Skud jou vere reg om vir slegs R21 teater toe te gaan

In ‘Amanda Strydom: Piaf’ sing dié immergewilde sangeres sewe van Edith Piaf se bekendste liedere. (Foto: Verskaf)

“Toe die Suidoosterfees 21 jaar gelede begin is, was bekostigbaarheid en toeganklikheid tot die kunste boaan die stigters se prioriteitslys. Vanjaar word dié belofte danksy ruim ondersteuning van borge en individue op ʼn besondere wyse nagekom,” sê Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die fees.

Ter viering van dié besondere mylpaal, word ʼn reeks van 21 teaterproduksies beplan wat teatergangers slegs R21 sal kos. Die vertonings, wat elk 21 minute lank is, spog met uitsoekkunstenaars wat van 26 April tot 1 Mei in Kaapstad se Artscape te sien is.

Kunstenaars in verskillende genres is genader om deel van die 21-projek te wees, en dit sluit onder meer opera- en kontemporêre sangers, akteurs, dansers en komediante in.

Produksies met komiese karakters wat op sosiale media beroemd geraak het, verkoop reeds soos soetkoek. In Bettie innie selle beland die nimlike Aunty Bettie, gespeel deur Dean Smith, tussen geharde misdadigers in ʼn aanhoudingsel. Dit kom nadat sy in hegtenis geneem is, maar met haar skerp tong kom die kriminele natuurlik sleg tweede.

Veronique Jephtas is te sien as Mavis vannie Lavis in Chronicles vannie Lavis, wat op die skrywes van dié supergewilde en omstrede Facebook-persona gegrond is. Margit Meyer-Rödenbeck bring die beminde Dowwe Dolla se ouma, wat haar bejaarde wyshede, sommer ongevraagd, met die jonger geslag deel, na die verhoog in Ouma weet …

Liandé Valentyn en Gary Naidoo verskyn in Rajee & Fatgiyah se show met komedie uit die hart van die Bo-Kaap. Die gesoute Daily Maverick-joernalis en komediant Marianne Thamm inspireer gehore met lesse oor demokrasie in Speed Politics for Bewildered South Africans.

Musiekliefhebbers kan nader skuif vir Amanda Strydom: Piaf, waarin dié immergewilde sangeres sewe van Edith Piaf se bekendste liedere sing. Die Kaapse koerant Son, wat vanjaar saam met die Suidoosterfees mondig word, bring Galaxy na die 21-verhoog met Nic Miso, William Jacobs en musikante van die legendariese Galaxy-klub.

Frazer Barry, Charlton Davids en Deniel Barry gee ʼn satiriese blik op die manier waarop woorde betekenis in die wêreld kry. In Lipkap klik en klap die tonge behoorlik, onder meer in Khoekhoegowab.

Lynelle Kenned (Foto: Verskaf)

In Ontban sing Corneil Müller en Lynelle Kenned liedjies wat voorheen verban was, en This is home spog met Sima Mashazi en Ramon Alexander se pragtige musiek uit hul onderskeie grootword-wêrelde.

Opera en klassieke musiek word ook uniek in die 21-reeks verpak. Janelle Visagie is in Bon appétit! te sien. Dit is ʼn boeiende kortopera gebaseer op Julia Child se dekadente sjokoladekoekresep. AGL Opera bring Operetta Odyssey na die verhoog met tydlose melodieë van Johann Strauss II en Franz Lehár. En in Vivaldi’s Four Seasons: Snapshots vier Roxane Steffen, Petrus Coetzee en Ralitza Macheva die jaarseisoene soos wat gehore nog nie tevore ervaar het nie.

Internasionale Dansdag, wat elke jaar saam met die Suidoosterfees val, word met drie opwindende dansproduksies gevier: Listen to my hands met lede van Unmute Dansteater, Unbound met Jazzart-dansers en POV: Point of View, aangebied deur Figure of 8 Dance Collective.

Kabaret bly ook nie agterweë nie. Miché van Wyk en Vihann van Rooyen takel kerksake op die platteland in Konsistorie – ʼn kabaret. In Club Cabaret sluit akteurs van die Koningstheateracademie in Nederland aan by Lukhanyiso Skosana en Lungile Lallie vir lekker ondermynende vermaak.

Besoek die Suidoosterfees se webwerf vir die volledige feesprogram. Kaartjies kan bespreek word by Webtickets, of skakel Artscape Dial-a-Seat by 021 421 7695.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.