Ooievaarstee wil weggooibabas help

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die Afrikaanse Toekomstrust (ATTSA) en Unchain our Children het hande gevat om ’n ooievaarstee-projek vir weggooibabas van stapel te stuur.

“Baie babas word gebore sonder dat daar spesifiek vir hulle beplan is. In stabiele huishoudings kan dit ’n wonderlike verrassing wees, maar hierdie babas word dikwels sonder ’n ondersteuningsnetwerk gebore of iemand wat vir hulle omgee,” het Dinah Bronkhorst, die uitvoerende hoof van ATTSA, verduidelik.

“Met hierdie projek nooi ons mense om liefde vir ’n babalyfie te bring wat nie gevra het om hier te wees nie, maar ook liefde en omgee nodig het.”

’n Ooievaarstee vir dié babas word Vrydag 26 Augustus van 10:00 tot 12:00 by Hugostraat 474, Waterkloof Glen, in Pretoria gehou.

Mense word uitgenooi om ’n nuwe of goeie, gebruikte doekesak vol te pak met bababenodigdhede. Dít sal dan as toegang tot die ooievaarstee gebruik word.

Diegene wat graag betrokke wil raak, maar nie die ooievaarstee kan bywoon nie, word ook genooi om op die dag skenkings of só ’n gepakte doekesak by die deurry-ooievaarstee te kom afgee.

“Hierdie skenkings word dan aan mense uitgedeel wat na die babas omsien, of aan moeders wat in desperate nood verkeer.”

  • Vir meer inligting oor ATTSA se bedrywighede en hoe jy kan betrokke raak, nader hulle by [email protected].
  • Besoek ATTSA se webwerf vir meer inligting oor die ooievaarstee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Janine ·

Miskien voorbehoedmiddels gee. Dis vrylik beskikbaar, en GEEN vrou het ‘n verskoning nie. Ek kry al die babas jammer, maar vrouens moet ook verantwoordelikheid begin vat!

Mallie ·

Janine, ek stem saam. Nou is dit net weer n geleentheid om meer babas te he en nie verantwoordelik te wees vir hulle. Voorbehoedmiddels of sterilisasie is mos baie beter metodes om te keer dat jy swanger raak en nie kan sorg nie.

Rika ·

Alhoewel die bedoelinge eerbaar is, moet die organiseerdes die woord ‘weggooibaba’ heroorweeg. Om met hierdie ‘tag’ deur die lewe te gaan, is nie opbouend nie. Elkeen mens in hierdie wêreld het behoefte aan selfwaarde en om lief vir jouself te wees. Om jouself ‘n weggooibaba te noem is vernietigend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.