Nuwe lewe vir geamputeerdes – dis sy roeping

Henk Craig en Carel du Plessis. (Foto verskaf)

ʼn Toevallige ontmoeting in die Spur tussen ʼn mediese ortotis en prostetikus Henk Craig (40), van Orthocross Henk Craig Orthopedics, en Carel du Plessis (35) het dié jong man se lewe vir altyd verander.

Vandag loop hy almal onder die stof in met sy prostese waarvoor Henk behoorlik by sy mediese fonds geveg het.

Lise Brink, vrou van dr. Danie Brink wat vroeër die hoof van Solidariteit Helpende Hand was, het ʼn organisasie sonder winsbejag – Stepping Into Grace Ministries (SIG) – in Athens, Georgia in Amerika gestig waarheen die gesin vier jaar gelede verhuis het. Hierdeur ontvang sy geskenkte komponente vir prosteses wat na Suid-Afrika toe versend word om mense, wat dit nie kan bekostig nie, met ledemate te help. Die komponente is beskikbaar as ander opgradeer. Party is nog splinternuut.

Kundiges soos Henk en ander in sy beroep, sit dit dan aan mekaar. Lise het self ʼn been verloor na die tragiese motorongeluk waarin sy en haar gesin byna 7 jaar gelede betrokke was en twee van hul vyf kinders, André (13) en Rachel (8) gesterf het.

Haar linkerbeen moes onder die knie geamputeer word.

Lise en haar gesin. Met Lise se organisasie help sy om onderdele vir prostese in te samel en na Suid-Afrika en die res van die vasteland te versend. (Foto verskaf)

Die Hardloop vir Lise-veldtog het vir haar geld vir ʼn kunsbeen ingesamel. Vir haar is dit nou ʼn tyd vir teruggee.

Carel beskryf die prosteses as “onmenslik duur”. Hy vertel dat hy 5 jaar gelede kort na sy 30ste verjaardag in ʼn trompop botsing op sy motorfiets betrokke was. Hy is per helikopter hospitaal toe geneem en was ʼn maand lank in ʼn koma en vier maande lank in die hospitaal. Hy was vol pype, het ʼn asemhalingsbuis gehad, 40 kg gewig verloor en was lank moeg en pap. Sy herstel was stadig en hy moes ook vir infeksies behandel word.

Hoewel sy mediese fonds al die hospitaaluitgawes gedek het, was hulle vol draadwerk toe dit by die prostese gekom het. Die fondse wil gewoonlik die minimum betaal, dus het hy oor die jare geleer hoe om die beste vir die pasiënte te kry, sê Henk.

Carel is deur een prostetikus die deur gewys omdat hy nie R1,8 miljoen kon opdok nie.

Daar is lank probeer om sy been te red, maar uiteindelik moes dit geamputeer word.

Toe Henk die dag vir Carel in die Spur opmerk, het hy met hom begin gesels en gevra wat fout is omdat hy so sukkelend gestap het.

Waar Henk ook al heen gaan, sien hy mense wat prosteses nodig het. Dis asof daar ʼn radartoestel aan hom vasgegiet is.

Carel kyk waarderend na Henk.

“Hy het dit reggekry om ʼn prostese goedgekeur te kry, anders was ek nou nog op krukke. Hy is my superheld.”

Intussen wag ʼn mens vyf jaar lank voor die padongelukkefonds (POF) uitbetaal. Lise wag al 7 jaar. Henk stuur ook intussen fakture na die POF.

ʼn Prostese moet voortdurend aangepas en gediens word. Daarvoor moet dit Ysland toe gestuur word. Gelukkig voorsien Henk hom in sulke tye van uitruilkomponente. Henk is altyd aan diens. Selfs naweke. Hy loop die spreekwoordelike ekstra kilometer vir sy pasiënte.

Carel het al sy prostese gebreek, en dan is dit enige tyd van die dag of nag reguit na Henk toe.

Met ʼn beenbreuk kry ʼn mens infeksie wat deur die bloedstroom gaan en jou niere aantas. Lewensgevaarlik.

Daardie dag toe Carel sy seuntjie Spur toe geneem het, was sy een been korter as die ander een. Met die infeksies moes 6 cm dooie been uitgesny word. Sy femur wou nie aan mekaar vasgroei nie.

Vandaar die moeilike bewegings. Elke keer as sy knie gebuig het, het sy bobeen gebreek.

Hy het Henk se besigheidskaartjie gehou en hom gekontak nadat sy been geamputeer moes word.

Carel is deesdae iemand wat vinnig kan stap met sy prostese. (Foto verskaf)

Carel het twee keuses gehad. Of hy sukkel voort met die been of hy amputeer en kry ʼn prostese.

“Ek kon niks vir myself doen soos om myself te bad of koffie te maak nie. ʼn Moontlike amputasie het my eers angsbevange gemaak, maar toe ek op ʼn amputasie besluit het, het dit my bemagtig omdat dit my keuse was.”

Hy vertel dat hy eintlik na ʼn prostese uitgesien het, want hy wou weer beweeg. En dit doen hy nou soos blits!

Henk vertel dat Carel baie gou met die prostese leer loop het. Dit kan soms ʼn lang en pynlike proses wees. Hy maak gewoonlik video’s van die pasiënte vir sy Facebookblad sodat ʼn mens die vordering kan sien.

Deesdae loop Carel amper twee keer vinniger as ander geamputeerdes. Hy beplan om te oefen om aan volgende jaar se Paralimpiese spele wat in Frankryk gehou gaan word, met lemme wat Lise aan hom voorsien het, deel te neem.

“Jy moet eers vertroue in die prostese en balans kry. Dis ʼn kopding.”

Toe Carel nie meer sy medies kon betaal nie – dit was tydens die pandemie en hy het sy werk verloor – het Henk in die geheim twee van sy agterstallige paaiemente vereffen.

“Anders sou hy nie weer kon loop nie,” glimlag hy asof dit die mees vanselfsprekende ding op aarde is.

“Ons is so versigtig met Carel se geval omdat hy nie deur die bene geamputeer is nie, maar deur die knie se gewrig. Die voordeel is dat hy die volle gewig kan hanteer aan die onderkant van sy femurkop.

“Ek kon nie vir hom ʼn normale deurknie-koker (socket) maak nie maar ʼn bo-knie-koker. Ek moes hom baie hoër vasmaak, want ek is bang daardie femur gaan breek as hy dalk val. Dan moet ʼn titanium-pen ingesit word wat pynlik is.

Jou eerste prostese se koker kan vervang word in die eerste ses tot 12 maande. Daarna betaal die medies eers elke twee jaar vir ʼn koker.

Henk en sy vrou, Karen, leef in totale geloof. Hy wys nie graag iemand weg wat nie geld het nie. Hulle het al op ʼn slag vyf maande sonder inkomste gesit terwyl die POF met uitbetalings gesloer het.

Maar moet hulle gesin met twee kinders nie self ook ʼn bestaan maak nie?

Wel, vertel hulle, dan gebeur dit maar net dat hulle skielik weer vier pasiënte kry wat wel kan betaal. Dis vir hulle Goddelike ingryping.

Karen ondersteun haar man heelhartig.

“Hy is baie beskeie oor sy werk. Hy erken dat dit makliker was om mense wat nie genoeg fondse het nie te kon help toe hy nog ongetroud was.

“Sy droom is om ʼn bodemlose kredietkaart te hê waarmee hy dit kan doen. Hy het baie pasiënte oor die hele land. Soms vlieg hy op sy eie onkoste na hulle toe. ʼn Ander keer het hy in een dag Botswana toe en terug gery om ʼn arm vrou in haar hut te gaan help. Hy ry ook na townships en plakkerskampe toe om mense te gips, hul mates te neem en keer dan later terug.

“Die mense het nie geld vir vervoer nie.”

Henk ken pyn en moes in sy laaste twee skooljare ʼn Milwaukee-rugstut weens skoliose dra wat sy beweeglikheid erg aangetas het. Dit was uiters ongemaklik. Hy kon nie eers behoorlik op ʼn stoel sit nie.

Hy het vyf jaar lank geswot vir ʼn graad in ortotika en prostetika. Hy spesialiseer in prosteses. Sy werk behels ook om regsmediese verslae op te stel.

Baie van die pasiënte is al jare lank sonder prosteses – mense wat eintlik broodwinners moet wees maar wat nie kan werk of loop nie.

Daarom is die komponente wat Lise vir hulle stuur goud werd. Sy kry die voet en die knie en die ortotiste maak die koker en die voering.

So word Henk se belofte dat hulle binne ʼn week sal kan loop, bewaarheid.

Henk en sy vrou, Karen. (Foto verskaf)

“Henk doen wat hy moet doen. Ek het nog nooit iemand geken wat so baie gee nie,” sê Karen, wat sy praktyk bestuur. Carel is verantwoordelik vir die sosiale media en grafiese ontwerpe.

As Henk by ʼn plakkershut kom, kom daar soms ander ook aan wat amputasies gehad het. As hy vra wat die oorsaak is, noem hul dikwels dit is “suiker”.

“Ek kon van hulle met komponente help as ander pasiënte opgegradeer het.”

Henk sê die wagtyd vir ʼn prostese by ʼn staatshospitaal is twee en ʼn half jaar en dan bestaan die prostese uit minderwaardige komponente waarmee jy nie kan loop nie.

“Dit maak my baie hartseer.”

Daarom het hy die Orthocross Amputee Foundation begin sodat almal gehelp kan word. Dit moet ook belastingaftrekbaar wees vir groot maatskappye.

“Die droom is byna daar. Ek wil elke pasiënt wat dit nodig het uit ʼn rolstoel help en hoop om almal te kan help as die Orthocross Amputee Foundation eers op die been is. Die ‘cross’ staan vir Jesus se kruis”.

Oorsake

Van die grootste oorsake van amputasies is diabetes en motorongelukke. Ander verloor ledemate weens sepsis.

Een vrou wat ʼn bilaterale geamputeerde en ʼn diabeet is, het op ʼn Coke-proppie getrap en het struikelend geloop. As gevolg daarvan het sy ʼn toon op haar ander voet gebreek. Met die gips wat aangesit is, is nie opgemerk dat sy klein vliese tussen haar tone gekry het nie. Albei voete het tegelyk vrot geword waarna ʼn dubbele amputasie uitgevoer is.

Een van Henk se pasiënte wat nou 21 is, is al by hom sedert sy vyf jaar oud is.

ʼn Behoeftige bejaarde man – ʼn kwadrupleeg wat ook nie kan praat nie – is aanvanklik in ʼn kruiwa rond gestoot.

Henk neem elke vyf jaar vir hom ʼn gemotoriseerde rolstoel en hy kan nie ophou jubel daaroor nie.

“Dis hoekom ek die werk doen. Ja, dis soms ʼn moeilike pad wat ons loop. Ons betaal ons tiendes en ons knieë is al deurgeskuur, maar dit bou karakter.”

Kontak vir Lise op die webwerf www.tydomterugtegee.com of stuur ‘n e-pos aan Henk by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.