Twintig beurslenings waarvan jy moet weet vir 2021

bcom graad studeer akademia

(Argieffoto)

Covid-19, die stygende werkloosheidsyfer en krimpende ekonomie beteken dat matrikulante en studente wat volgende jaar wil studeer reeds nou al alles binne hul vermoë moet doen om hul studiedrome te kan befonds.

Dít is die mening van Stefan Pieterse, hoof van die Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS).

“Ons ervaar dikwels dat studente nie weet van NSFAS of ander studiehulp wanneer hulle by ons aansoek doen vir studiehulp nie.  Daarom wil ons matrikulante en studente met soveel as moontlik inligting bemagtig wanneer hulle aansoek doen vir studiehulp vir 2021,” sê Pieterse tydens ʼn webinaar Woensdag.

Tydens die webinaar het ʼn paneel van kenners twintig beurslenings uitgelig wat mense kan help wat volgende jaar wil begin studeer, of wat graag studies wat hulle reeds gedoen het, verder wil vat.

ʼn Beurslening is ʼn beurs wat aan iemand uitgereik word, wat die persoon dan óf moet terug werk óf terug moet betaal.  In die geval waar die student besluit om sy studies te staak, word dit ʼn lening wat terugbetaal moet word.

20 beurslenings waarvan jy moet weet:

Funza Lushaka

Funza Lushaka is ʼn regeringsentiteit wat deur die staat ingestel is om onderwysstudente op te lei. Dit werk op ʼn basis dat jy die aantal jare moet terugwerk wat jy studeer het.  Jy hoef dus nie die geld terug te betaal nie.
Hierdie beurs help met koste soos studies, handboeke en sakgeld.
Klik hier vir meer inligting.

NSFAS

NSFAS is ʼn regeringskema wat studiehulp bied aan minderbevoorregte studente wat hul studies by enige openbare universiteit of TVET‑kollege wil voltooi. Hulle vereis dat jou ouers se gesamentlike jaarlikse inkomste minder as R350 000 moet wees, dat jy ʼn Suid-Afrikaners moet wees en dat jy by van die bogenoemde universiteite of kolleges studeer. NSFAS help ook gereeld met ekstras soos geld vir handboeke.
Klik hier vir meer inligting.

Atterbury-trust

Hulle bied beursgeleenthede aan behoeftige Afrikaanse studente wat sterk leierskap, dryfkrag en entrepreneurskapvaardighede toon. Studente moet beurse rentevry terugbetaal.

Hul eerste kriteria is finansiële behoeftigheid en daarna kyk hulle na mense met Afrikaans as huistaal. Dit is ʼn vereiste dat jy eers vir NSFAS moes aansoek doen, voordat jy vir hierdie beurs in aanmerking kan kom.
Klik hier vir meer inligting.

Solidariteit Helpende Hand Studiefondssentrum

Dit behels rentevrye studielenings vir behoeftige Afrikaanse studente.  Hierdie beurs dek nie al die koste nie, maar help met die grootste gedeelde van studente se klasgelde.
Klik hier vir meer inligting.

Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Studente wat nagraadse studies wil voltooi, kan hier vir beurse aansoek doen. Hulle bied studiebeurse vir magister-en doktorale studies in enige veld.
Klik hier vir meer inligting.

Rapport-onderwysfonds

Dit is ʼn niewinsgewende organisasie wat jong onderwysstudente wil help. Mense kan studeer aan enige openbare onderwys kollege of universiteit in Suid-Afrika. Hulle help studente met ʼn lening, en op grond van die student se prestasie word dele van die lening na ʼn beurs oorgeskakel.
Klik hier vir meer inligting.

Sol-Tech-studiefonds

Rentevrye studielenings aan behoeftige studente wat wil kwalifiseer as onder meer ʼn elektrisiën, dieselwerktuigkundige, passer-en-draaier en meulmaker.
Klik hier vir meer inligting.

Akademia-studiefonds

Rentevrye studielenings aan behoeftige studente wat graag by Akademia wil studeer.  Dit is ook ʼn gewilde opsie vir mense wat reeds werk en wat hulself tersiêr wil bekwaam of verder wil studeer.
Klik hier vir meer inligting.

Helpmekaar-studiefonds

ʼn Niewinsgewende maatskappy wat studente van die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Suid-Kaap, Noord-Kaap en KwaZulu-Natal help.
Klik hier vir meer inligting.

Noordelike Helpmekaar-studiefonds

Hier kan voornemende studente van Gauteng, Noordwes, Limpopo of Mpumalanga tot R60 000 per jaar leen teen baie billike terugbetaalvoorwaardes.
Klik hier vir meer inligting.

Shoprite

Die supermark-groep bied ʼn verskeidenheid van beurse in verskeie studierigtings vir voornemende of bestaande studente.  Studente moet dan die aantal jaar wat hulle studeer het, terug werk.
Klik hier vir meer inligting.

Transnet

Hierdie beurs fokus primêr op voornemende studente wat graag ingenieurswese wil studeer.  Studente moet die aantal jaar wat hulle studeer het, terug werk.
Klik hier vir meer inligting.

Afrikaans Toekoms-trust

Dit is ʼn organisasie wat die Afrikaanse gemeenskap en kultuur wil bevorder. Hulle beleid studielenings aan behoeftige Afrikaanse jongmense.
Klik hier vir meer inligting.

Deloitte

Fokus primêr op rekeningkunde-studies.  Hulle bied beurse van tot R80 000 per jaar vir studente wat graag geoktrooieerde rekenmeesters wil word.
Klik hier vir meer inligting.

Alan Gray Orbit-stigting

Fokus op BSc-, BCom-, BIng-en LLB-studierigtings. Hulle bied beurse aan studente wat ʼn gemiddeld bo 70% kan handhaaf.
Klik hier vir meer inligting.

FNB

Bied gedeeltelike beurse vir ʼn verskeidenheid van studierigtings. Die beurs kan tot ʼn maksimum van 50% van die student se jaarlikse studiekoste dek.
Klik hier vir meer inligting.

JP Morgan-beursfonds

JP Morgan is ʼn internasionale bankgroep wat beurse bied vir studente met ʼn gemiddelde akademiese gemiddelde van 65%. Hulle fokus op BCom- studierigtings en het akademiese vereistes waaraan kandidate moet voldoen.
Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Kyk net eers BAIE GOED na wie die uitreikers van hierdie beurse is. Wat help dit jy doen aansoek vir party net om dan te hoor dat jou velkleur “verkeerd” is. Hou ook maar regstellende aksie en BEE in gedagte vir die jare na die studie. Hoe betaal jy ‘n beurs af as jy nie werk kry nie NET omdat jou velkleur “verkeerd”is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.