‘rooi rose’ binnekort weer op die rak!

Christel van den Bergh, Zetske van Pletzen en Nadia Beukes het ‘rooi rose’ se bekendstelling bygewoon. (Foto: Michelle Bailie)

Die trane het gerol toe rooi rose, een van Suid-Afrika se oudste vrouetydskrifte, in Junie verlede jaar moes groet. Dit was egter ook die einde van gewilde tydskrifte soos Vrouekeur, Bona, Woman & Home, Food & Home en Garden & Home wat Caxton Uitgewers letterlik oornag toegemaak het.

Lesers van rooi rose was verslae toe die tydskrif na 78 jaar skielik nie meer op die rakke te vinde was nie. Dis immers ʼn ikoniese tydskrif waarmee baie van ons, ons ma’s én ons oumas grootgeword het en een van Suid-Afrika se eerste tydskrifte nadat dit in 1942 tydens die Tweede Wêreldoorlog vir die eerste keer die lig gesien het.

Maar dié week het die vreugdesvure hoog gebrand toe ʼn glansryke bekendstelling en opskop by Hannon Bothma (Glam Guru) en sy eggenoot Julius Swart se spoghuis in Sandton gehou is om die herlewing van rooi rose te vier.

“Ons kan nie wag vir die nuwe rooi rose nie. Ons het die tydskrif so gemis!” is die algemene reaksie van getroue lesers.

rooi rose het ʼn trotse geskiedenis en is veral bekend vir die hupstoot wat dit Charlize Theron se loopbaan gegee het. Bekendes soos Carike Keuzenkamp, Anneline Kriel, Margaret Gardiner en selfs prinses Charlene van Monaco het deur die jare op die voorblad gepryk.

Juanita en Franja du Plessis pronk op die eerste nuwe uitgawe se voorblad na ʼn fotosessie in regte Glam Guru-styl.

Maar hoe het dit gebeur dat rooi rose skielik ʼn tweede lewe gekry het? En is dit ’n verstandige besluit in die era van die Covid-19-pandemie?

Ons het met Anlie Janse van Rensburg, nuwe redakteur, gesels.

Anlie Janse van Rensburg is die nuwe ‘rooi rose’ se redakteur. (Foto: Willem Botha)

Sy sê: “Enigiets is seker ’n waagstuk. Highbury Media se ander tydskrifte, Woman & Home, Garden & Home en Food & Home vaar tot dusver goed. Ek glo daar is nog baie lesers wat verkies om die harde kopie te lees. Dit was nie net vir ons as personeel van die tydskrifte wat toegemaak het ʼn slag nie, maar ook vir die lesers. Ons het in daardie tyd soveel boodskappe van lesers gekry wat nie kon glo hul leesstof is nou daarmee heen nie. Ek glo ons gaan weer al ons lojale, asook nuwe lesers wen.”

Anlie is passievol oor Afrikaans en wil nie hê dit moet ooit ’n stille dood sterf nie. Daarom is sy verheug dat rooi rose tot Afrikaans se voortbestaan kan bydra.

Anlie vertel dat sy sewe maande lank werkloos was nadat die tydskrifte toegemaak het.

“Werk in die Afrikaanse media is maar skaars. In Desember 2020 het ’n aptekersvriendin my genader om haar by ʼn “integrerende” apteek wat pas by ʼn privaat praktyk oopgemaak het, te kom uithelp. Ek het nog nooit pille getel nie! Maar daar is seker ’n eerste keer vir alles. Ek het nege maande lank daar gewerk en die ervaring was wonderlik. Dit was ’n nuwe wêreld.”

Anlie het 20 jaar lank by Vrouekeur gewerk waar sy as ’n assistent begin het.

“Ek het al die werk gedoen waarvoor niemand lus was nie. Ek het nie omgegee nie, want ek wou leer en vir my ’n loopbaan in die tydskrifwêreld skep. Daar was byvoorbeeld nie ’n stilis nie en ek het my hulp aangebied – dit was nog altyd my droom om voorblaaie te stileer. Dit het ek tot die einde toe nog gedoen. Ek het ook met bemarking gehelp en artikels geskryf. Later was ek skoonheidsredakteur en het as besturende redakteur geëindig.”

Oor haar werksetiek sê sy: “Dis maar in my bloed om hardwerkend te wees. Ek wil dinge perfek gedoen hê, alhoewel ek weet dis nie altyd moontlik nie. Ek is seker wanneer ek na die eerste uitgawe op die rakke kyk, gaan daar dinge wees wat krap. Vandaar kan ’n mens net leer en verbeter.

“Ek het die bynaam “Hoofmeisie” gehad (Leon van Nierop het my so gedoop), want ’n sperdatum is ’n sperdatum en jy durf nie laat wees nie. Dit laat my bloed kook. Ek hou van vooruit beplan sodat daar ’n plan gemaak kan word sou iets skeefloop.”

Cindy Swanepoel, Hannon Bothma, Nadia Beukes, Marijke Coetzer, Reynard Slabbert van Bravo. (Foto: Michelle Bailie)

Gaan rooi rose verander, of gaan daar op die vorige resep voortgebou word?

“Ons gaan aanvanklik by die resep hou, met hier en daar ’n verandering. Ons sal mettertyd sien wat werk en wat nie werk nie en dan daarvolgens beplan. Die uitleg van die tydskrif gaan wel verskil. Lesers sal maar moet wag en sien!

“Lesers kan steeds stylvolle modes en dekor, smullekker resepte, lekkerleesverhale, blokraaie, sinvolle en aktuele artikels, rubrieke en ’n propvol tydskrif verwag. Daar gaan nuwe rubriekskrywers wees en ons kry onder meer afdelings vir brei/hekel, tuin en finansies by. Leon van Nierop skryf ons fliekrubriek soos net hy kan! Ons maak van gesoute joernaliste gebruik om uithalerartikels te skryf.

“Daar sal ook nog kortverhale deur bekende name wees, maar nuwe stemme gaan ook oorweeg word.”

Anlie die redakteur saam met Melinda Meyer van Ontbytsake en Alishia van Deventer, Starburst Promotions (Foto: Michelle Bailie)

Oor watter eienskappe dink Anlie moet ʼn goeie redakteur beskik?

“’n Goeie redakteur hoef nie noodwendig die beste skrywer te wees nie, maar moet weet wat sy/haar lesersmark sal wil lees. Om die regte artikels te eien is belangrik. ’n Goeie redakteur het nie altyd al die antwoorde nie, en daarom is dit belangrik om jouself met mense wat talentvol is en meer as jy weet, te omring. Jy moet altyd jou mark vir wie jy skryf in gedagte hou. ’n Leser moet agteroor met ’n tydskrif in die hand kan sit en terselfdertyd vermaak, ingelig, ontroer en geïnspireer word.”

rooi rose gaan teen R49,90 verkoop word. Dit word as waarde vir geld beskou vir ’n glanstydskrif met 130 bladsye propvol lekkerleesartikels,” sê sy.

Oor haar persoonlike lewe sê sy: “Dis net ek, my man en ons kat wat in ʼn klein tweeslaapkamermeenthuis in Randburg woon. Dis perfek vir ons, want ons het niks meer nodig nie. Ons kan hoogstens ses vriende op ’n keer op die stoep onthaal. Intieme kuiers bly die lekkerste.

“Ek is mal oor oefen en probeer ook gereeld draf, maar die laaste maand was dit ’n luukse omdat die tydskrif my so besiggehou het. Om net jou tekkies aan te trek en in die vars lug verby die groen bome en singende voëltjies te hardloop, gee my nuwe krag. Dit is juis draf wat ek glo my deur my morbiede, werklose dae gehelp het.”

  • Die eerste uitgawe van die nuwe rooi rose sal van 17 Desember 2021 beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Toy ·

Bly vir Rooi Rose. Het groot geword met Rooi Rose tydskrifte in ons huis, my ma leef nie meer nie, maar was versot op al die tydskrifte en ek net so.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.