Sagtewareontwikkelaar Jan-Hendrik se nuwe vakleerling in Frankryk

Martin Bester, Jan-Hendrik van der Westhuizen en Simphiwe “Sims” Kubeka. (Foto: Verskaf)

Simphiwe “Sims” Kubeka was minder as twee jaar gelede ʼn gewone sagtewareontwikkelaar wat daarvan gedroom het om eendag ʼn loopbaan uit sy passie vir kos te maak.

Danksy sy harde werk, vasberadenheid en die hulp van ʼn paar “engele” gaan die aspirant‑sjef binnekort sy tassies pak en by die wêreldbekende Suid-Afrikaanse sjef Jan Hendrik van der Westhuizen se restaurant in die suide van Frankryk as vakleerlingkok aansluit.

Kubeka, ’n 26-jarige van Midrand, Gauteng, het destyds gekies om wiskundige statistiek te studeer, hoewel sy passie nog altyd die kombuis was.

Hy het sonder enige professionele kookopleiding aan die mees onlangse aflewering van Master Chef SA deelgeneem met die doelwit om minstens die top-vyf te haal en sodoende aan sy familie te bewys dat kosmaak nie net ʼn stokperdjie vir hom is nie.

Sy borrelende persoonlikheid en doelgedrewenheid om nie vir die ander, meer ervare deelnemers terug te staan nie, het talle kykers se harte gesteel.

Die amateur het aan die einde vierde uit die kombuisstryd getree en professionele kookkunsopleiding in Frankryk nagestreef.

Kubeka het met die hulp van sy meisie, Kayla Domnakis, ʼn skarebefondsingsinisiatief begin en kon reeds met ʼn gedeelte van sy opleiding begin, maar sy geld is nie voldoende om al die nodige kwalifikasies, wat hom meer as R800 000 uit die sak sou jaag, te voltooi nie.

Kubeka het aan Master Chef SA deelgeneem. (Foto: Simphiwe Kubeka/Instagram)

Domnakis het namens Kubeka die Jacaranda FM se Good Morning Angels-span genader vir moontlike hulp, maar die radio-engele het ʼn groter verrassing vir die belowende sjef in gedagte gehad.

Van der Westhuizen, wat ook ʼn beoordelaar tydens Kubeka se tyd op Master Chef was, het hom tydens sy Good Morning Angels-insetsel in die ateljee verras en hom genooi om vir drie maande sy aan sy saam met hom in die suide van Frankryk as vakleerling by sy bekroonde restaurant te gaan werk.

“Professionele opleiding is natuurlik ʼn baie groot voordeel, maar ek sê dikwels aan jong aspirant‑sjefs dat praktiese ervaring soveel meer vir jou kan beteken,” het Van der Westhuizen op die lug gesê.

Hy het verder aan ʼn emosionele Kubeka gesê sy internskap, waaronder die koste van retoervlugte na Frankryk, verblyf én ’n salaris heeltemal betaal sal word sodat Kubeka daarop kan konsentreer om sy passie vir kos in ’n loopbaan te ontwikkel.

Hy het die jong Johannesburger egter gewaarsku dat die ervaring nie ʼn maklike een gaan wees nie.

Jan-Hendrik van der Westhuizen. (Foto: Verskaf)

“Kombuise is nie maklike ruimtes nie, maar dit is die geleentheid om dit op jou CV te plaas en dit kan selfs meer deure oopmaak as wat enige diploma ooit kan doen.”

Maroela Media het vroeër berig dat Van der Westhuizen se restaurant in Frankryk, Jan, onder meer eg Suid-Afrikaanse disse wat deur sy ouma geïnspireer is, aan fynproewers bedien. Dié voormalige inwoner van Middelburg spog met geregte soos mosbolletjies, Kaapse saadbrood, mossels, malvapoeding en biltong op sy spyskaart. Sy restaurant het plek vir slegs 28 mense op ʼn slag en is ook in 2015 in Condé Nast se lys van 18 toprestaurante in die wêreld aangewys.

Dit is nog nie duidelik wanneer Kubeka au revoir vir Suid-Afrika gaan sê nie, maar hy het in ʼn Instagram-plasing geskryf dat hy ná dié verrassing “elke dag een lewensveranderende tree op ’n slag” gaan neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Op die 2de foto van Jan-Hendrik in die wit t-hemp lyk hy net soos Ruan Combrick die rugbyspeler.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.