Oos-Kaapse Afrikaanse plaasskool vier 120 jaar

Die personeel van Laerskool Gamtoosvallei. (Foto: verskaf)

ʼn Ouma, wat self ʼn paar dekades gelede agter die skoolbanke van Laerskool Gamtoosvallei in die Oos-Kaap gesit het, is vandag aan’t bak en brou om die 120ste verjaarsdag van dié plaasskool te vier.

So is daar ook ʼn oupa, wat die loesings van ʼn rottang in die gesig moes staar wanneer dissipline maar min was en skoolstaaltjies by dosyne het, wat vandag daardie einste staaltjies aan kleinkinders vertel wat agter dieselfde banke sit waar hy eens gesit het.

Kaalvoetkinders geanker in geloof, wat eendag as gebalanseerde volwassenes die samelewing sal betree, is die kinders wat by die skoolhekke van dié Oos-Kaapse skool uitstap.

Só meen Christelle McCabe, Laerskool Gamtoosvallei se skoolhoof, terwyl sy met Maroela Media oor die skool se 120ste verjaarsdagvieringe gesels.

“Ons is geseënd om hier op die platteland skool te kan hou,” erken Christelle.

“As jy hier instap, is dit mooi. Die tuine is mooi en die geboue goed onderhou.”

Memorabilia in die skool se toeka-tot-nou-uitstalling. (Foto: verskaf)

Sy is trots op die skool wat uit sowat 250 kinders tussen die ouderdomme van 7 en 13 bestaan.

In dié skool neem almal aan alles deel, vertel Christelle trots.

“Die kaptein van die eerste rugbyspan neem ook deel aan redenaars en toneel.”

Dié jaar is ʼn feesjaar vir die skool, ʼn 120ste verjaarsdag is immers ʼn mylpaal wat behoorlik gevier moet word. Daar vind egter dié naweek (14 -16 April) ʼn rits geleenthede plaas om die 120ste bestaansjaar van dié Afrikaanse plaasskool te herdenk.

Nie net is daar ʼn heerlike, volronde Toeka-tot-nou-uitstalling wat deur die skool- en omliggende gemeenskap besoek kan word nie, daar vind ʼn ete, veiling, boeresport, sportwedstryde en kindervermaak plaas. Die naweek word afgesluit met ʼn kerkdiens wat om 09:00 Sondagoggend by die NG Gamtoosvallei-Oos-gemeente plaasvind.

Die gemeenskap het hande gevat om nie net dié feesnaweek moontlik te maak nie, maar ook om die skool ten volle te ondersteun.

“Sonder die gemeenskap sou hierdie skool nie bestaan het nie. Hulle is ons hande en ons voete,” vertel Christelle.

“Daar is ongelooflike mense in die gemeenskap, wie se harte elkeen op die regte plek is.”

Dié mense sit dikwels hand by wanneer die nood druk, nuwe projekte aangepak moet word of uitbreiding aan die skool gedoen moet word.

Wanneer Christelle aan die volgende 120 bestaansjare van Laerskool Gamtoosvallei dink, hoop sy dat waardes van geloof en gemeenskap, behoue sal bly.

“Ons skool is geanker in God. Sonder Hom sou ons nie gewees het waar ons vandag is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Suzette ·

My eerste indruk ook. Nietemin is die skool werklik prysenswaardig. Baie Geluk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.