamverlof was, het sy besluit om die babaklere en ander noodsaaklikhede wat sy nié gebruik het nie, te skenk. Sy het na ‘n winkelsentrum naby haar huis gery en by die karwagte uitgevind wie babas tuis het en die artikels wat sy in die kar gelaai het, aan dié mense uitgedeel. Amy wou egter ‘n groter impak maak. TGF het in 2013 ‘n wettige entiteit geword en help sedertdien waar hulle kan.

Ellouise het in 2016 betrokke geraak. As ‘n maatskaplike werker met 22 jaar ondervinding in niewinsgewende organisasies, het sy nog altyd die vermoë gehad om groot nood en die regte bronne met mekaar te verenig.

“Ek is passievol oor kwessies rakende vroueregte, kinders, basiese menseregte, gelykheid en ‘n nierassige samelewing,” sê sy.

Ellouise sê haar betrokkenheid het haar geleer dat daar uitsonderlike gawe, vrygewige en nieveroordelende mense is wat waarlik net wil help waar hulle kan. Sy het egter óók geleer dat daar uitsonderlike veroordelende mense is wat nie sal skroom om kritiek te lewer nie, aaklige opmerkings maak oor ma’s en babas oor wie hulle geen agtergrondkennis het nie, en nooit bereid is om ‘n vinger te lig om te help nie.

Sy sê: “My betrokkenheid by TGF het my op ‘n ontdekkingsreis geneem en tot die besef gebring dat ‘n baie groot persentasie van vroue in ons land nie altyd die reg tot hul eie seksuele reproduksiebesluite het nie. Nie alle vroue word vrywillig swanger nie. Ons het steeds ‘n baie lang pad om te stap betreffende behandelbare en voorkomende swangerskap en geboorte- of sterfte-verwante oorsake.”

Máár, sê Ellouise, haar betrokkenheid by TGF het haar meestal geleer en van aangesig tot aangesig gebring met die sterkste, braafste en veerkragtigste mense wat sy ken.

TGF hou deurlopend insamelings om swangerskap en geboortepakkies vir behoeftige ma’s op te maak en maak staat op die algemene publiek om hulle te ondersteun.

Ellouise deel haar ervarings

Ek is al 20:30 in die nag uitgeroep na ‘n geboortefasiliteit en gevra om by te help met ‘n paar noodsaaklikhede vir babas vir wie daar nie gesorg kan word nie. Ons is so vinnig om te oordeel. Moenie. Ek onthou een dag wat ek ‘n pakkie na ‘n hospitaal toe geneem het waar ‘n baba gelos is. Die mamma was maar sestien jaar oud en het swanger geword nadat sy verkrag is.

Een aand het ek ‘n oproep ontvang van ‘n plaaslike hospitaal wat dringend babagoed nodig gehad het. ‘n Doofstom vrou het geboorte geskenk met absoluut niks en niemand nie. Sy kon nie verduidelik wie sy is of wat haar omstandighede is nie.

Ek het onlangs gehelp met ‘n baie groot skenking aan ‘n swanger vrou met ‘n vyfjarige dogter. Hulle het alleen in ‘n veld in ‘n baie gevaarlike omgewing gebly.

Ons staan staatsneonatale intensiewesorgeenhede ook by. Die ma’s wat in nood daar opdaag, kom dikwels van verafgeleë gebiede en het nie juis die nodige bababenodighede wanneer hul babas prematuur hul opwagting maak nie. Hulle ondersteuningstelsels is dikwels ver en afgeleë en daar is baie keer niemand wat vinnig kan inkom om die noodsaaklikhede vir hulle en hul klein, vroeggebore babas te bring nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.