Orreliste van Paul Roux deel water uit

Christien van Eck gooi water vir die gemeenskap. (Foto: Verskaf)

Deur Susan Maré

Twee orreliste van die NG kerk Paul Roux het onlangs, toe dié dorp ’n groot waterkrisis gehad het, agteroor gebuig om mense van water uit hul erf se boorgat te voorsien. Annatjie Kotze (80) en Christien van Eck (74) vertel dat mense vroeër in Februarie met kanne, bottels en enige houer denkbaar na hul adres gestroom het. Die droë krane het die hele gemeenskap geraak en daar moes vir sowat drie weke bontgestaan word om water in die hande te kry.

Waterprobleme in Paul Roux is ’n jare lange probleem. Die dorp aan die N5-roete naby Bethlehem in die Vrystaat is afhanklik van watervoorsiening uit Bethlehem en is deel van die Dihlabeng-munisipaliteit se vyf dorpe (ook Clarens, Fouriesburg en Rosendal). Sedert Bethlehem, wat omring is van volhoubare damme soos die Saulspoortdam (Lesotho-Hoogland-waterskema) weens die onbevoegde besluitnemings van die Dihlabeng-munisipaliteit en ander redes self ’n waterkrisis ontwikkel het, was inwoners van Paul Roux en ook Rosendal noodwendig slagoffers. In Paul Roux het watertenks wel ’n draai in die woonbuurt Fateng Tse Ntsho (Fateng) gemaak, maar die water was vuil en het ook nie lekker geruik nie.

Die boorgat op die erf van Annatjie en Christien was ’n welkome uitkoms. Die armstes van armes uit Fateng het begin aanklop vir water en dag vir dag in rye met houers voor die susterspaar se hek gestaan. ’n Hoogs bejaarde vrou uit Fateng was een van die mense wat moeisaam aangekruie gekom het met ’n kruiwa en groot houer. Sy het al met hoenderkraai (04:00) begin loop om water te gaan haal en daarna het sy met die skat kosbare water weer die moeisame pad huis toe oor klipperige paaie aangedurf.

Die twee orreliste vertel hulle het ’n sterk boorgat wat sowat 5 000 liter water per dag kan lewer, danksy ’n dompelpomp en ’n ryk wateraar. Die watertenk waarin dit gepomp word, is met ’n pyp aan ’n sinkdam verbind, met water wat hoofsaaklik vir hul groentetuin gebruik word.

Christien van Eck en Annatjie Kotze het kanne, bottels en enige houer denkbaar met water uit hulle boorgat gevul. (Foto: Verskaf)

Annatjie vertel: “Van oral het Paul Roux se mense aangekom. Soms was daar ’n lang ry mense voor ons hek en talle voertuie. Ons het baie interessante mense ontmoet en lekker gesels met mense van Fateng, die plaaslike landdroshof, klein besighede in die dorp, die polisie, die skool, die kliniek … Glo my, dit was ’n voldagwerk. Ons was elke aand gedáán. Ek en Christien het mekaar deur die dag afgelos, en dan het ons om die beurt in die huis gaan sit en tee drink om ’n bietjie asem te skep en krag op te bou.

Die twee orreliste is dit eens: “Wat ’n voorreg was dit nie dat ons uit ons oorvloed die water kon uitdeel nie. Mense wou dit koop, maar dit was nooit eens ’n oorweging by ons om geld te vra nie. Dis dan die Here se water!”

Annatjie speel die afgelope 21 jaar orrel in die NG kerk Paul Roux en word gereeld deur Christien afgelos. Hulle het in die omgewing van Slabberts tussen Bethlehem en Fouriesburg as nooiens Kotze grootgeword en het steeds wonderlike herinneringe van musieklesse wat hulle van ene Judith van der Merwe op ’n plaas, Bella Vista, ook naby Slabberts, ontvang het. Hulle het selfs hul musiekeksamens op Slabberts gespeel wat toe net ’n paar winkels en huise, ’n treinstasie en laerskool gehad het.

Dit staan soos ’n paal bo water dat dié twee toegewyde orreliste van Paul Roux heldinne is wat ’n hele klomp dors mense kop bo water help hou het. Hulle sien graag die son in ’n ander se waterkan skyn. Van sonsopkoms totdat die son water trek het, was hulle daar vir hul gemeenskap toe dit nodig was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Dankie Tannies . Dit bly egter ‘n onverskoonbare gebeurtenis weens wanfunksionele munisiliteite deur 26 jaar verwoes deur ANC boewe. Die ironie van saak is die Minister staan apaties en gemeenskappe verval in Afrika norme!!!HOEKOM aanvaar ons dit en HOEKOM is gemeenskappe soo ruggraatloos???

Adri ·

Die ironie is dat die inwoners van Fateng maar weer vir die ANC gaan stem, want daar is altyd mense wat hulle jammer sal kry.

Androclus ·

Al stem hulle ook vir die ANC hulle weet nie hulle kom kry die daaropvolgende 5 jaar maar net weer so swaar saam met my wat nie vir die ANC stem nie.Is dit nie dom van hulle nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.