‘Regrukkers’ gooi wal teen emigrasie

Nat Schluter van die Johannesburg Bybelkollege, André van Pletzen van Ignite & Revive, Doc Mabila van YouthZones, Petrus Grové van die Missio Dei-stigting, Lennox Plaatjies, nasionale skakelbeampte van SA Pals, Johan Erasmus, pastoor by die Dialoog-gemeenskapskerk, en past. John Mathuhle van Wilberforce Akademie glo dat daar nog hoop vir Suid-Afrika is. (Foto: Du Preez de Villiers)

How2Stay in SA, ʼn projek om mense aan te moedig om in Suid-Afrika te bly ten spyte van al die probleme, het ʼn handvol voorvatters na King Price-versekering se hoofkantoor in Pretoria genooi om hul begeesterende stories van hoop te deel, waar hulle daarin slaag om ʼn beduidende verskil in hul gemeenskappe te maak.

Dié stories kom uit verskeie dele van die land, onder meer Ficksburg, Kroonstad, Wolseley, Senekal en Johannesburg, waar daar verligting en uitkoms gebied is vir gemeenskappe wat swaar gebuk gegaan het onder rassespanning, korrupsie, swak dienslewering en staatsverval. Slim en harde baanbrekerswerk was egter nodig om in hierdie hervormingspogings te slaag.

Hulle is dit almal eens dat welsyn ʼn onding is en dat behoeftiges eerder nuwe hoogtes kan bereik deur vaardigheidsoordrag, sport, internettoegang, basiese opvoeding, handwerk, kuns, landbouprojekte, gemeenskapsbetrokkenheid, natuurbewaring, tersiêre opleiding en, baie belangrik, om jongmense te leer om geld te spaar. Die einddoel is om van Suid-Afrika ʼn beter plek te maak sodat die groot uittog uit die land verhoed kan word.

Daar is ook saamgestem dat die Christelike geloofsaspek ʼn sterk onderbou in hierdie aksie moet vorm.

Johan Erasmus, pastoor by die Dialoog-kerk en stigter van Betereinders, sê ons moet mooi dink voor ons uit Suid-Afrika padgee. “Almal wat emigreer sê hulle doen dit om ʼn meer stabiele lewe te lei, maar niemand sê dit is om ʼn meer betekenisvolle lewe te lei nie. Die mense wat verkies om in Suid-Afrika te bly ervaar beslis nie stabiliteit nie, maar lei ʼn meer betekenisvolle lewe.”

Hy sê in Australië werk alles, maar niks maak saak nie; hier werk niks nie, maar alles maak saak. “Ons moet dus diep gaan dink en onsself afvra hoe ons hier kan bly.”

 

Johan Erasmus is pastoor by die Dialoog-gemeenskapskerk in Pretoria. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Gelukkiges sien geleenthede raak

In Ficksburg het daar 13 jaar gelede ʼn ingryping gekom toe die organisasie Missio Dei in die lewe geroep is. Ds. Petrus Grové, ʼn Gereformeerde Kerk-leraar wat buite Ficksburg boer, is ʼn medestigter en glo dat ʼn gemeenskap wat saam bid in veral moeilike tye die wa deur die drif sal trek.

“Om in Suid-Afrika te boer is nie maklik nie,” sê Grové, “want die landboubedryf is deurlopend onder druk. Jy kan selfs met jou lewe daarvoor boet. Met hierdie vraag in ons agterkop moes ons onsself afvra waarom ons steeds in Suid-Afrika is en waarom ons moet aanhou boer.

 

Ds. Petrus Grové is ‘n boer van Ficksbug en mede-stigter van die Missio Dei-stigting. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“ʼn Groep van ons boere het toe begin om elke oggend saam te bid en uit die Bybel te lees waaruit ons baie bemoedigende boodskappe gekry het. Dit het ons aangespoor om aan te hou boer en verder na behoeftige gemeenskappe uit te reik deur ʼn skool tot stand te bring. Te midde van baie terugslae en met beperkte fondse het ons ook ʼn tehuis vir terminale pasiënte en ʼn kliniek op die been gebring.”

Missio Dei het toe na modelle gekyk om mense op te lei om veral graad 3‑leerders in plattelandse gebiede van gehalte‑onderrig te voorsien om vir hulle ʼn mate van uitkoms uit die ongeskooldheidsiklus te bied.

“Die probleem in Suid-Afrikaners is dat ons nie meer gelukkig is nie; ons is in ʼn oorlewingstryd gewikkel, soveel so dat ons nie meer die geleenthede om ons raaksien nie. Die oomblik toe ek besluit het om weer gelukkig te wees, het ek weer geleenthede raakgesien.”

Grové glo ook dat die ongeregtighede in Suid-Afrika met Christus se krag stormgeloop kan word.

Kry mense indiensneembaar

Doc Mabila het op ʼn plaas in Tzaneen grootgeword met ʼn ma en pa wat plaaswerkers was. Vandag is hy besturende direkteur van Amaverkykers, ʼn maatskappy wat mikro-entrepreneurs uit arm gemeenskappe bemagtig. Hy is ook ʼn sokkergeesdriftige en die hoof van YouthZones met 60 000 lede reg oor Suid-Afrika, wat deur sokker, rekenaargeletterdheid, lewensvaardighede en talle ander kleiner projekte mense bemagtig.

“Ons het nie ʼn werkloosheidsprobleem nie, ons het ʼn onindiensneembaarheidsprobleem – dit is wat ons moet verander,” sê Mabila.

 

Doc Mabila is besturende direkteur van Amaverkykersvan en hoof van YouthZones. Foto: Du Preez de Villiers)

 

Gee aandag aan betekenisvolle probleme

André van Pletzen, ʼn sakeman in Kroonstad, het ʼn groep sakemense bymekaargebring en Ignite & Revive bekendgestel om ʼn waterlose, disfunksionele dorp na die dorp van die jaar in 2022 om te tower.

“ʼn Sleutelwoord om in Suid-Afrika te wil en kan bly, is houding. Verander jou houding,” sê hy.

“Ons moet betekenisvol wees, maar ook besef dat betekenisvolheid jou beste vriend of jou grootste vyand kan wees. Gee krediet waar dit toekom, maar as jy nie aandag gaan gee aan gevare wat betekenisvol is nie, kan dit in ʼn monster ontaard. Een voorbeeld is as mense teen jou begin werk omdat hulle nie in beheer is nie, kan dit ʼn betekenisvolle probleem word. Jy moet dus daadwerklik aandag daaraan gee om dit betekenisloos te maak.

 

André van Pletzen is ‘n sakeman in Kroonstad en stigerslid van Ignite & Revive. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Rassespanning is simptoom

Pastoor John Mathuhle, fakulteitslid van Wilberforce Akademie, het bekendheid verwerf met die bomenslike poging wat hy aangewend het om die rassespanning in Senekal te ontlont, wat veroorsaak is deur die moord op Brendon Horner en die gevolglike optog van swart en wit groepe wat teenoor mekaar te staan gekom het.

Vandag doen hy ook deurlopend werk in dié dorp om mense op te hef en trots te maak op hul omgewing. Hy glo ook dat rassespanning nie so ernstige probleem is soos wat voorgegee word nie, maar dat dit onder die oppervlakte deur ander euwels gedryf word.

 

Past. John Mathuhle is van die Wilberforce Akademie. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Loop die pad enduit saam 

Lennox Plaatjies is in Wolseley woonagtig en die nasionale skakelbeampte van Vennote in landbou-oplossings (Pals). Nadat hy vir 18 jaar in die tronk gewerk het, het hy met ʼn projek begin om suksesvolle swart boere te vestig. “Dit is nie genoeg om swart mense net grond te gee en dan te sien hoe hulle skouspelagtig misluk nie. Hulle kort vaardighede, mentorskap, kapitaal en alles wat nodig is om hulle ondernemings suksesvol te maak.

“Wit en swart boere, die private sektor en die gemeenskap het almal saamgewerk om ʼn ondersteunende klimaat te vorm om swart boere te help om grondhervorming ʼn sukses te maak sodat boere hul eie grond kan besit.

“Witzenberg Pals in Ceres is in 2015 van stapel gestuur en nou die dag, vir die eerste keer in agt jaar, kon ek ʼn betekenisvolle vergadering met die departement van landbou belê omdat hulle besef het dat dit werk. Ons het 51 sulke projekte in die Wes-Kaap gevestig en mense van die ander provinsie kom vra ons nou vir raad,” sê Plaatjies.

 

Lennox Plaatjies is nasionale skakelbeampte van Vennote in landbou-oplossings (Pals) SA. Foto: Du Preez de Villiers)

 

Immigreer eerder

Dr. Nat Schluter, ʼn neurochirurg van Oxford, is vandag aan die stuur van die Johannesburg Bybelkollege. Hy is in Kenia gebore waarna hy Brittanje toe verhuis het. Daarna het hy Suid-Afrika toe gekom en is al vir 20 jaar in Johannesburg gevestig. Hy waarsku mense wat wil emigreer dat alle lande, net soos Suid-Afrika, uitdagings en probleme het. “Julle Suid-Afrikaners het nie ʼn benul wat julle tot julle beskikking het nie,” sê hy.

“Hier is ons gevrywaar van terrorisme, kernwapenbedreigings, tornado’s, vulkane en ernstige aardbewings.

“Hier skyn die son vir agt ure van die dag, regdeur die jaar, hier is ʼn wye verskeidenheid vakansiebestemmings wat goedkoop en binne bereik is.

“Die vorige model C-skole is net so goed soos dié in Engeland en baie goedkoper as privaat skole in Engeland. Die maklike toegang wat ons kinders tot sport en buitemuurse aktiwiteite het, is net so indrukwekkend. Hier is waardes nog belangrik en kinders is nog gehoorsaam en respekteer volwassenes. Die belangrikheid van ouers se rol in hul kinders se opvoeding en lewenskeuses is nog ʼn kernbeginsel en die huishulpe wat beskikbaar is bou kapasiteit in ons lewens.”

 

Nat Schluter is prinsipaal by die Johannesburg Bybelkollege. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die organisasies wat saamspan om How2Stay in SA moontlik te maak, is Betereinders, Laeveld Agrochem, NG Kerk Oosterlig, Dialoog-gemeenskapskerk en King Price‑versekering.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Althes ·

Suid-Afrika het sy uitdagings, maar ek glo dat indien ons saamstaan en van die huidige regeringsbestel ontslae kan raak, gaan dinge verseker verbeter. Elkeen moet betrokke raak en ñ enkele stem raak ñ groot stem wat dreunsang.

Althes ·

Suid-Afrika het sy uitdagings, maar ek glo dat indien ons saamstaan en van die huidige regeringsbestel ontslae kan raak, gaan dinge verseker verbeter. Elkeen moet betrokke raak en elke stem tel. Raak beteokke by organisasies en drukgroepe.

Wit Leeu ·

Net ‘n nar sal dit kwyt raak “Hy sê in Australië werk alles, maar niks maak saak nie; hier werk niks nie, maar alles maak saak.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.