Ontmoet die moeder van museums

Die kombuistafel van ouds, die meelsif uit oorlogsdae, en die kosbare babapakkie se verhaal is onlosmaaklik deur haar lewensverhaal verweef. Hul stories is ook Annemarie Carelsen se storie. (Foto: Verskaf)

Met ʼn onbeskryflike liefde in haar hart vir elke historiese item wat deur haar hande gaan, versorg en bewaar dié beskermengel ons erfenis. Die kombuistafel van ouds, die meelsif uit oorlogsdae, en die kosbare babapakkie se verhaal is onlosmaaklik deur haar lewensverhaal verweef. Hul stories is ook háár storie.

Museums taan saam met kundigheid

Museums – daardie geboue waar voorwerpe van blywende geskiedkundige, natuurkundige, wetenskaplike of kunswaarde vir openbare besigtiging en navorsingsdoeleindes versamel, bewaar en uitgestal word – is besig om ʼn rariteit in ons tyd te word. Soveel te meer museumkundiges; mense wat regtig die teoretiese begronding het om erfenisskatte te bewaar en sinvol uit te stal.

Annemarie Carelsen is een van ʼn handjievol opgeleide museumkundiges wat nog haar merk in die plaaslike museumwêreld maak. In erfeniskringe word sy as een van die land se topkultuurhistorici beskou.

Voordat kultuurhistoriese museums in die sewentigs en tagtigs in groot getalle gevestig is, was daar hoofsaaklik natuurhistoriese museums. “In daardie jare was daar ʼn ontploffing van kultuurhistoriese museums met feitlik elke dorp in die land wat een geopen het. Dit het die vraag na behoorlike opleiding laat ontstaan en universiteite het ʼn nagraadse diploma in museumkunde aangebied,” vertel sy.

Dié kursus is egter sedert die einde van die 1990’s weer uitgefaseer. Vir Carelsen is dit baie jammer, want nou is daar geen manier meer waarop die basis verkry kan word nie. “Museumkunde is ʼn gespesialiseerde veld met baie wat jy moet verstaan en navors voordat jy by uitstal kom,” verduidelik sy.

ʼn Voorliefde vir voorwerpe

Carelsen het haar meestersgraad in geskiedenis voltooi met die interieur van historiese huismuseums as fokus. Sy dra veral baie kennis van hout-, materiaal- en metaalvoorwerpe. Sy dateer voorwerpe en gee raad oor die bewaring daarvan.

Meubelstukke is haar gunstelingvoorwerpe. “Dis wonderlik om ondersoek in te stel en agter te kom dis hiérdie hout, of dit kom van dáár af. As ek ʼn ou metaalvoorwerp in my hand hou en ek kom agter dit is handgesmee, dan hóór ek sommer hoe dit met ʼn geklingel in die smidswinkel gemaak word. Ek sien in my geestesoog hoe die smid swoeg en sweet. Ek word deur ʼn diepe begeerte gedryf om uit te vind presies hoe die voorwerp geskep is en wat dit vir daardie smid binne sy konteks beteken het.”

Haar loopbaan het in 1984 by die destydse Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum begin – die museum by die dieretuin, soos die meeste mense dit geken het. Oor die jare heen was sy ook by die Willem Prinsloo Landboumuseum, die Pioniersmuseum en die Krugerhuismuseum betrokke, en formele uitstallings by ander museums.

Sy het ook vir lank by die Sammy Marks-museum gewerk. “Chaos het geheers toe ek daar aangekom het. Dit was so bevredigend om ʼn museum uit daardie chaos te skep, tot die juweel wat dit vandag is. Ek het die huis ingerig en navorsing gedoen sodat die gidse toere en opvoedkundige programme kan aanbied.”

Annemarie werk tans by die Nasionale Museum van Kultuurgeskiedenis, wat deur Ditsong bestuur word.

Die noodsaak van konteks

Annemarie Carelsen is een van ʼn handjievol opgeleide museumkundiges wat nog haar merk in die plaaslike museumwêreld maak. (Foto: Verskaf)

In die museumwêreld is sy aan uiteenlopende mense en kulture blootgestel. “Een oomblik moet ek ʼn Indiese lap vashou en sy storie verstaan, en die volgende oomblik dieselfde met ʼn sekel doen. Dis noodsaaklik om voorwerpe in konteks te plaas. Daardie lap of sekel beteken niks as jy nie weet wat die sosiale impak daarvan was nie.”

ʼn Museumkundige wat sy sout werd is, moet ʼn item in ʼn bepaalde sosiale konteks kan plaas. “ʼn Sekere meelsif sê byvoorbeeld dadelik ‘Tweede Wêreldoorlog’, want as gevolg van rantsoene was daar beperkte voorraad en die meel wat nie na die soldate gestuur is nie, was baie grof,” verduidelik sy.

“Die mense het daarom onwettig siwwe gemaak, sommer self, so elke sif lyk anders. Ek verstáán daardie voorwerp. Dié vermoë vat geweldig baie navorsing én ervaring. Dit word ʼn leefstyl van oplet, besef, verstaan.”

Die kosbaarste voorwerp wat sy al ooit vasgehou het, het uit haar eie ouma se kas gekom. “Dit is ʼn uitgewaste meelsak wat in ʼn onderbroek en kinderkleertjies omskep is, uit die 1930’s se depressietyd. Daardie kleertjies vertel van gebrek en ontbering, maar ook van deursettingsvermoë en vindingrykheid. Die fisiese klere ontlok by my soveel deernis vir die mense wat dit moes dra se situasie.”

Erfenisbewaring in ons eie hande

Hoewel daar tans meer as 400 museums in Suid-Afrika in privaat en openbare besit is, lyk dié erfenisbewaarplekke se toekoms troebel. “Ek kan nie sien dat hulle almal gaan oorleef nie. Tog dink ek daar is ʼn toekoms vir museums en erfenisoordrag as ons daarop fokus om dít wat oorbly op die korrekte manier te bewaar en positiewe inligtingsoordrag self hanteer. Individue, families en gemeenskappe moet na hul eie voorwerpe omsien, dit versorg en die stories oordra,” sê Carelsen.

Sy is bereid om vir enigiemand wat by haar aanklop raad oor hul oudhede te gee, en het al rond en bont deur die land gereis om mense te help en te leer. Gemeenskappe en museums het haar oor die jare heen om hulp gevra en sy het al by meer as 70 museums hand bygesit.

“Ek is lief daarvoor om mense te leer hoe om oudhede op te pas, en om aan hulle te verduidelik presies hoe waardevol die ding is wat hulle vashou. As jy dit weet, waardeer en respekteer jy dit opnuut.”

Annemarie is nou 60 en nog nie heeltemal reg om af te tree nie. Sy gaan nog vyf jaar werk en daarna poog om die kennis wat sy opgedoen het in artikels neer te skryf, of dalk in ʼn boek. “Want erfenis is in elkeen van ons se wortels,” glo sy. “Ons het die kennis daaroor broodnodig.”

“As jy nie meer jou wortels het nie, het jy nie meer ʼn identiteit nie. ʼn Mens kan altyd uit die geskiedenis leer. Die mensdom werk só dat alles maar eintlik in sirkels beweeg; daar is niks nuut op die aarde nie. Gaan soek maar net weer en jy sal sien hoe die geskiedenis hom herhaal. As ʼn mens daardie basis het en as jy weet vanwaar jy kom, ontwikkel daar ʼn trots en ʼn wete dat ek iewers inpas.”

“Geleidelik, soos ʼn mens ouer word, word die storie oor waarvandaan jy kom al hoe interessanter,” sê Annemarie met ʼn glimlag. “Sorg daarom dat jou eie erfenis nie tot niet gaan nie. Dis in óns hande.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.