Terugploeg se droom word werklikheid

Dirk van der Walt een van die stigters van WeBuyCars spit die eerste sooi op Terugploeg se grond langs die N4-hoofweg naby Rayton. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Die eerste sooi van Terugploeg se nuwe verpakking-, verwerking- en verspreiding-geriewe is Woensdag gespit.

Terugploeg se ontwikkeling is strategies langs die N4-hoofweg geleë, naby die Cullinan- en Rayton-afrit. Die sooispitseremonie is deur verteenwoordigers van Terugploeg se stigter-organisasies Atterbury Trust, Vibro Bricks en WeBuyCars sowel as ’n aantal donateurs, boere en konstruksiespanne bygewoon.

Lood Bester, ’n mede-stigter van Terugploeg, sê die idee vir die Terugploeg-organisasie het tydens die grendeltyd ontstaan. “Ons kon die groeiende kosnood in dié tyd in sekere Afrikaanssprekende gemeenskappe sien. Hierdie hulpbehoewendes het geen ondersteuning van amptelike bronne ontvang nie.”

Bester en sy vriende het ingespring en hulle informele voedsel-insamelingsaksies het vinnig momentum gekry.

Só is ’n netwerk van boere ook betrek. Boere van so ver as Letsitele en Groblersdal het betrokke geraak en tonne groente, vrugte en wildsvleis geskenk. Die voorraad is by Vibro Bricks in Pretoria afgelaai. Daar is die kos verdeel in kleiner porsies en met Vibro-bakkies by ouetehuise, kinderhuise en skole uitgedeel. Instansies is geverifieer om egte nood te bepaal en om te help waar dit die nodigste is.

Lood Bester, mede-stigter van Terugploeg, Zahn Hulme van die Atterbury Trust, Faan van der Walt van WeBuyCars, Louis van der Watt van die Atterbury-groep, Dirk van der Walt van WeBuyCars en Herman Marx van Vibro het saamgespan om die geriewe van Terugploeg ‘n werklikheid te maak. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Terugploeg het sodoende ontstaan as ’n netwerk van weldoeners wie se skenkings verantwoordelik bestuur word om voedsel aan weerlose Afrikaanse gemeenskappe te verskaf om honger te bestry.

’n Groter droom het ook mettertyd posgevat. Terugploeg se visie is nou om as ’n volhoubare organisasie te ontwikkel wat ook werk aan mense uit hierdie gemeenskappe kan verskaf, sodat hulle kan droom van ’n beter toekoms. Hoop, respek, vaardighede en geleenthede is geweldig belangrik vir hulpbehoewendes en Terugploeg kan hiermee behulpsaam wees.

Volgens Zahn Hulme, uitvoerende trustee van Atterbury Trust, pas Terugploeg gemaklik in by die ander liefdadigheidsprojekte wat die trust bestuur. “’n Maand of wat nadat Lood en sy vriend Herman Marx van Vibro Bricks die inisiatief van stapel gestuur het, het hulle met Louis van der Watt, Atterbury Groep se uitvoerende hoof ooreengekom om Terugploeg vanuit Atterbury Trust te bestuur.

Terugploeg het talle skenkings van mieliemeel ontvang. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

“Die voordeel van die verbintenis is dat die trust meer as twee dekades se ervaring van projekadministrasie vir liefdadigheid het, en oor die infrastruktuur beskik om sulke teruggee-projekte effektief te bestuur. Ons is trots op ons reputasie van betroubaarheid en deursigtigheid. Dieselfde geld Terugploeg.”

Die Terugploeg-onderneming het so vinnig gegroei dat dit reeds uit sy nate bars. “Ons het gou besef dat ons ’n goedtoegeruste en maklik bereikbare perseel nodig het om groot hoeveelhede kos op een slag te kan ontvang, verwerk, stoor en uitdeel,” verduidelik Bester.

“Ons het ook geleer dat die kontinuïteit van ’n bord kos elke tweede dag belangriker is as ’n hele wavrag voedsel wat op een slag afgelaai word by iemand wat in ’n Wendyhuisie woon – sonder ’n koelkas. As ’n boer ’n paar beeste of bokke skenk, moet ons dit in maalvleis kan verwerk en kan bêre sodat ons dit selektief kan uitdeel waar nodig.”

Faan en Dirk van der Walt, stigters van WeBuyCars, het hierdie groot struikelblok uit die pad gerol deur agt hektaar grond in die ooste van Pretoria aan Terugploeg beskikbaar te stel. “Vandag vestig ons hier ’n Terugploeg-hoofkantoor,” sê Bester.

Benewens die kosverwerking-fasiliteit en koelstoor, word ’n groente- en vrugtetuin beplan, asook ’n klerebank. Bester-hulle wil ook braaihout daar laat sny en verpak vir verkoop. “Al hierdie funksies het arbeid nodig; om die tuine te versorg, die kos te verwerk, die klere wat ons inkry te sorteer, was en stryk, die vragte hout te verpak in braaipakke… Dit is ’n lang lys. Só skep ons dus ook werksgeleenthede vir die mense uit die gemeenskappe wat ons dien.”

Verder word daar beoog om ’n lesingsaal in die gebou in te rig waarin kursusse en praatjies aangebied kan word om skoolkinders en volwassenes te inspireer met praktiese raad en opleiding, sodat hulle ook hul eie omstandighede self kan verbeter.

Terugploeg is formeel op 17 November 2020 in samewerking met GrootFM 90.5 as mediavennoot in die Atterbury Teater bekend gestel. Die geleentheid is deur sowat 200 kommersiële boere, potensiële donateurs en sakelui bygewoon. Aanbiedinge van ondersteuning stroom sedertdien in.

Hoe jy kan help

Aangesien die konstruksie van die Terugploeg-gebou binnekort begin, word skenkings in die vorm van konstruksiemateriaal verwelkom. Bakstene en sement, roldeure, matte, lugversorgers, kombuistoerusting, vleisverwerkingsmasjinerie, ensovoorts word dringend benodig.

Kontant-skenkings is altyd welkom

Atterbury Trust reik 18A-belastingsertifikate uit vir almal wat aan Terugploeg skenk, sodat die belastingvoordele van ’n skenking benut kan word.

As jy wil help of meer wil weet oor Terugploeg kontak Lood Bester by 082 925 1118 of Jani Doms by 076 313 7212. Stuur e-pos na [email protected] of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marianna ·

Wonderlik. Die Afrikaner sal nie gaan lê nie. Ons het dit deur die jare bewys. Dankie vir die sorg van ‘ons mense’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.