Stigting plaas kollig op geslagsgeweld, mensehandel

Adv. Gerrie Nel spreek die vroue toe tydens ‘n ontbytgeleentheid in Pretoria. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

“Dis belangrik dat slagoffers van geslagsgeweld sal uitreik na ander en aanhou praat totdat iemand luister.”

Dít was Vrydagoggend die boodskap van adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, tydens ʼn ontbytgeleentheid wat deur die B Loved-stigting in Pretoria aangebied is.

Die B Loved-stigting fokus daarop om minderbevoorregte gemeenskappe en kwesbare individue in die samelewing te ondersteun met programme wat onder meer voedingskemas, jeugontwikkeling en die bekamping van mensehandel insluit.

Nel was die haan onder die henne tydens die geleentheid wat hoofsaaklik deur vroue bygewoon is ter viering van Vrouemaand.

Nel se toespraak het hoofsaaklik oor geslagsgeweld, ʼn gepaste tema vir Vrouemaand, gehandel. Hy het vertel van sake wat deur sy privaateenheid vervolg word, aangesien slagoffers van geslagsgeweld dikwels deur die reg in die steek gelaat word.

“Ons ervaar talle uitdagings met wetstoepassers wanneer dit by die vervolging van oortreders van geslagsgeweld kom.”

Nel het verskeie sake waaraan sy span werk as voorbeelde genoem, insluitend dié van adv. Mpho Rasivhetshele, wat Donderdag in die landdroshof in Johannesburg getuig het nadat sy na bewering in Desember 2019 by ’n sosiale geleentheid deur ’n voormalige waarnemende regter seksueel aangerand is.

Hy het ook ʼn paar praktiese wenke gedeel vir mense wat slagoffers van geslagsgeweld of ander misdade is.

Die vroue is bederf met ‘n ontbyt wat voorberei is deur TV-sjef, Corli Botha. (Foto: Maroela Media)

“Jy is geregtig daarop om ʼn saak by die polisie aanhangig te maak, selfs al probeer hulle jou oortuig dat jou saak nie geldig is nie. Dit is jou reg om ʼn saak te maak. Voorts is jy ook geregtig op terugvoer van die polisie. Hulle werk is om die samelewing te dien, en daarom mag jy opvolg wanneer jy ʼn saak gemaak het,” sê Nel.

Hy het ook benadruk hoe belangrik dit is om ʼn selfoon te gebruik om enige misdade of gewelddadige aksies te dokumenteer.

“Selfs al dink jy iemand gaan die video’s en foto’s wat jy geneem het, kan uitvee, ons sal dit kan terugkry.”

Yolandi Venter, direkteur van die B Loved-stigting en Roxanne Mancini, bemarkingshoof, het die vroue toegespreek.

“Dit is ons organisasie se hart om mense se lewens te herstel en gebroke, kwesbare mense te bemagtig om hulle waarde te verstaan,” het ʼn emosionele Venter gesê.

Mancini het op die programme wat deur die stigting ontwikkel is gefokus. “Ons vat hande met doelgerigte organisasies en projekte om soveel as moontlik mense te ondersteun in die herstelproses van hulle lewens.

“Deur ons samewerking met dié organisasies het ons sedert 2008 talle lewens verander. Die goue draad wat deur al ons projekte loop is liefde, want die liefde maak alles heel, vergewe alles en oorbrug alles.”

Corli Botha, bekende TV-sjef van die kykNET-leefstylprogram Ontbytsake, het ʼn heerlike ontbyt voorberei terwyl Roastmasters vir die boeretroos gesorg het.

Die vroue het ook meer geleer oor kintsugi, die Japanse kuns om gebreekte erdewerk te herstel met gom wat met verpoeierde goud, silwer of platinum gemeng is.

Die Ontbytsake-span en B Loved het onder meer in Julie vanjaar kragte saamgesnoer om te poog om 6 700 liter sop te maak wat aan behoeftiges uitgedeel is.

Die B Loved-stigting is deel van The B4i-projek wat die oorhoofse maatskappy is waaraan Ontbytsake ook behoort. Die kameraspan van Ontbytsake het ook die geleentheid bygewoon en die insetsel sal op Saterdag 1 Oktober op kykNET uitgesaai word.

Vir meer inligting oor die B Loved-stigting besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.