Parapleeg laat wiel met nóg ʼn wêreldrekord

Hermann van Heerden besig met sy wêreldrekordpoging (Foto: Facebook)

“Ek wou twee ure voor die tyd ophou,” vertel Hermann van Heerden, 30-jarige parapleeg wat op 25 Oktober vir dertien en ʼn half ure op die agterwiele van sy rolstoel gebalanseer het in ʼn poging om sy tweede Guinness-wêreldrekord agter sy naam te skryf.

Toe Van Heerden sy eerste Guinness World Records-boek in 2002 gekoop het, het hy al daaraan begin dink om eendag sy eie rekord op te stel. “Ek het toe net begin dink aan wat ek het om mee te werk. Ek het nog altyd my rolstoel gehad en was daarom baie gemaklik daarmee,” verduidelik hy oor die idee wat hom geïnspireer het.

Van Heerden het die eerste keer in 2011 die rekord opgestel toe hy vir tien ure gebalanseer het. “Ek moes vir ʼn minimum van vier ure wheelie om die rekord op te stel, maar toe hou ek ses ure langer aan.” Hy vertel dat sy tweede poging aangevuur is deur Michael Dylan Kennedy, ʼn Kanadees wat die rekord in 2014 met twee en ʼn half ure verbeter het. Van Heerden se aanvanklike doel was om dit vir veertien ure vol te hou, maar bieg dat dit hierdie keer veel meer uitdagend was.

“My balans was baie meer af as die vorige keer,” vertel Van Heerden wat in 2013 albei sy bene laat amputeer het. Van Heerden is weens spina bifida verlam gebore. Dit is ʼn geboortedefek wat ʼn onvolledige ontwikkeling van die ruggraat tot gevolg het. Maar dit het hom nog nooit gekelder nie.

“Ek was van graad een tot twaalf in ʼn normale skool. My ouers het nie gevoel dis nodig om my in ʼn spesiale skool te sit nie.” Van Heerden het by Hoërskool Frans du Toit in Phalaborwa gematrikuleer waarna hy onderwys by die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer het.

In die winter van 2010 het hy egter begin sukkel met die bloedsomloop in sy bene weens die Vrystaatse koue. Dié infeksie het hom twee jaar later genoop om ʼn dubbele amputasie te ondergaan. “Dit was in daardie tyd ʼn groot besluit. Ek was toe nie geestelik gereed daarvoor nie, maar nou is ek nie een dag spyt nie. Die operasie het my hele lewe verander.” Van Heerden het na afloop van sy studies Clarens toe verhuis waar hy tans woon en werk.

“Toe ek aan die begin van die jaar besluit het om die rekord te verbeter, het ek my dominee genader om met die reëlings te help,” vertel Van Heerden. Hy verduidelik dat die organisasie baie tegnies is, omdat tydhouers, getuies en ingenieurs betrek word, en voeg by: “Die plaaslike gemeenskap het my geweldig ondersteun. Van my kollegas het op die dag spesiaal deurgery Bethlehem toe waar die geleentheid plaasgevind het.”

Zelmarie Griesel, Van Heerden se suster, ondersteun hom tydens sy wêreldrekordpoging (Foto: Facebook)

Van Heerden het reeds om 05:00 laat wiel, terwyl tydhouers en getuies elke twee ure vervang is. Zelmarie Griesel, Van Heerden se suster wat ook op die dag teenwoordig was, vertel met trots: “Dit vat baie guts om te sê jy gaan ʼn rekord opstel en dit dan voor die publiek te doen. Dis soos vir ʼn normale mens om aan die Ysterman-kompetisie deel te neem. Dis ʼn groot prestasie!”

Van Heerden wag nou vir amptelike terugvoer van Guinness World Records af wat sy nuwe wêreldrekord moet bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mariska ·

Well done, Hermann. Almal wat jou ken is ongelooflik trots op jou.

Maria ·

MOOOI man !!! Jy is aanhou wenner hou so aan en baie trots op jou !!!
Wat ook al gebeur wereld enidig nie dit maak jou nog sterker mens as ooit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.