Uiteindelik ’n ‘ja’ vir medies – agt jaar en 32 aansoeke later

Bianca Vermeulen het oor ‘n tydperk van agt jaar sowat 32 keer aansoek gedoen vir mediese keuring. (Foto: Verskaf)

Menige leser ken iemand wat sukkel om keuring vir medies te kry. ʼn Groot gros studente durf jaar ná jaar die veeleisende keuringsproses aan terwyl hulle voorlopig in ’n ander rigting studeer of begin om alternatiewe loopbaanrigtings te oorweeg. Einde ten laaste gee die meeste van hulle moed op en beweeg teësinnig aan.

Bianca Vermeulen, ʼn boorling van Henley-on-Klip in Gauteng, het agt jaar lank ook dié uitmergelende proses aangedurf: aansoekvorms afgelaai, noukeurig ingevul, dokumentasie bymekaar gekry, dan angstig vir terugvoer gewag en later die teleurstelling van ʼn afkeuringsbrief verwerk net om die daaropvolgende jaar weer te probeer.

Maar vir dié 28-jarige student het ʼn jarelange droom na sowat 32 aansoeke wel waar geword.

Tot haar groot verbasing is sy in 2019 deur die Universiteit van die Vrystaat vir die MBChb-kursus gekeur en dit kon nie op ʼn beter tyd gebeur het nie.

“Glo my! Dit was regtig nie ʼn maklike pad nie,” erken Vermeulen. “Ek was eintlik op die punt om my kinderdroom prys te gee toe ek dié goeie nuus ontvang het.”

Terwyl jy so in ongeloof na dié borrelende tweedejaarstudent luister wonder ʼn mens hoe die pad lyk wat sy moes stap tot waar sy vandag is.

Vermeulen vertel dat sy die eerste afkeuringsbrief kort voor haar rekordeksamen ontvang het. Dit was in 2011, dieselfde jaar waarin haar ouers geskei is. Hoewel sy saam met haar vriende uitgesien het na die toekoms het sy tog geweet tersiêre opleiding was haar nie eintlik beskore nie.

Sy het haar matriekjaar by HTS Vereeniging voltooi en daarna by ʼn plaaslike apteek op die dorp begin werk. Noudat sy daaraan dink was dit eintlik erger om haar skoolvriende te moet groet as om vrede te maak met die feit dat sy nie vir medies gekeur is nie.

Bianca Vermeulen, ʼn boorling van Henley-on-Klip in Gauteng, het haar matriekjaar in 2011 by HTS Vereeniging voltooi. (Foto: Verskaf)

ʼn Opwindende studentelewe het op hulle almal gewag terwyl Vermeulen alleen agtergebly het. Sy moes oornag grootword, iets waarop sy glad nie voorbereid was nie.

“Die posisie waarin ek my bevind het, het onmoontlik gelyk. Ek het verskeie planne probeer beraam om te gaan swot, maar elke deur het in daardie stadium geslote gebly,” vertel sy. “Ek dink egter dit sou baie erger gewees het as ek toe mediese keuring gekry het en nie kon nie gaan studeer het nie omdat daar nie geld was nie.”

Vermeulen dink so rukkie en sê dan ingedagte dat dié omstandighede goed was vir haar karakterontwikkeling.

“Niks in die lewe kom op ʼn skinkbord na jou toe nie. As jy iets in die lewe wil hê moet jy nie toelaat dat jou omstandighede jou verhoed om jou lewensdoel te bereik of uit te leef nie.”

Sy het aan die begin van 2014 by die apteek bedank en later die maand Bloemfontein toe getrek. Vermeulen het uiteindelik genoeg geld gespaar om te gaan studeer en toe besluit om vir ʼn kursus in Kliniese Tegnologie by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in te skryf. Sy het dié graad, met spesialisering in kritiese sorg, in 2017 voltooi en in Januarie 2018 ʼn pos by die Vrystaatse Gesondheidsdepartement aanvaar waar sy gewerk het tot haar mediese studie in 2020 begin het.

Vermeulen sal waarskynlik nooit die dag vergeet toe sy haar goedkeuringsbrief van die universiteit gekry het nie. Sy kon wel nie by die werk al op en af spring nie, maar haar hart het gejuig.

Danksy kollegas en pasiënte wat deurentyd vir Bianca gemotiveer het, het sy aanhou probeer om mediese keuring te kry. (Foto: Verskaf)

“Dit was ʼn besige dag in die intensiewesorg en ek was besig om pasiëntinligting op my foon te soek toe die e-pos deurgekom het,” onthou sy. “Op daardie oomblik was ek effens geïrriteerd met al die kennisgewings op my foon, juis omdat dit so druk by die werk was.”

Maar as sy doodeerlik moet wees, het sy eintlik gedink dat die universiteit weer ʼn afkeuringsbrief gestuur het. Daarom het Vermeulen die e-pos summier geïgnoreer en op haar werk gefokus.

Soos wat die dag verloop het, het sy “per ongeluk” die e-pos oopgemaak. Vermeulen kon haar oë nie glo nie en sy moes die brief ʼn paar keer lees om seker te maak sy is regtig gekeur en dat dit wel haar besonderhede op die brief is.

“Ek het ook ʼn vriendin wat saam met my werk eenkant toe geroep en gevra of sy die e-pos kan lees en bevestig of dit waar is,” vertel sy.

Vermeulen was soos talle ander aspirantdokters ook soms op moedverloor se vlakte, maar danksy kollegas en pasiënte wat haar deurentyd gemotiveer het, het sy aanhou probeer.

As dogtertjie het sy altyd daarvan gedroom om eendag ʼn dokter te wees. “Ai, my arme poppe se ledemate was gereeld in gips,” skerts sy.

Bianca en die res van haar klas het steeds eksamen geskryf te midde van die Covid-19-pandemie. (Foto: Verskaf)

ʼn Mens sou dink dat die stryd om in te kom vir medies haar padlangs van plan sou laat verander, maar na al die jare is dit steeds vir haar lekker om op dié manier na ander mense om te sien en sy hoop om in die toekoms ʼn positiewe bydrae in pasiënte se lewens te maak.

“Dit klink na ʼn groot cliché, maar dit is uiters bevredigend om so langs ʼn pasiënt se bed te staan en te weet dat jy van hulp vir daardie persoon is, veral in die intensiewesorgeenheid.”

Die lewe het Vermeulen by tye dalk op haar knieë gedwing, maar sy is oneindig dankbaar vir God se teenwoordigheid in haar lewe. Toe sy ʼn kruispad in haar lewe bereik het, het God haar laat besef dat Hy die rigting van ons lewens bepaal.

“Ek is dankbaar vir wat die Here vir my gedoen het. Genade onbeskryflik groot!”

Vermeulen het padlangs geleer om geduldig te wees, om nooit op te hou droom nie en om in alles wat sy doen ʼn goeie gesindheid te handhaaf. Sy het ook besef dat sukses nie bepaal word deur kwalifikasies of toekennings wat aan ʼn muur hang nie en dat ʼn mens soms net ʼn kans moet waag en vertrou dat alles gaan uitwerk soos wat dit moet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Weet sy dat sy nadat sy haar grade eendag behaal het, wéér sal moet sukkel om werk te kry? En dit nét omdat haar velkleur “verkeerd” is. En voordat almal my nou kruisig en sê “ja maar sy kan oorsee werk kry” ; oorsee werk kry is VEEL moeiliker as om bloot na bv. Amerika te vlieg en jou graadserrifikate rond te swaai en te sê “Dag hier is ek gee vir my werk want ek weet ek kan mos maklik hier werk kry”. In werklikheid is dit ‘n lang, ingewikkelde en BAIE DUUR proses.

Heidi

Bianca!, jy gaan verseker ‘n sukses van jou loopbaan maak! – jy het reeds bewys dat jy oor genoeg deursettingsvermoë beskik!! Baie sterkte vorentoe!!!

RS

Welgedaan! A+ vir volharding om jou droom te bewaarheid. Baie sterkte met alles. Jy sal sukses behaal. Sien uit om in die toekoms van jou prestasies te hoor!

Anel

As mens so lank sukkel om jou droom te bewaarheid dan gaan jy niks doen om dit te verongeluk nie. Jy lewer altyd jou beste. Jy gaan ‘n uitstekende dokter wees. Baie sterkte vir jou toekoms.

Theo

Dit is hoekom my seun in China gaan swot het want die klomp universiteite in SA is so behep met swart dit is nie waar.Hy was hier n paramedic en niemand wou hom keuring gee nie.Die kursus in China is presie dieselfde as hier.