Radiostasie help om gesteelde reddingsboeie te vervang

Die NSRI het sedert 2017 verskeie pienk reddingsboeie op strande geplaas. (Foto: Facebook/NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) kan nou 12 van hul bekende pienk reddingsboeie wat in die Tuinroete-omgewing gesteel is, vervang danksy die hulp van GROOTfm en die Atterbury Trust.

Sonet Stofberg, projekkoördineerder by GROOTfm, het Dinsdag tydens ʼn regstreekse uitsending van die GROOT Ontbyt vertel dat die Atterbury Trust ʼn skenking van R20 000 aan die NSRI gee om dié lewensreddende toestelle te help vervang.

Stofberg, tesame met Zahn Hulme, uitvoerende trustee van Atterbury Trust, en Andrew Ingram, NSRI-kommunikasiebestuurder, het saam op die program verskyn.

Volgens Stofberg het nuus oor die diefstal onder dié gemeenskapsradiostasie se aandag gekom danksy Algoa FM, wat onlangs berig het dat nagenoeg 25 pienk boeie gedurende die feestyd by strande tussen Mosselbaai en Sedgefield gesteel is.

(Foto: Facebook/NSRI)

“Ek glo waar daar oortuiging en geleentheid is, moet ’n mens onmiddellik optree. Ons weet hoe belangrik werk van niewinsgerigte organisasies is en ons besef die erns van die NSRI se verlies,” het Stofberg op die program gesê.

Die NSRI het sedert 2017 verskeie pienk reddingsboeie op strande geplaas om mense te help met noodreddings uit die see.

Sedert dit in gebruik geneem is, is nagenoeg 177 mense se lewens danksy die boeie gered.

Om ʼn reddingsboei en kennisgewingbord met die nodige noodnommers op te rig, kos nagenoeg R1 500. Elke boei se bord het ʼn spesifieke noodnommer wat hulp makliker na ʼn spesifieke gebied kan ontbied.

“Ons is verheug oor dié skenking omdat hierdie projek nie moontlik sou wees sonder korporatiewe en openbare borgskappe nie. Ons sien ook hoe gemeenskappe mekaar meer verantwoordbaar hou vir die behoud van die boeie want dit is dikwels gewone, onervare mense wat die boeie gryp om iemand se lewe te help red,” het Ingram oor die skenking gesê.

Die NSRI doen volgens Ingram moeite om terugvoer in te win en die projek deurlopend te verbeter.

“By Atterbury glo ons daaraan om betrokke te raak in ons nabye gemeenskappe. Dit is uiters gerusstellend om die NSRI se pienk boeie langs ʼn strand te sien en te weet dat daar hulp vir jou ontbied sal kan word,” het Hulme bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Antoinette ·

Ek glo amper nie wat ek lees nie. Wat op aarde wil die diewe met die reddingboeie maak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.