Om werklik geseënd te wees in die tyd van sosiale media

Argieffoto (Foto: Austin Distel/Unsplash)

Blaai rond op sosiale media en jy sien selfies en gelukkige gesigte, baie keer gaan dit ook met ʼn aanhaling of Bybelvers gepaard. Dit sinspeel gewoonlik daarop dat die persoon in die foto soveel dinge het wat skeefloop, maar die voorbladgesig wat afgeneem is in die spieël, met die perfekte lippe en dun middeltjie, spreek van iets anders. Die ongelooflike mooi, gemanikuurde gesig met die perfekte wenkbroue spreek dan dankbaarheid uit oor alles en nog wat en om die sin mooi af te rond, word dit geëindig met ʼn #blessed.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, seëninge is om elke hoek en draai en ʼn mens moet hulle tel en een-vir-een voor dankie sê, maar die vet weet, as dit sleg gaan met jou, jou hart is in ʼn duisend stukkies en alles loop skeef, hoef jy nie vir die wêreld te jok nie. Al die seer wat ʼn mens so onder die mat in vee hoop op. Elke keer wat jy ʼn foto neem en mooi redigeer om vir mense, wat jy op skool laas gesien het, te wys hoe wonderlik dit met jou gaan, groei jou neus ʼn bietjie langer. Almal wat jou foto sien, dink dan dit gaan vreeslik goed met jou. Hier en daar is iemand wat dalk wens hulle het jou lekker lewe gehad en ook graag #blessed wil wees, maar die meeste wat dit sien gaan ongelukkig vergeet.

Om te jok en te sê dit gaan goed as dit eintlik bitterlik sleg gaan, is nie ʼn stap in die rigting van genesing nie. Om te sê jy het alles onder beheer as dit vir jou voel jy weet nie meer hoeveel balle jy eintlik veronderstel is om in die lug te hou nie, help net mooi niks. As daar een ding is wat ek met hierdie kiemtyd geleer het, is dat egtheid nou meer belangrik is as ooit. Egtheid is ʼn rou juweel waarvoor baie bang is, want dit wys meer as wat ʼn spieël kan wys, dit wys jou binneste. Dit is tyd dat egtheid weer afgestof moet en opnuut waardeer word.

ʼn Gewoonte-klakous steek ʼn mens ook dwars in die krop en moet weer van vooraf al die mooi raaksien, maar ʼn gewoonte #blesser maak die lewe ook onnodig gekompliseerd vir homself en vir ander rondom hom.

Jy hoef nie te lag as jy eintlik wil huil nie.

Jy hoef nie te glimlag as dit voel of jy binne breek nie.

Jy hoef nie te sê dit gaan goed met jou as daar ʼn donker wolk om jou kop hang nie.

Elana Barker (Foto verskaf)

Deur eerlik te wees, rou te wees en eg te wees, gaan jy makliker genees, want jy plak nie jou seerplek heeltyd toe met ʼn prentjie-pleister nie. Om te sê jy is bekommerd, angstig oor iets, bang of onseker, beteken nie jy spreek ʼn verdoeming op jou lewe uit nie, jy doen doodeenvoudig die eerste ding wat jy moet om weer beter te kan voel. Jy erken dit hardop aan iemand wat jou hart verstaan, en saam soek julle na ʼn oplossing om die donker wolk bo jou kop weg te kry.

Mense wat na mekaar uitreik, deel in verskillende wyshede, leer lesse en bêre troos in die troos-lêers van hul harte. Woorde maak dat ʼn mens, mettertyd, vinniger kan beter voel. Op die lang duur gaan ʼn #blessed jou ʼn paar treë terugsit in plaas van vorentoe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leina ·

Al is mens hoe geseënd … keer jy altyd terug na realiteit. Wat maak jy as jy nie meer weet wat om te doen nie …as werkloosheid jou normaal word en elke dag se inkomste en voorsiening jou stres tot hoë bloeddruk jaag. Hoekom werkloos … nie omdat daar nie werk is of jy lui is nie … omdat jy vrees vir jou volgende stap in die vreemde met onmenslike werkgewers en jy moet vure doodslaan vir jou kinders se beskerming en nie werk kry wat jou en jou kind se welstand en veiligheid kan verseker nie. Slawerny en boelie werkgewers is steeds realiteit. Nie net kinders boelie mekaar nie … dis realiteit. Jy as enigste broodwinner en ma moet balanseer tussen werk en kinders by die huis of die volgende vreemde duur oppasser. As jou tyd uitloop en selfs jou familie moedeloos raak. Wat maak jy as jou kind jou vra vir dinge wat normaal is vir kinders …. en jou rympie raak afgesaag met … as mamma geld kry my kind!! Waar begin jy …. wat maak jy?Jou seëninge en ondersteuning hou net so lank!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.