Passie vir syfers spoor student aan

Kendylle Mulder. (Foto: Verskaf)

Kendylle Mulder, ʼn BCom Bestuursrekeningkunde-student aan Akademia, staan vir geen uitdaging in die lewe terug nie.

Dié Kaapse student het haar passie vir rekeningkunde ontdek toe sy direk ná haar matriekjaar met betaalstaatkursusse (payroll courses) begin het om haar te help om in die betaalstaatomgewing werksaam te wees.

Mulder het reeds tydens haar matriekjaar elke middag ná skool as kelnerin gewerk om finansieel tot haar huishouding by te dra. Sy kon uiteindelik haar matriekafskeid bywoon en self vir haar matriekafskeidrok betaal.

“Tydens my matriekjaar is my ma met borskanker gediagnoseer en al is sy vandag in remissie, is sy steeds nie gesond genoeg om permanent in diens geneem te word nie,” vertel Mulder.

Kort ná matriek het sy haar pa verloor en haar ma, wat medies ongeskik is om te werk, het finansieel van haar afhanklik geraak.

Mulder het daarna besluit om haarself as rekeningkundige te kwalifiseer en het aansoek gedoen om ʼn BCom-graad in rekeningkunde aan Akademia te verwerf. Sy is nou ook deel van die #Borg-‘n-Behoeftige-student-projek, wat saam met Solidariteit Helpende Hand van stapel gestuur is.

Mulder het daarna ʼn hoër sertifikaat in rekeningkunde aan Akademia verwerf terwyl sy voltyds as ʼn betaalstaatadministrateur by MBB Consulting in Kaapstad gewerk het. Sy het ook nauurs by ʼn ander rekenmeestersfirma gewerk terwyl sy laataand tyd vir haar studies ingeruim het.

Mulder se paaie het verlede jaar met die Helpende Hand Studietrust (HHST) gekruis toe sy aansoek gedoen het vir ʼn rentevrye studielening om haar studies aan Akademia te befonds.

Lesers wat daarin belang stel om Mulder finansieel te ondersteun, kan die # Borg-’n-Behoeftige-student-projek ondersteun deur die webwerf te besoek of stuur ʼn e-pos aan [email protected] vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jaco

Ek hoop sy kry werk na haar studies. Die harde werklikheid van regstellende aksie en BEE lê mos maar om elke hoek en draai en wag met ‘n nare verrassing as mens die “verkeerde” velkleur het.