Ons Winkels: Spaar terwyl jy jou gemeenskap ondersteun

(Foto: Ons Winkel/Facebook)

Reg oor die land in die hartjie van 127 verskeie gemeenskappe lê daar ʼn juweel waar jy nie net uitsonderlike produkte teen bekostigbare pryse kry nie, maar ook die geleentheid om ʼn verskil te maak – welkom by Helpende Hand se “Ons Winkels”.

Die Ons Winkels neem enige items wat jy nie meer dra, gebruik of ʼn nut voor het nie. Hierdie tweedehandseskenkingswinkels is veel meer as net ʼn winkel waar jy kan koop of ʼn plek waar jy kan skenk. Terwyl daar verskeie plekke is waar jy jou items kan skenk, bied Helpende Hand se Ons Winkels ‘n unieke kombinasie van gemeenskapsbetrokkenheid, ekologiese bewustheid en persoonlike aandag. Deur jou ongewenste goedere hier te skenk, maak jy ‘n positiewe impak op jou gemeenskap én die planeet.

Die fondse wat deur elke winkel genereer word, keer terug na Solidariteit Helpende Hand en word dan teruggeploeg. Die gemeenskap, en die streek waar die winkel geleë is, baat uit die winkel omdat verskeie streek- en gemeenskapsprojekte uit die Ons Winkels befonds word. Elke winkel word dus volgens streek verdeel en die fondse vanuit hierdie spesifieke winkels word maandeliks in ʼn gesamentlike streeksfonds teruggeploeg. Hierdie streeksfonds word gebruik om projekte in dié gemeenskap uit te rol. Daar word ook rentevrye studielenings beskikbaar gemaak vir studente wat finansiële hulp benodig om hul studies te bekostig.

Laastens maak fondse vanuit die winkels dit vir Helpende Hand moontlik om maatskaplike werkers in diens te neem om uitdagings in gemeenskappe te takel, asook om gemeenskappe tot hul volle potensiaal te help ontwikkel. Helpende Hand se maatskaplikewerk-diensteafdeling bestaan uit ’n span maatskaplike werkers en hulp- maatskaplike werkers wat in elke provinsie oor Suid-Afrika geleë is. Hierdie bekwame span dra by tot elke streek en sy verskeie gemeenskappe.

As jy dus steeds wonder of jy die Ons Winkels wil ondersteun, hier is ʼn paar redes waarom ‘n inkopietog na Ons Winkels nie net goed is vir jou gemeenskap of vir jou sak nie, maar ook vir jou hart:

  • Jy gaan allerhande interessanthede by die Ons Winkels vind. Ons Winkels bied ‘n wye reeks van items, insluitend sommige wat jy nêrens anders sal vind nie. Hierdie unieke produkte gee jou die kans om iets spesiaal teen ‘n sakvriendelike prys te kry. Van die interessantste items wat by die Ons Winkels geskenk is, was onder meer ʼn handverwarmer uit 1950.

Handverwarmer uit 1950 (Foto verskaf deur Ons Winkels)

  • Herwin en hergebruik. Deur tweedehandse items by Ons Winkels te koop, help jy die omgewing deur herwinning te bevorder. Dit beteken minder afval en ‘n groener planeet. Verskeie van ons kosbare winkeleienaars neem eie inisiatief met die mooimaak en herwin van items wat die publiek skenk, kikker die item op en verkoop dit weer in hul winkel. Dit is hoe die onderstaande, boeke, skinkbord en breekware nuwe lewe gekry het.
  • Ondersteun ʼn goeie doel. Elke keer as jy by Ons Winkels koop, dra jy by tot die werksaamhede van Helpende Hand. Jy help nie net jouself spaar nie, maar jy gee terug aan jou eie gemeenskap.

(Foto verskaf deur Ons Winkels)

Dink daaraan – elke keer as jy by Ons Winkels inkopies doen, doen jy meer as net koop. Jy maak ‘n verskil. En daar’s geen beter gevoel as om te weet dat jou geld goed bestee is nie.

So, as jy volgende keer dink aan inkopies, dink aan Ons Winkels. Spaar geld en ondersteun ‘n goeie doel. Dit is ‘n wen-wen vir almal!

Indien jy items het wat jy graag wil skenk, besoek gerus die webwerf www.onswinkel.co.za en só kan jy jou naaste winkel opspoor waar jy jou skenking kan aflaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.