Transvaalkamer opgedra aan oudadministrateurs

Len Dekker en Mignon Hough sny die lint tydens die opening van die Transvaalkamer. (Foto: Verskaf)

Die Transvaalkamer, voorheen bekend as die Raadzaal by die Voortrekkermonument, is amptelik op Vrydag 24 September geopen as deel van die Erfenisfees wat verlede week op die terrein plaasgevind het.

Die Transvaalkamer word aan die oudadministrateurs van die Transvaalse Provinsiale Administrasie (TPA) opgedra.

Skilderye van oudadministrateurs soos JFB Rissik, FH Odendaal en dr. Willem Cruywagen, wat ook ’n voormalige lid van die direksie van die monument was, word in dié vertrek uitgestal. Danie Hough was die laaste administrateur van Transvaal.

Die groot tafel en statige stoele is in die vroeë 1960’s spesiaal vervaardig vir die raadsaal in die nuwe TPA-gebou in Pretoriusstraat, waar die administrateur en lede van die uitvoerende komitee dikwels vergader het.

Die hoofspreker by die amptelike opening van die Transvaalkamer was Len Dekker, die laaste direkteur-generaal van die TPA in Hough se administrasie. In sy toespraak het Dekker geleentheid gegee vir die oudpersoneel van die TPA om staaltjies te vertel uit die TPA-dae.

Dekker het ook die Voortrekkermonument bedank vir die inrigting van die Transvaalkamer.

“Dit is ’n deel van ons geskiedenis en ons is so dankbaar dat dit behoue sal bly deur die werk wat die personeel van die Voortrekkermonument hier gedoen het.”

Mignon Hough, weduwee van Danie Hough. (Foto: Verskaf)

Van die familielede van die oudadministrateurs, onder meer Hough se weduwee, Mignon Hough, het die geleentheid bygewoon. Volgens Hough was dit ’n voorreg om deel te kon wees van die geleentheid.

Die dogters, kleindogters en agterkleindogters van administrateur FH Odendaal het ook die geleentheid saam met hulle eggenote bygewoon.

Volgens Danie Langner, bestuurshoof van die Voortrekkermonument, is dit die monument se manier om die TPA te bedank vir die jare se werk en aandag wat hulle aan die Voortrekkermonument geskenk het.

“Ons moet erkenning gee aan die prestasies van die verlede, en die bestaan van die Voortrekkermonument is grootliks aan die TPA te danke. Daarom is dit net gepas dat die Transvaalkamer opgedra word aan die oudadministrateurs van die Transvaalse Provinsiale Administrasie,” het Langner gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fran ·

Die infrastruktuurontwikkeling in Transvaal tussen 1961-1971 onder Sybrand van Niekerk, was ongeëwenaard.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.