Noord-Kaapse onderwysers maak geskiedenis

Noël Venter, Laerskool Andalusia se skoolhoof. (Foto: Verskaf)

Drie onderwysers van Laerskool Andalusia in Jan Kempdorp het dié week geskiedenis gemaak toe hulle tydens die departement van basiese onderwys se provinsiale uitdunne vir uitmuntende onderwys vereer is.

Dit was die eerste keer dat drie onderwysers van een skool in die 19 jaar van die toekennings se geskiedenis met die louere weggestap het.

Dit was ook die eerste keer dat dié skool in die Noord-Kaap in aanmerking gekom het vir die nasionale onderrigtoekennings wat jaarliks deur die departement van basiese onderwys aangebied word.

“Die departement erken die buitengewone moeite wat deur onderwysers, dikwels onder moeilike omstandighede, gemaak is. Die onderwysers maak ʼn verskil aan die lewens van kinders wat in meeste gevalle uit arm gemeenskappe kom,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Die provinsiale wenners, Noël Venter, Anne-Marie Wilson en Chantel Botha, het onderskeidelik toekennings ontvang vir uitnemendheid in laerskoolleierskap; ʼn lewenslange prestasietoekenning en uitnemendheid in laerskoolonderrig.

Venter, wat 31 jaar se ondervinding agter die blad het, is nie net Laerskool Andulusia se skoolhoof nie, maar gee ook wiskunde, terwyl Wilson, die vakhoof vir Engels as eerste addisionele taal, kinders in drama, Engels as eerste addisionele taal, dans en kuns onderrig en Botha leerders in gr. 4 tot gr. 6 in tale onderrig.

Die onderwysers sal later vandeesmaand op nasionale vlak meeding.

“Dit is ʼn groot prestasie vir ʼn klein skool op die platteland,” sê Botha.

Chantel Botha, ‘n onderwyser by Laerskool Andalusia. (Foto: Verskaf)

Sy vertel dat onderwysers deur departementshoofde vir die toekennings benoem word en dat hulle dan eers op distrik- en streeksvlakke met ander onderwysers meeding, voordat hulle eindelik op provinsiale en dan nasionale vlak in aanmerking vir die toekennings kom.

Botha sê verder dat skole in landelike gebiede unieke uitdagings het, uitdagings waarmee skole in stedelike gebiede nie sukkel nie. “Ons skole het nie altyd hulpbronne tot ons beskikking nie, maar deur middel van kreatiwiteit maak ek die lesse interessanter en prettig.”

Sy sê dat sy besluit het om ʼn onderwyser te word omdat sy ʼn verskil in mense se lewens wou maak en kinders op ʼn positiewe manier elke dag wou aanraak. “Die ding wat ek die meeste van die kindertjies in my klasse hou, is hul eerlikheid en humorsin. ʼn Mens raak nooit verveeld nie, want elke dag kom hulle met iets nuuts vorendag.”

Dié onderwyseres wil nou haarself daarop toespits om ʼn honneursgraad in onderwys aan te pak en sê sy droom daarvan om ʼn vakkonsultant vir die Francis Baard-distrik te word.

Wilson, met amper 42 jaar se ondervinding as onderwyseres, sê dat sy haar lewe gewy het aan haar roeping. “Ek bestee meeste van my tyd by die skool, hetsy ek klasgee of voorbereiding doen vir lesse. Ek probeer altyd maniere vind om my leerders se punte te verbeter.

“Vir my is onderwys nie ʼn loopbaan nie, maar sowaar ʼn roeping en ek sien uit daarna dat ek elke dag die geleentheid kry om kinders se lewens te verander. Ek is soos ʼn moeder vir baie van hulle,” sê sy.

Anne-Marie Wilson, ‘n onderwyser by Laerskool Andalusia. (Foto: Verskaf)

Dié 63-jarige onderwyseres sê dat sy haarself ook beywer om as ʼn mentor vir ander onderwysers op te tree en geniet dit om uit haar eie ondervinding haar kollegas in verskeie aspekte van onderwys touwys te maak.

Wilson is gekies om die distrik te lei in die opstel van die gr. 7- algemene vraestel vir Engels as eerste addisionele taal en dien ook op die beheerliggaam vir die Andulusia-laerskool.

“ʼn Opvoeder moet self altyd ʼn student bly en aanhou leer ten einde hulself te ontwikkel en die beste vir hul skole, onderrig, hul kollegas, leerders en die gemeenskap te bied,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wouter ·

Ek was jare terug ook in Andalusia gewees. Baie bly om te sien hulle onderwysers byt vas en word erkenning gegee vir die werk wat hulle doen. Kry altyd heimwee as ek by ouers gaan kuier en daar verbyry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.