SA spog met twee van die lekkerste strate ter wêreld

Die noordelike aansig van Smithstraat in Melbourne, Australië. Die straat is as die byderwetse straat in die wêreld aangewys. (Foto: Nick-D / En.Wikipedia.org)

Wat maak ʼn straat in 2021 cool? Beslis smaaklike kos, kultuur, hope pret en ʼn hegte gemeenskap – en ʼn kroeg op ʼn dak wat uitkyk oor die stad is alles deel daarvan.

Die redakteurs en skrywers van Time Out het vroeër die maand 27 000 stadsbewoners, plaaslike kenners en gidse gevra om hulle 30 gunsteling-strate in die wêreld aan te wys. Suid-Afrikaanse strate het ook vanjaar se lys gehaal.

Time Out het 7de Straat in Melville, Johannesburg, vir die tweede keer benoem vir sy oorvloed van kroeë, kuierplekke en restaurante, asook ʼn sterk gemeenskapsgevoel. Die straat het vanjaar die 12de posisie op die lys van 30 strate behaal.

Die indeks beveel die seekos by Xai Xai aan of sê jy kan gaan dans en skemerkelkies drink by Liquid Blue. Amateurkunswerke is ook langs die straat te koop.


7de Straat in Melville is in die 12de posisie. (Foto: Tripadvisor.co.za)

Hoofweg in Kalkbaai het die 22ste plek op die lys gehaal. “Die hoofstraat in Kalkbaai is magies. Jy stap verby historiese geboue met ʼn see-aansig en kan net anderkant die treinstasie ʼn rusplekkie in die son vind.”

Kenners beveel The Brass Bell-restaurant aan vir sy seekos, maar meld ook sy openbare getypoel waarin ʼn mens kan gaan afkoel. Gaan eet die plaaslike weergawe van vis en tjips by Kalky’s of gryp ʼn stuk koek en koffie by Olympia Café.

Volgens die gids kan jy dié straat in die middel van die week gaan verken as jy die skare wil vermy.

Olympia Café is net die plek vir koffie en koek in Kalkbaai se Hoofweg. (Foto: SA-Venues.com)

Time Out se coolste straat vir 2021 is Smith Street in Melbourne, Australië, gevolg deur Barcelona se Passeig de Sant Joan in Spanje. Die derde plek op die lys van eietydse strate is deur South Bank, Londen, verower.

  • Besoek Time Out vir die volledige lys van 30 strate.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Stof ·

Viva Sewende straat! ‘n Gereelde besoek daar is beter terapue as enige sielkundige se taktiek.
Van die straatsmous met sy draad en krale diere tot die groot pienk welsynswinkel en die die wegkruip burger-winkel om die hoekie, herstel enige moë gees.
Mag Melville se karakter vir altyd behoue bly.

Cherokee ·

Ek woon in ‘n straat op ‘n skiereiland, met uitsig op die see deur elke venster. ‘n Woonstel hoog bo die grond met die hawe aan die kant waar die kombuis is en die Indiese oseaan aan die sitkamer se gedeelte. Die poort waar die skepe die hawe invaar en verlaat, is aan die Oostekant.

E ·

En was daar nie ‘n lelike skietery met mense dood in Melville nie? Ek weet nie watter straat nie, maar dit was in die aand – dalk nog oujaarsaand. So nie te seker ek sal daai plekke in die aand besoek nie.

Elinette ·

Klink asof niemand hulle hier aan Vlak 3 inperkingsreëls steur nie …

VaalDonkie ·

My straat is die beste want hier braai al die bure saam en ons ken mekaar op die naam. Ons woon in ‘n slot (dis nou ‘n cul-de-sac) en vrydae ruk ons braai uit en elke ou staan voor sy eie erf of ons doen dit sommer in die middle van die slot afhangende van die heersende COVID-regulasies. Geen straat vol restaurante gaan beter as dit wees nie.

En nee, sorry daar is geen oop plekkies nie. Ons is vol.

Chantel ·

Ag nee sies vir jou VaalDonkie, hier spog mens nie so nie. HEHEHE

Pandora ·

Miskien moet ons volgende jaar vir die hoofstraat in Dullstroom nomineer – dis nou ‘n lekker kuierplek – van een kant van die dorp dwarsdeur tot anderkant, met kuns winkels, handgemaakte skoene, ‘n kaaswinkel en baie lekker eetplekke.
Geluk aan Kalkbaai en Melville!

Annamarie ·

Kan jy nou glo, dat daar nog strate in SA is, wat so, skoon kan wees, ongelooflik!!!

Stephen ·

As Namibier is ek nie baie mal oor Johannesburg nie, maar 7de Straat Mellville het van die lekkerste kuierplekke in SA. Horatios is nou wel nie in 7de straat nie maar was vir baie jare ook as die beste vis en seekos restaurant in SA benoem .
n Kuier in 7de straat laat jou glad nie voel jy is in een van die rofste stede in die wereld nie. Hoop dit bly so!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.