Sewe dekades vir twee formidabele vroue

Antoinette Kellerman (Foto verskaf)

Antjie Krog en Antoinette Kellermann word albei vanjaar 70. In die teaterproduksie, Die oerkluts kwyt, gee jy vir 75 minute oor terwyl “Antoinette Antjie se onsterflike woorde, deurdrenk in eerlikheid, erns, ironie, genade, liefde en al die hot flushes en cold turkeys tussenin, vertolk”, verklaar die sinopsis. Maryke Roberts gesels met Antoinette oor die toneelstuk én oudword.

Ek sien die vertoning by die Suidoosterfees.

Die ligte doof. Die verhoog is ʼn swart doek met drie vroue: Antoinette links, Lungiswa Plaatjies en Nomapostile Nyiki van Ancient Voices regs, met verskeie tradisionele musiekinstrumente by hul voete.

Antoinette se kragtige stem dawer oor ons koppe in die halfdonkerte van die teater:

“Ek het skielik die drang om my palm vanuit die binnekant oop te soen, my neus in die kelk van lewenslyne te druk, my getroue ouerwordende liggaam te omhels en te sê: O lyf. O liggaam. Jy is my enige, my sag-geërfde, my oppigste moment… daar is geen eggo van lied, wat jy nie oor die jare na my toe bymekaar gemaak het nie. Jy het my geneem na die nabyste klank van aanraking, laat uitreik na die sleutelbeen van sterre, na ʼn sagte skrotum, na ʼn baba agterkop.

“Soveel van wat ek vir my liggaam wil sê, moet deurbrand in hierdie nag.

“Terwyl ek so langs die water onder boskasies van sterre sit, word ek diep bewus van hoeveel ek wat so behep is met vel, my lyf as gegewe aanvaar. Vergewe my o liewe lyf, dat ek altyd net aanvaar dat jy sterk moet wees, fiks, gesond, en maar net doen wat ek wil hê.

“En nou, hier in my sewentigste jaar, draai my ore skielik na binne om tekens op te tel van swakword, verraad, van ingee. Kyk, ek wikkel my wild-pompende hart versigtig los uit die drade van stres en angstigheid en fluister saggies in haar hartkamers: kalmeer.

“Jy het my gebring vannag na hierdie soom van lig. Rustig nou. Nooit weer sal ek sarsies angs op jou afstuur nie. Ek gaan jou vestig in vrede. Ek laat jou oud word in liefde, gee jou oor aan die los rokspante van wysheid, aan die kalm skoot wat na aarde ruik, my eenmalige snik van suurstof en siddering…”

Antjie Krog (Foto verskaf)

Die woorde kry vlerke in my kop. Die bewuswording van my eie verganklikheid kom sit vlak onder die vel. Ek weet nie wat my dieper raak nie: Antjie se ongelooflike woorde óf Antoinette se ongelooflike voordrag daarvan nie.

My algehele oorgawe − of soos die program beloof het,  dat jy “ontvlerkd gelaat sal word” − is tweërlei: Antjie se eerlike, gestroopte woordgebruik laat jou opnuut jou liefde vir Afrikaans beséf; en feeshou gee geleentheid om geestelik deur sulke werke gevoed te word.

Albei vroue is wyd bemind en veelbekroond. Erentia Bedeker skryf in ʼn resensie oor die vertoning by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees 2022: “Hulle balanseer die kontras van vroulike weerbaarheid en onverskrokkenheid in elke hand.”

Sy skryf ook: “Die soeke en drang om haar eie bestaan, haar mense, haar land en taal in woorde om te sit en só beter te probeer verstaan; is iets wat Krog se werk deurspek met eerlikheid en rou emosies wat nie mooi versier word nie. Weerbaarheid is hier geen teken van swakheid nie. Dis om jou eie menslikheid en feilbaarheid in die oë te kan kyk, te omarm en te transendeer tot tydlose vrouwees.”

Die produksie is verlede maand met twee Kanna-toekennings vereer, vir uitnemende literêre bydrae (Frieda van den Heever) en beste vroulike byspeler (Ancient Voices).

Antoinette vertel dat Antjie se skryfwerk bewondering en respek by haar ontlok. “Sy het die moed om so baie van my eie politiese gevoelens in woorde uit te druk. Ek kan geheel en al vereenselwig met haar liefde vir die land, sy mense, haar familie en gesin en grond en die natuur. Haar woorde en beelde ontroer en laat my ‘tot die sinne toe verruk van kleur en taal’.”

Maar hulle ken mekaar nie. Hulle het ʼn professionele werksverhouding oor die jare opgebou.

Sy vertel dat sy Antjie se werk eers gedurende haar studentejare ontdek het en sedertdien ʼn groot bewonderaar is. “Ek het met verskeie van haar toneelvertalings gewerk. Ek was ook betrokke by ʼn toneelstuk, ʼn Ander Tongval, waarin ek haar ma, Dot Serfontein, gespeel het. Asook ʼn soloproduksie oor Dot Serfontein, My Mense.

Met Antoinette se eie 70ste jaar, wonder ek of die pragtige woorde van Antjie oor ouer word net nog woorde was om te leer en of dit ander voorbereiding geverg het omdat dit so met haar eie ouderdom resoneer. Sy sê met elke rol wat ʼn mens vertolk, is daar ʼn deel van jou eie lewenservaring en perspektief betrokke. “Oerkluts het dieselfde navorsing, ontleding en toepassing as ander rolle vereis.

Antjie was ten gunste van die projek en het na ons eerste gesprek ʼn monoloog geskryf oor ouderdom en toekomstige versugtinge. Dele daarvan verskyn in die teks. Sy was op geen ander manier betrokke by die produksie nie. Sy het dit by KKNK gesien en ʼn mens kon aflei dat sy tevrede was.”

Antoinette sê soos met enige teks, dikteer die inhoud. “Hier het ek egter nie met ʼn karakter gewerk nie.Ek het nie Antjie Krog gespeel of probeer wees nie, en haar woorde moes en het die hoofkarakter geword. Ek moes suiwer woord vertolk en dit in klank weergee. Sonder medekarakters moes die dialoog tussen my en die Ancient Voices die narratief oordra en uit die aard van die saak anders benader word.”

Antoinette Kellermann in “Die oerkluts kwyt”. (Foto verskaf)

Dis baie woorde, diep gedagtes en beelde. ʼn Mens wonder hoe jy kophou om nie woorde te ruil of te vergeet nie. Sy verduidelik dat hierdie teks nie ʼn deurlyn soos byvoorbeeld ʼn drama- of komedieteks het nie, en dat verskuiwings en oorgange tussen die uiteenlopende verskeuses konsentrasie en goeie fokus verg.

“Met die eerste paar vertonings by KKNK het ek ʼn hele paar keer Antjie se verse herskryf en tot my skaamte in een opvoering ʼn baie mooi gedeelte gesny,” erken sy.

Antoinette het ʼn diepe dankbaarheid dat daar weer lig aan die einde van die pandemie-tonnel blyk te wees. Sy vertel: “Ek was tot dusver gelukkig om die virus vry te spring. Maar die sluit van teaters en die afstel van gekontrakteerde projekte, was ʼn groot slag − soos vir die meeste mense in die land. Die toekoms was net donker en ek wou nie hoor dat ‘dit weer sal regkom’ nie.  Die voordeel was dat ek vir twee jaar 24 uur van die dag by my man en huis kon wees en alles kon doen wat ek wou en teen my eie tempo.”

Hulle woon sedert haar aftrede as professor op Stellenbosch op Laaiplek aan die Weskus. Sy lees baie, stap met hul honde, werk in die tuin en droom van ʼn vaste teatergeselskap in ʼn vaste ruimte, waar sy elke dag aan ʼn toneelstuk kan gaan werk − saam met ander spelers.

Vanjaar vier sy 47 jaar as aktrise. Sy sê dat sy soms vergeet dat sy as dosent betrokke was by die Universiteit van Stellenbosch se drama departement − dit voel so ver in die verlede. “Maar ek sien so baie van die studente op televisie of die verhoog en dan mis ek die kontak met jongmense en onthou hul groei- en ontdekkingsreise.

“Aangesien ek eers weer in 2022 myself as ʼn deeltydse werkende toneelspeler kan sien, bring die vooruitsig van toneelspeel ʼn kalm genot en diep dankbaarheid.”

Ek wonder hoe sy oor toneelspel voel? Of sy soos Antjie se teks voorskryf: op ʼn plek in haar lewe is waar sy haar hart tot kalmte en stresloosheid kan maan?

“Ek probeer. Na twee jaar van donkerte, lyk dit of ek hierdie jaar ʼn paar speelkanse gaan kry, en dit is al wat ʼn mens nodig het om die angs te besweer.

Sy erken dat die angs voor ʼn vertoning daar is en oor die jare toegeneem het. “Solovertonings is die ergste, alleenste. Ek probeer myself oortuig dat ek op die verhoog wil gaan, dat dit my werk is, dat ek dit gekies het en dat ek soos Antjie se woorde ‘… nêrens elders wil wees nie…’ Die oomblik wat ek my voete op die verhoog sit en die gehoor se teenwoordigheid en asemhaling voel, kalmeer my hart tot ʼn mate en gee ek my oor aan die genot van my werk.”

Oor oudword voel sy effe anders. Sy vertel: “As ek in die spieël kyk, skrik ek dikwels, want ek sien ʼn gehawende en verweerde gesig. Maar as ek in my spieëlbeeld se oë kyk, sien ek ʼn wêreld van geleefde menswees. Dán is ek nie meer so behep met my voorkoms nie.

“Ek weet nie juis hoe ʼn mens op 70 moet voel nie. Ek het ʼn taai 70 jaar agter die rug en my ledemate en spiere maak hul stemme gereeld dik. Maar ek probeer gesond leef en eet. Ek stap, ry fiets en doen Pilates,” vertel sy.

Met bykans vyf dekades op haar kerfstok, kyk sy terug op rolle – ook dié wat sy nie gespeel het nie − toekennings en vererings en verklaar: “Elke rol is die een wat ek my hele lewe nog wou speel. Daar is egter dalk hier en daar ʼn rol wat ek voor ek doodgaan sou wou speel − ten spyte van my geslag of ouderdom. Daar is miskien een rol waarvoor ek ‘nee’ gesê het waaroor ek spyt is. As ek egter nou terugkyk, was dié besluit − wat eintlik namens my geneem is − die regte een.

Sy glo nie aan spyt nie en sonder ook nie een toekenning as meer kosbaar as ʼn ander uit nie. “Alles wat ek gedoen het, beleef en ervaar het, was ʼn keuse en is wie en wat ek vandag is. Elke toekenning − as dit werklik verdiend is − beteken op daardie tydstip baie.”

Oerkluts speel vanjaar ook by Aardklop. Die idee met die projek was ʼn tipe toerproduksie, wat in ʼn verkorte of kleiner formaat in geskikte ruimtes kon speel. Hopelik is daar nog vertonings van Oerkluts voor die einde van die jaar”, vertel Antoinette.

  • Foto’s: Hans van Veen (Die oerkluts kwyt) en Antjie Krog, Antonia Steyn (US Woordfees).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.