Passiespel bring gemeenskap in Hermanus byeen

Die Hermanus Passiespel bied al vir die afgelope 26 jaar aan jonk en oud die geleentheid om op Goeie Vrydag aan die produksie deel te neem. (Foto: Verskaf)

Die Hermanus Passiespel bied al vir die afgelope 26 jaar aan jonk en oud die geleentheid om op Goeie Vrydag deel van ʼn produksie oor Christus se lydingstyd te wees.

“Dit is ʼn ongelooflike belewenis om te sien hoe hierdie projek die gemeenskap byeenbring,” sê Anschen du Plessis, bemarkingskoördineerder van die Passiespel.

Die Passiespel is 28 jaar gelede deur Lisma Kotzé, wat destyds ʼn musiekonderwyseres was, begin. Dit is sedertdien elke jaar, met ʼn onderbreking tussen 2020 en 2022, aangebied.

Akteurs wat hieraan deelneem, is amateurs uit Hermanus en omliggende gemeenskappe wat vrywillig kom aanmeld. “Vanjaar se jongste speler is vier jaar en ons oudste deelnemer is 83 jaar.”

Die Passiespel word op Vrydag 29 Maart aangebied en dit sal oudergewoonte op die rotse van die Ou Hawe in Hermanus opgevoer word.

Die Passiespel word op Vrydag 29 Maart aangebied en dit word op die rotse van die Ou Hawe in Hermanus opgevoer. (Foto: Verskaf)

“Wat die opvoering uniek maak, is die ruimte en beligting. Om 20:00 skakel die plaaslike munisipaliteit al die ligte rondom die Ou Hawe af en dan is dit net die maanlig en ʼn kollig wat beligting vir die spelers verskaf.

“Die speelruimte strek oor ʼn afstand van ongeveer 230 m en dit bestaan hoofsaaklik uit rotsoppervlak. Dit gebeur soms dat akteurs deur water moet beweeg, maar dit word uiteraard nie beplan nie. Die natuur gaan immers sy gang,” voeg Anschen by.

Die produksie word jaarliks nie net deur die gemeenskap van Hermanus ondersteun nie, maar ook deur mense wat van reg oor Suid-Afrika af reis. “Mense kom van heinde en verre om die uitbeelding van Jesus se geboorte, lewe, lyding en opstanding te kom beleef.

“In ʼn tyd waar Suid-Afrika saam met die res van die wêreld deur ʼn uiters traumatiese periode gegaan het, is dit vir ons ʼn wonderlike geleentheid om ʼn klein bydrae te maak. Op hierdie manier wil ons aan elkeen wat die Passiespel bywoon weer hoop en ʼn verwagting oor die toekoms bied.”

Die voorprogram begin om 18:00, waarna die sanger Fanie de Jager die gehoor met geestelike liedere sal vermaak totdat die produksie om 20:00 begin.

Kaartjies vir die Hermanus Passiespel kos R100 vir kinders jonger as 12 en R150 vir volwassenes. Dit kan vooraf op Computicket se webwerf of die aand van die vertoning by die ingang gekoop word. Besoekers moet self stoele, komberse en piekniekmandjies saambring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.