Val 130m van berg: Geloof het my gered

Jeanelle Greyling voltooi vanjaar 'n graad in Kommunikasiekunde aan die NWU-Puk.  Foto: Cyril Blackburn

Jeanelle Greyling voltooi vanjaar ‘n graad in Kommunikasiekunde aan die NWU-Puk. Foto: Cyril Blackburn

Ons ontmoet by haar Weskampus-woonstel op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Haar skouers is smal. Haar bruin hare hang los en waai saggies in die wind op die stoep. Sy lyk soos die moderne, stylvolle vrou in haar grys bandjiestop en pienk romp.

Hoewel Jeanelle Greyling vanjaar eers 22 word, het die lewe haar al harde klippe laat kou. Drie jaar gelede is haar lewe onherroeplik verander toe sy in 2013 tydens die herfsreses ʼn vriendin se 21ste verjaarsdag op die plaas Glass Nevin in die Oos-Kaap gevier het.

Sy skakel die ketel aan. “Ekskuus, ek draai bietjie vanoggend,” sê sy, “kan ek solank vir jou koffie aanbied?” Haar woonstel is nederig, presies die gevoel wat mens van die 1.7m vrou kry. Haar gelaat is ernstig wanneer sy sit om te gesels. Sy bal haar vuiste sodat haar kneukels wit uitslaan. Dié vuiste is voos. Moeg. Geknel. Stukkend baklei om van voor af te begin en paaie te bou waar daar nie voorheen was nie. Maar haar veggees is nie voos nie.

“Ek dink baie daaraan – dit is vir my skokkend hoe vining iemand se lewe binne ʼn split-sekonde kan verander,” sê sy.

Sy kom sterk voor. Haar blik is stip, maar haar onrustige hande verklap haar emosies. Ná amper drie jaar bly die emosies steeds oorweldigend. Jeanelle sou op die aand van die voorval saam met ʼn paar vriende aan die onderkant van die Drakensberge gebraai het om ʼn vriendin se verjaardag te vier. Dit was amper skemer en die uitsig oor die berge was meer uitsonderlik as gewoonlik. Sy het besluit om teen die hange van die berg op te klim om die uitsig van bo te sien.

“Ek onthou die absolute vrede wat ek ervaar het. Ek het na ʼn wonderwerk gesoek. Die oranje en pers in die lig het my betower. Ek was gelukkig en dankbaar,” onthou sy.

Toe dit vinniger begin donker word, het sy aanstaltes gemaak om by die res van haar vriende aan te sluit. Sy kon nie vinnig genoeg stap voor die son agter die berge verdwyn nie en die skemer het gou in pikdonkerte verander.

“Ek het bang geraak en gospel-liedjies begin neurie. Ná ʼn rukkie het ek besluit dis dalk veiliger om af te skuur, bossie vir bossie. Ek het konstant gedink dat ek moet gou maak omdat die landskap so onherbergsaam is. Maar ek het gegly toe een bossie onder my gewig meegee,” sê sy.

Sy het 130m ver geval en op ʼn rotslys tot stilstand gekom. Haar gekweste lyf wou haar nie toelaat om te beweeg nie en sy was oortuig sy sou doodgaan. Vriende het haar ná ʼn wyle begin soek en het haar ongeveer twee ure later opgespoor. Dit was reeds 21:00. Die reddingsoperasie het amper 20 ure geneem omdat terrein so rof was. Sy het haar pelvis op vyf plekke en ook haar enkel en tone gebreek. Hoewel sy hipotermie opgedoen ná ʼn hele nag in die koue, was dit ʼn wonderwerk dat sy nie meer bene gebreek het nie.

Toe volg die nuus: sy mag vir ses maande nie loop nie. “Ek moes my studies staak. My lewe het in duie gestort. Ek het soveel ure in die hospitaal gelê en wonder hoekom ék,” sê sy. “Ek het aanvanklik die wonderwerk raakgesien, maar later geloof begin verloor – in mense en in God,” sê sy.

Dit was nie maklik om vrede te vind in die hospitaal nie. Sy het vining besef dat mense feilbaar is en dat sy slegs God het om na te draai. Maar sy was afgetakel en sy het verwyte en onbeantwoorde vrae gehad.

“Ek het vandag vir die eerste keer in maande weer vrede. Ek het besef dat ek nie vir God kwaad kan wees nie en dat alles gebeur met ʼn doel. Hier is ek tog om die storie te vertel. So gou as wat ek uit die bed kon opstaan, het ek met my kruk gehop na waar ek wou wees. Ek moes besig bly, ek wou terug universiteit toe, my drome wou nie meer lê en wag nie,” sê sy.

Sy het in Desember 2013, in haar aansterkingstydperk, begin vryskut-vertaalwerk doen vir die studentekoerant en in die begin van 2014 is sy terug universiteit toe. Sy moes haar tweede jaar van vooraf aanpak. Kort voor lank was sy amper heeltemal gesond, voltyds betrokke by die studentekoerant en het vryskut-skryfwerk gedoen.

“Hoewel dit soms baie moeilik was met my kruk, het ek elke dag deurgedruk. Ek kon elke module in my akademiese tweede jaar slaag en my betrokkenheid by kampusaktwiteite het my baie genot verskaf,” sê sy.

Sy is aan die einde van 2014 genooi vir ʼn onderhoud vir die redakteurspos van die studentekoerant, Wapad en die werk gekry. Vandag is sy aan die stuur van ʼn studentekoerant met ʼn beter bestuursevaluasie deur die bemarking- en kommunikasie-afdeling van die NWU as ooit vantevore.

“My drome was presies soos ek dit beplan het, net ʼn jaar agter. Ek weet dat ek in daardie hospitaalbed moes lê om te dink. Ek sal graag ʼn getuie wil wees vir my storie om vir mense te bewys hoe groot God is en dat jy alles kan oorkom,” sê sy. “Alles is ʼn leerskool. Die val was mýne. Nou kyk ek met ander oë na mense en die wêreld. Ek weet elke oggend wat ek wakker word, is ʼn geskenk.”

Vandag koester sy selfs groter drome. Dalk die publikasie van haar eerste boek of bundel, maar vir nou wil sy eers haar graad voltooi en fokus daarop om een stap op ʼn slag te neem. Sy wag ook vir ʼn heupvervangingsoperasie in November vanjaar waarna sy weer normaal sal kan loop.

Sy sak haar kop vir ʼn oomblik voor sy opkyk. Dan kyk sy in my oë en huiwer ʼn oomblik voor sy eindelik sê: “Eintlik wil ek net gelukkig wees. Die wonderwerk is dat ek etlike maande later vir jou die storie kan vertel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

mari rheeder ·

Mooi geskryf Cyril en mooiste storie. Trots op my mede honneursstudent

Karel Sieta ·

Jeanelle, mooi storie maar jammer om jou borrel te bars ! Glo of nie glo, dinge sou maar dieselfde uitgewerk het tussen daardie dag en nou – sterkte – en as dit jou laat beter voel om iets of iemand aan te hang, maak gerus so !! Dis jou reg.

Wendy vd Westhuizen ·

Jeanelle ek kan saam met jou praat, 10 Januarie 2015 het my lewe ook verander. Ek het 8m geval en was 5 keer in die hospitaal. Is net God wat ons hier deur bring en ‘n sterker mens maak. Hy het grooter planne vir ons en het ons ‘n tweede kans in die lewe gegee. Weet net dat alles sal regkom al voel dit nie altyd so nie, ons moet net moed hou en volheid om ons Here vertrou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.