Sak en as is te duur vir ons

(Foto: Artiom Vallat/Unsplash.)

Deur ds. Koos Kirsten

Jare gelede het die enigste vulstasie op ’n plattelandse plekkie, kort ná dit geopen het, afgebrand. Tot op die grond. Al wat oorgebly het, was verwronge staalkolomme, dakkappe en ander onherkenbare skrootmetaal. ’n Paar dae later het ek daar verbygery en gesien dat ’n klompie mense besig was om die plek op te ruim. Ek het stilgehou en, miskien ’n bietjie nuuskierig, nadergegaan. Daar het ek vir oom Jack Ungerer, die bestuurder, ontmoet. Ek wou weet of hulle weet wat die oorsaak van die brand was. Hulle het nie geweet nie. Ek het gevra wat hulle nou gaan doen. Oom Jack het geantwoord dat hulle die plek gaan herbou. Het julle versekering gehad? wou ek weet. Nee, hulle het nie, het hy daarna gesê. Maar, hoe dan nou? Die antwoord wat hy daardie dag vir my gegee het, sal ek nooit vergeet nie, want dit het my diep laat nadink. Hy het gesê dat hulle moet opstaan en weer voor begin, want sak en as is te duur.

Sak en as is te duur…

Wat staan ’n mens te doen as alles waarvoor jy gewerk het, verwoes is? As ’n ramp jou getref het en daar niks oor is nie? As alles tot op die grond toe afgebrand het? Of – soos dit nou met baie mense gebeur – as die grendelstaat sy tol eis? Jy of jou huweliksmaat het jul werk verloor en die vooruitsig van ’n nuwe werk lyk besonder sleg. Al die rekenings en die skoolfondse moet betaal word. Die bank begin harde geluide maak oor jou skuld. Wat gaan jy doen? Gaan jy in sak en as bly sit?

Nee, want sak en as is te duur!  Sak en as sorg nie dat daar kos op die tafel kom nie, sorg nie vir ’n inkomste nie. Sak en as bring nie hoop nie en maak nie jou hande en knieë sterk nie. Dit laat jou nie opstaan om weer voor te begin nie. Sak en as laat jou moed en hoop verloor. ’n Mens kan baie dinge verloor en prysgee, maar as jy hoop en moed verloor, is jy, om dit so te stel, hopeloos verlore en op moedverloor se vlakte. Dan het jy nie iéts verloor nie. Jy het jousélf verloor.

Ons lees in Handelinge 27 van ’n klomp mense wat skipbreuk gely het. Onder hulle was die apostel Paulus. Hy was as ’n gevangene op pad na Rome om voor die keiser te verskyn. Hy moes deur die keiser verhoor word oor sy geloof in Jesus Christus. Op pad daarheen ly hulle skipbreuk. Die skip het dae lank op die see rondgedobber. Rigtingloos en onbeheersd. Die wind het hulle voortgedryf, maar niemand kon sê waarheen en hoe lank nog nie. Veertien dae lank het almal op die skip gevas en tot hul onderskeie gode gebid in afwagting dat hulle gered sal word. Toe staan die apostel Paulus op sê aan almal dat hulle moet eet, sodat hulle hul liggaamskragte kan herwin. In hul teenwoordigheid het hy brood geneem, God gedank en begin eet.

Hierdie enkele daad van hom het die ander mense laat moed skep. Hulle het ook geëet en daarna aan die werk gespring om die skip ligter te maak, sodat dit makliker na die strand kon dryf. Uiteindelik het almal ongedeerd aangeland. Niemand het verdrink of aan enige beserings beswyk nie. Een gelowige man se optrede het baie ander mense laat moed skep, met goeie gevolge.

Hy het nie in sak en as bly sit en gevas nie. Deur die geloof het hy het opgestaan, geëet en begin werk. Die omstandighede was, menslik gesproke, teen hom. Die skip was besig om te vergaan en sou binnekort in stukke breek en sink. Die storm wou nog nie bedaar nie.

Ds Koos Kirsten en sy vrou. (Foto: Verskaf.)

Ons is nou in Suid-Afrika in ’n spreekwoordelike storm. Nog nooit het so iets ons getref nie. Ons “skip” is besig om te breek en te sink. Die vooruitsigte lyk glad nie goed nie.

In hierdie omstandighede wil ek julle almal aanmoedig om moed te hou. Versterk jou geloof met die middele wat die Here vir ons gegee het en skep moed. Gebruik die bietjie wat jy het, so oordeelkundig as moontlik. Moenie dat jou omstandighede jou geestelik en fisiek so aftakel dat jy tot niks in staat is nie. Moenie in sak en as gaan sit nie. Begin deur die Here te dank vir dit wat jy nog het en skep moed. Gebruik jou kragte en vermoëns om iets positief te doen.

As ons almal deur die geloof, met die oog gevestig op Jesus Christus, begin doen wat ons hand vind om te doen, kan ons weer opstaan en aangaan. Ons kan mekaar laat moed skep en mekaar aanspoor om weer te begin bou aan iets moois en blywend.

Ons kán en móét opstaan en weer begin en aanhou bou en werk, want sak en as is te duur!

  • Ds. Koos Kirsten is ’n emeritusleraar van die Gereformeerde kerk Mosselbaai. Hy en sy vrou, Rika, en hul kleindogter woon sowat 5 km buite Orania. Hulle ondersteun Orania heelhartig en beplan om later in die dorp te gaan woon. Hy preek nog gereeld in die Gereformeerde kerk Douglas, die Gereformeerde kerk Oranjerivier en die Dordtse Gereformeerde Kerk in Orania. Hy gee ook bybelonderrig aan die graad 10- tot 12-klasse by die Christelik-Volkseie Onderwys (CVO)-skool in Orania.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tong in die kies ·

Sak en as word ook in die woord gebruik om jou te verneder voor die aangesig van God in tye van beproewing. Deur in jou binnekamer af te sonder.

Vrijburger ·

Dankie “Sak en as is te duur” is ‘n gesegte wat by my gaan vassteek.

OW ·

Baie insiggewende skrywe ds Kirsten,en ek glo dat sak en as nie ‘n opsie vir gelowiges is nie.Ek kry egter die gevoel dat die Kerklike leierskap in Suid-Afrika in sak en as sit.Ek hoop regtig dat ek verkeerd is.Ek kry die indruk dat die Kerklike leierskap besig bly met funksionele werk in plaas van uitvoerende sake wat van belang is op daardie vlak van bestuur.Wanneer het die Kerklike leierskap met die Regering beraadslaag oor die die golf van misdaad,korrupsie,noem maar op.Dit sal ‘n kwade dag wees as die Kerk sy uitvoerende pligte,van watter aard ook al versuim om uit te voer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.