Nooit te oud vir liefde …

Dawie en Marié Joubert. (Foto: verskaf)

In die gange van Ons Tuis Emily Hobhouse het die liefde opnuut geblom tussen die 68-jarige Dawie Joubert en 78-jarige Marié Coetzee en na ’n een-en-half-jaarlange kys, is dié twee getroud.

Op Saterdag 25 Junie het dié paar voor die kansel ewige trou aan mekaar beloof.

Hulle het mekaar by Ons Tuis Emily Hobhouse in Capitalpark, Pretoria, ontmoet waar hulle net drie kamers van mekaar af gebly het.

“Ek het haar die eerste keer van agter af gesien,” skerts Joubert. “Die twee boudjies hier voor my was vir my al te mooi,” las hy ondeund by.

Toe ’n vriendin die voorstel aan Joubert maak om ʼn bietjie te gaan loer hoe mooi Coetzee se kamer is, het hy nie op hom laat wag nie.

“Ek het geen oortuiging nodig gehad nie en het toe maar na die kamer gaan loer.”

Dit is hier waar Marié vertel hoe sy haar kans gevat het om hom vinnig vir koffie te nooi net toe hy so half onwillig wou omdraai en uitstap nadat hy na die kamer kom kyk het.

Op die vraag of die ou tannies lekker geskinder het toe die vryery so vinnig op dreef gekom het, antwoord hulle byna gelyk: “Oe, jy moenie eers praat nie, maar ons is darem nou getroud, so hulle is nou weer stil.”

Marié is al vir 25 jaar ʼn weduwee en Dawie stap die pad al vir 35 jaar alleen.

“Ek het die Vader gevra om vir my iemand te stuur,” deel Dawie op ʼn ernstiger noot. “Toe stuur Hy vir my iemand wat soos ʼn handskoen by my pas.”

Dawie verklap blinkoog hoe hy die jawoord gevra het: “Ons het maar eendag so gesit en gesels toe ek vir Marié sê ek dink dis tyd vir ons hoendertjies om op een stellasie te wees. Sy het ook so gedink.”

Die ring het ʼn dieprooi granaatsteen; dieselfde kleur as Marié se rok toe sy met die troumars in die gangetjie op pad na haar bruidegom afgestap het.

Alhoewel hulle saamstem dat enige verhouding uit gee én neem bestaan, klink dit nie asof die aanpassing té groot is nie. Hulle vertel hoe hulle die meeste van die tyd op dieselfde manier dink en ook hoe baie belangstellings hulle deel.

Hulle geniet dit veral om tyd saam in die kombuis deur te bring.

“As ek die pampoen vat, vat hy die aartappels. Ons maak ʼn goeie span.”

Musiek is nog ʼn liefde wat hulle deel. Dawie rig die tehuis se koor af en speel tydens kerkdienste die orrel. Waar hy baie van klassieke musiek hou, luister Marié weer van Elvis tot boeremusiek.

“As plaaskinders kén ons van meelvloere, two-step en wals.”

Vir Marié is Dawie se Christenskap, sy geloof en opregtheid van sy mooiste eienskappe. Dawie prys op sy beurt Marié se liefdevolle karakter, haar vriendelikheid en behulpsaamheid. “Sy het my ook geleer om altyd ʼn lappie byderhand te hou. Sy kan vir jou skoonmaak hoor.”

Dawie en Marié se hoendertjies gaan eersdaags by een van die selfsorgeenhede van die tehuis bymekaarkom wanneer hulle daarheen trek.

*Die berig is gewysig sedert plasing – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Nella ·

Liefde het geen ouderdomsperk nie. Mag hulle hul laaste jare net liefde, geluk, vrede en vreugde ervaar.

miche ·

Dit is so kosbaar, pragtig. Dankie aan Maroela Media wat hierdie vreugdes met ons deel. Ek is SO lief vir bejaardes en hul wyshede.
Ons het soveel te leer van hulle.

absoluut ·

Baie geluk oom en tannie en dat julle vir ons n voorbeeld is dat mens nooit te oud is om ware liefde te deel nie

piet ·

Hang seker maar van persoon tot persoon af. Sommige mense lyk 70 as hulle 45 is, maar 68 word oor die algemeen nie as oud beskou nie. Miskien was dit oud 50 jaar terug.

yahneh ·

‘n Goeie begryper… party se spore van swaarkry voeg jare by aan die buitekant, Erger is die letsels aan die binnekant wat die mens nie kan raaksien nie.

ps: ek stem saam, 68 is nie oud nie, dit hang af wie die ouderdom dra

Scholtz ·

In veelvoude van tien gereken, is die bruidegom tans in die tien bes-produktiewe jare van sy lewe en is die bruid in die tweede tien-bes-produktiewe-jare van haar lewe.

Stephanus ·

Jammer dat die meeste nie besin oor die erns van ‘n verbondsluiting nie.

Niklaas ·

Ag mense, dis nou ‘n mooi storie om te lees. Alle geluk vir hulle toegewens.

Eclectus ·

Ek ken ‘n grappie oor twee woelige oumense in ‘n ouetehuis maar dis nie geskik vir Maroela nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.