Om tydens Covid-19 gebore te word

Ina-Mari (3,4 kg), gebore op 19 April 2020 om 13:30. (Foto: Verskaf.)

Deur Pieka Grobbelaar

Klein Ina-Mari se aankoms in hierdie wêreld was allesbehalwe gewoon. Met ma en dogter gaan dit tans goed, maar daar’s veel meer te vertelle van wat vooraf gebeur het:

Ons plan en hoe Covid-19 dit gefnuik het

Vanaf die dag dat ons vasgestel het Julindi verwag ons eersteling, het ons heelwat nageslaan oor swangerskap, geboorte en babas. Weens die voordele wat ’n natuurlike geboorte inhou, het Julindi die dapper besluit geneem om normaal te kraam – sonder enige verdowing.

Ina-Mari sou in Frankryk, waar ons tot ’n maand gelede gewoon het, gebore word. Maar die koronavirus het al ons planne omvergewerp toe ’n staat van algehele afsondering in Frankryk aangekondig is. Net daar moes en het ons ’n nuwe plan beraam en is onverwags en blitsvinnig uit Frankryk … Julindi was reeds 34 weke swanger.

In Suid-Afrika word daar bitter min gebruik gemaak van vroedvroue en ’n keisersnee is ’n gewilde opsie. Daarbenewens was alles met ons terugkoms deurmekaar en gekompliseerd. Gelukkig kon ons, kort ná ons aankoms, ’n vroedvrou (Natasha) van Somerset-Wes in die hande kry – haar kraamvertrek was goed toegerus en dit sou ons ’n bietjie minder as ’n uur neem om by haar uit te kom.

Julindi het groot gedra, daarom was die laaste paar weke (soos vir menige vroue) uitputtend en dus sou ’n vroeër geboorte welkom wees.

Op pad na die hospitaal. (Foto: Verskaf.)

Die drama ontvou …

In die nag van 16 April maak Julindi my wakker.

“My water het gebreek.”
Ek vlieg vervaard op. “Regtig?”
“Ja!”
“Oukei. Wow! Hoe laat is dit?”
“Vieruur” (Vrydagoggend).

Eintlik het haar water reeds om 02:00 gebreek en was sy reeds in verbinding met Natasha. Haar kontraksies was in hierdie stadium egter heel matig.

My ouers het intussen wakker geword en ná ’n heen-en-weer geskarrel was die motor gelaai, weer gesluit, en ons reg vir die groot oomblik.

Maar toe kom die antiklimaks. Ná sowat ’n uur het Julindi besluit om weer te gaan lê en kort voor lank was ons almal weer vas aan die slaap. Vrydag het gekom en gegaan sonder dat die kontraksies erger geword het – ons het besluit om ons nie te veel daaroor te bekommer nie.

Moeilike besluite

Saterdagoggend is ons na Somerset-Wes sodat Natasha Julindi en Ina-Mari kon ondersoek. Ina-Mari se hartklop was ’n gesonde 138 per minuut, sy was in die ideale geboorteposisie en daar was nog genoeg vrugwater. Julindi se urienmonster en bloeddruk het bevestig dat alles normaal blyk te wees.

Dit was tyd om ons opsies te oorweeg.

In hierdie stadium het daar ongeveer 36 uur verloop sedert Julindi se water gebreek het. In baie lande, onder meer Switserland waar Natasha as vroedvrou gekwalifiseer het, sou daar tot 48 uur gewag word voordat daar ingegryp word. In Suid-Afrika beveel dokters induksie egter ná 24 uur aan. Die hoofrede is infeksie. Hoe dit ook al sy, volgens Natasha styg die risiko vir infeksie met slegs 3% per dag en is dit nie noodwendig lewensgevaarlik nie.

Ons het besluit om die risiko te waag en nog ’n dag te wag in die hoop dat Julindi se kontraksies sal toeneem en sy normaal geboorte kan skenk. Natasha het vir Julindi ’n paar pille gegee om die kontraksies aan te help en ons het ’n paar mense gevra om in gebed aan ons te dink.

Sondag

Teen ongeveer 08:00 die oggend het Julindi se kontraksies akuut geword en in intensiteit, duur en frekwensie toegeneem. Ons het gou ontbyt geëet, die motor weer gelaai en opgewonde na Somerset-Wes vertrek.

Maar toe begin dinge lelik skeefloop!

Op pad begin Julindi kla dat sy baie koud kry en teen die tyd dat ons in Somerset-Wes aankom, het sy koors. Natasha was allesbehalwe gerus aangesien dit nie normaal was nie en haar bekommernis het toegeneem toe sy na Ina-Mari se hartklop luister wat tussen 150 en 160 slae per minuut galop – ’n seker teken van angs en nood. Sy was ook nog nie laag genoeg in die uterus soos verwag nie.

Om die kroon te span, was die feit dat Julindi nog nie eens begin het om te ontsluit nie – dit ná vier uur in kraam en langer as 55 uur nadat haar water gebreek het. Daarbenewens het Julindi die afgelope 55 uur bitter min geslaap en sou te moeg wees om normaal lewe te skenk. Op Natasha se aanbeveling is daar vinnig reëlings getref met ’n dokter wat sy ken en vertrou, waarna Julindi in die nabygeleë Mediclinic opgeneem is.

Ons behoort ons baba binne ’n uur in ons arms te kan vashou, het ek gedink.

Ons lieflike dogtertjie wat reeds ons harte gesteel het. (Foto: Verskaf.)

’n Hartseer pa

Ek wens ek kon sê dat die aankoms van Ina-Mari deur middel van ’n keisersnee van hierdie oomblik af slegs ’n gewone storie sou wees. Maar Covid-19 had ’n laaste sê …

Ek het vroeër genoem dat Julindi ’n koors begin ontwikkel het. Mediclinic (en alle ander hospitale) se beleid is: As enigiemand een van die Covid-19-simptome toon (onder meer koors), moet hy/sy hanteer word asof hy/sy die virus het – totdat die toetse anders bewys (met ’n wagtydperk van minstens 24 uur voordat die uitslae bekend is).

In hierdie stadium was ’n in vitro-infeksie ’n groot waarskynlikheid en die logiese rede vir Julindi se koors. Maar, helaas, daarvan kon ons nie 100% seker wees nie.

Die feit dat Julindi moontlik met Covid-19 besmet is, het beteken dat sy ook in die hospitaal geïsoleer moes word terwyl sy van die keisersnee herstel. Dit het ook beteken dat ek dit kon hê.

In hierdie stadium het Ina-Mari ’n matige koors van 37,7 ˚C gehad, waarskynlik weens infeksie. Gelukkig het dit gedaal, maar sy moes van die volgende dag in die neonatale waakeenheid antibiotika binneaars ontvang – sonder haar mamma en pappa.

Hoewel alles goed uitgewerk het, was ek, Julindi en Ina-Mari in isolasie en alleen. My hart het gebreek omdat ons liefpoppie haar eerste dag in hierdie wêreld alleen moes deurbring. Ek weet nie of die verduideliking hoekom dit so moes wees, dit vir my makliker of moeiliker gemaak het nie. Miskien makliker, maar nie veel nie.

Die eerste kosbare oomblikke saam met my twee fraaie meisies. (Foto: Verskaf.)

Uiteindelik breek die son deur

Dus, uiteindelik op Maandag 20 April omstreeks 11:30 kry ons Julindi se toetsuitslae terug: negatief! Die bloeduitslae van Ina-Mari het ’n paar probleme opgelewer, maar glad nie ernstig nie: Haar witbloedtelling was wel te hoog, maar andersins was sy gesond en ons kon haar huis toe neem sodra sy haar 72 uur lange kursus van antibiotika voltooi het.

Ondanks al die drama was Ina-Mari ’n regte klein soetpatat, so op haar eie in die waakeenheid – wel, vir ’n groot deel daarvan.

Oor die volgende twee dae kon Ina-Mari baie ure saam met haar mamma in die kraamsaal (waar Julindi van haar keisersnee herstel het) deurbring en natuurlik was ek by om saam in die vreugde te deel.

Watter voorreg om Ina-Mari in my familie te verwelkom. Ek vermoed dat ek reeds halsoorkop en hartstogtelik verlief is op ’n tweede meisie in my lewe!

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

summie ·

Bly om te sien dat ma en baba veilig en gesond is. Dit bly maar ‘n risiko om van ‘n vroedvrou alleen gebruik te maak. Die dokters moedig wel deesdae normale geboorte aan, veral omdat hulle so maklik gedagvaar kan word as iets fout gaan tydens die keisersnit (hulle versekring wat hulle moet betaal is ASTRONOMIES !), so baie dokters doen nie eers meer keisersnitte nie. Ek dink ook steeds dit was ‘n groot risiko om so lank te loop nadat haar vrugwater gebreek het .

Katjie ·

Baie geluk met julle bondeltjie vreugde! Swangerskap is een van daardie “goeters” wat jy dink dit gaan so gebeur en dan gebeur iets heeltemal anders. Ek dink ‘n hele klomp pappas en mammas het kraamstories te vertel – dinge verloop (in my experience met 2 kinders) nie soos jy gedink/gedroom het dit sou nie. Dit is egter deel van die “pret” van kinders groot maak – wanneer jy lank na die tyd daaraan terugdink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.