Skenking gaan verskil vir kinderhuis maak

Kobus Vorster, bestuurder van die President Kruger-kinderhuis en Moné Bothma, handelsmerkbestuurder by Virseker. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“ʼn Belangrike hoeksteen van ons betrokkenheid by enige inisiatief is dat dit altyd ʼn groter doel moet hê en hoe beter om Afrikaans te ondersteun as om die kinders wat dit praat te help en dien.”

Só sê Moné Bothma, handelsmerkbestuurder by Virseker, wat vandeesweek as deel van hul Herlaai-musiekfees‑borgskap die President Kruger-kinderhuis in Pretoria met ʼn skening van R50 000 verras het.

Dié trots Afrikaanse versekeringsmaatskappy is vanjaar ʼn hoofborg van die Herlaai-musiekfees, ʼn nuwe konsertreeks wat die land plat toer met kunstenaars soos Refentse, Spoegwolf, Bok van Blerk, Elandré en vele meer. Rex van Deventer, ʼn bekende naam in die Afrikaanse konsertbedryf en uitvoerende vervaardiger van dié konsertreeks, ondersteun ook deurlopend dié kinderhuis met die verskeie inisiatiewe waarby hy betrokke is.

“Dit is vir ons lekker om as ʼn borg saam met Rex terug te gee aan die gemeenskap en ʼn verskil te probeer maak,” voeg Bothma by.

Die versekeringsmaatskappy het ook deur hul eie Virseker Trust reeds meer as R90 miljoen spandeer om behoeftiges én instansies soos Akademia, die Rapport-onderwysfonds en die Vereeniging van Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) te ondersteun.

Volgens Kobus Vorster, bestuurder van die President Kruger-kinderhuis, dek die staatsubsidie wat hulle maandeliks ontvang slegs 30% van hul koste. Die ander 70% moet hulle self insamel.

Dié koste sluit onder meer onderrig, terapeutiese dienste, vervoer, buitemuurse aktiwiteite, mediese uitgawes en instandhouding in. Maroela Media het vroeër berig dat die kinderhuis se munisipale uitgawes alleen sowat R70 000 per maand beloop.

“Ons het dieselfde koste as enige huishouding; ons is natuurlik net tien keer groter,” sê Vorster.

“Daarom is ons uiters dankbaar vir die hulp wat ons van Virseker ontvang het, dit gaan ʼn aansienlike verskil maak en ons help met van ons dag-tot-dag‑uitgawes.”

Die President Kruger-kinderhuis kan 63 kinders tussen die ouderdomme van twee en 18 jaar huisves. Daar is tans 58 kinders in hul sorg, van wie drie studente en die jongste sewe jaar oud is.

Besoek die kinderhuis se Facebook-blad of webwerf om vas te stel hoe jy kan hier kan help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.