Sy maak matriekafskeidrokke met haar tweede kans

Een van Jana Mynhardt se rokke wat sy vir ‘n matrikulant gemaak het. Foto: Verskaf.

Vir Jana Mynhardt van Riebeek-Wes in die Swartland was vrouekanker ’n geweldige skok, maar ook die eerste tree na ’n splinternuwe bedeling in haar lewe. Sy gesels met Sarie Marais-Nell.  

As jy op 40 “net gou” een eierstok laat verwyder, maar drie weke later ’n tweede, groter operasie moet kry …

Die eerste operasie wys jy het ovariumkanker en skielik moet jy ’n histerektomie kry en chemoterapie ontvang. Jy is naar, jy verloor jou hare en skrik vir jouself in die spieël. Jy verloor moed en dink heeldag aan jou kinders wat nog so jonk is en tussendeur wonder jy of jy emosioneel ooit weer hiervandaan sal kan opstaan.

Jy lees jou dogter se opstel: “ln hierdie huis doen ons kanker. Ons doen chemoterapie en siektes. Ons doen trane en pyn. Ons is bekommerd, maar ons hoop. Ons druk deur en ons bid. Ons gee nie moed op sonder om te baklei nie.”

“Dit slaan mens op jou maag. Want as ma wil mens so graag alle swaarkry van jou kinders af weghou. Ons seun Gerhard was pas klaar met matriek en moes my dikwels aanry vir chemoterapie. Angenita was 12.

“Omdat chemo-ure so stadig verbytik, het ek bedags bandannas vir my kaalkop-vriendinne wat in dieselfde stryd as ek verkeer, gehekel.

“Iemand vra of ek vir haar dogter ’n matriekafskeidrok sal hekel en my kop werk oortyd … Die afskeid is oor drie weke en ek besef dis onmoontlik, want chemo maak jou tot die dood toe siek en beroof jou van alle energie.

“Die menslike brein is ’n wonderlike ding. Enersyds die teleurstelling, om te moet nee sê vir ’n mede-chemopasiënt se versoek, andersins die spikkeltjie hoop, want skielik het ek ’n stukkie onderhandelingsvermoë in my hand. Te midde van alles wat negatief is, ontstaan ’n droom en die wilskrag om iets positiefs vir iemand te doen. En die klokhelder wete dat die lewe ’n baie groot geskenk is.

“Kort daarna lê ek ’n eed voor die Here af dat, as ek gesond word van hierdie kanker, ek jaarliks ’n matriekafskeidrok sal hekel vir ’n behoeftige meisie.

“Met hierdie gelofte kies ek léwe.”

Ses jaar later kan Jana terugkyk op sewe pragtige matriekafskeidrokke wat sy gemaak het vir meisies wat andersins ’n vreugdevolle matriekafskeid sou misloop.

“Nie almal is gehekel nie, want soms kom ’n kind eers twee weke voor die afskeid by my aan. Dan gryp mens lap en tower dit om tot iets pragtigs.”

Miskien was daardie eerste pienk kanterige rok die mooiste. Of die swart en silwerrok van die tweede jaar. Dalk die maroen en room-skepping? Of die ligbloue van 2018?

“Die rok moet by die dogter se geaardheid pas, en móét bietjie sexy wees, want hulle is jonk en mooi en vol lewe,” glo Jana. En nee, sy volstaan nie met slegs die rok wat soveel skeppende ure verg nie; sy en haar vriendin Nicolene Smit woeker tot die meisie toegerus is met skoene, grimering, ’n mooi haarstyl en kar vir die aand.

“My wonderlike man, kinders en vriendinne ondersteun die projek heelhartig. Maar vir ’n klein dorpie soos Riebeek-Wes raak dit ’n uitdaging, want ’n matriekafskeid is duur en borge is skaars. Net toe ek onlangs moedeloos raak, kry ek so ’n mooi Facebook-inskrywing en dan raak alles die moeite werd.”

Molison Afrikaner skryf: “Ek het ook gedroom van ’n perfekte matriekafskeid. Maar ek het geweet ons het nie geld daarvoor nie.

Ek het nooit ophou bid nie. Ouma het altyd gesê bid en bid nóg meer vir wat jy wil hê. En glo my, die Here het wonderlike mense op my pad gestuur om my droom te bewaarheid – die matriekafskeid waarvan ek net kon droom. As dit nie vir hulle was nie …

“Ek het so lief vir almal van hulle kom word [sic]. En die mooiste van alles is hulle behandel my of ek een van hul eie is. Ek word elke keer met oop arms verwelkom as ek gaan hello sê. Daar word raad gegee en soms hard ook gepraat, maar ek waardeer dit. Tannie Jana … ‘n engel uit die hemel. Ek is regtag [sic] so dankbaar vir haar. Sy het my rok ontwerp … Yes! Yes! Yes! … ’n ontwerpersrok vir mý! Die mooiste rok wat ek nog ooit gesien het!”

Was Jana voor haar kanker-episode ook so kreatief? “Ek het net goedjies vir my kinders en ’n plaaslike winkel gemaak. Eers toe ek my tweede kans kry, het ek voluit begin leef.

“Twee dinge het vir my uitgestaan tydens my kankerstryd: Ons is baie sterker as wat ons dink – onthou dit en vat alles een dag op ’n slag. Tweedens, jy móét iets merkwaardigs met jou lewe doen. Min mense kry ’n tweede kans.”

Dis nie net lippetaal nie: Jana tree gereeld op as Kansa-motiveringspreker, sy hekel en doen kunsnaaldwerk in vele vorms en moes onlangs die versiering van pragkoeke laat vaar omdat dit soveel tyd verg.

Intussen werk sy hard aan ’n uitdagende nuwe projek met suiwer katoen wat in organiese groentekleursels gedoop word. Dit word in Februarie amptelik bekendgestel.

“Dis ’n verrassende konsep, waarlik opwindend. As mens se drome en projekte jou nie bang maak nie, is jou droom nie groot genoeg nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Maria ·

sjoe heeltemal anders en eerste keer gesien van hekel dit regtig baie spesial wat dit word deur jou hande gedoen . Pragtig! hou aan! Mag Here jou seen met jou gawe!

Brenda ·

Jy is n inspirasie , vir my wat nie altyd die mooi raaksien nie. Ek het nodig gehad om die artikel te lees. Dankie!

Lize ·

Welgedaan Tannie.daai tweede lewe is voorwaar n seen.ek is gelukkig genoeg om my ma nog te hê waar sy ook bors kanker geveg het en n bors verloor het.dit is iets wat jy vir niemand kan beskryf nie ek self was nog op skool gewees .doe rokke is pragtig.mens lewe nog voluit na alles.

Adel ·

Wow, dit is van die mooiste rokke wat ek al ooit gesien het!

Erwee ·

Wat ‘n lekker-lees artikel!!! Baie dankie daarvoor. Welgedaan aan die brei-ende-engel!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.