Valentynsdag-piekniek: Hier is die wenner

Februarie-maand staan bekend daarvoor dat dit die “maand van liefde” is, waarskynlik omdat Valentynsdag op 14 Februarie ʼn hoogtepunt op verliefdes se kalender is.

En dit maak nie saak hoe lank julle al saam is nie – Valentynsdag is die ideale tyd om ʼn bietjie romanties te wees. Daarom het Maroela Media ons lesers genooi om te vertel wat hulle ideale aandjie uit sal wees. Die prys is ʼn piekniekmandjie, spesiaal verpak deur Maroela Media.

Melissa Willemse van Carletonville is die gelukkige wenner! Sy het nie vertel wat haar beskrywing van ʼn ideale aandjie uit sou wees nie, maar sy het namens haar ouers ingeskryf en dis duidelik dat hulle dié spesiale piekniekgeskenk verdien. Só skryf sy:

Ek wil graag inskryf namens my ouers. Hulle het op 2 Februarie hul 29ste huweliksherdenking gevier. My pa is verlede jaar met hartversaking gediagnoseer. Hy is sedertdien twee keer in die intensiewesorgeenheid opgeneem. Dié hartseer gebeurtenis het egter ‘n nuwe liefde tussen my ma en pa gekweek, hulle het opnuut besef dat die tyd wat hulle saam met ons en veral met mekaar het, net geleen is. Hulle is ook ʼn wonderlike voorbeeld om na te volg vir my, my sussie en hulle twee kleinkinders en sal só ʼn geskenk nie verwag nie, maar wel opreg waardeer.

Ons Maroela-span het al die verskillende inskrywings geniet en die beoordelaarspaneel moes behoorlik kopkrap om te besluit wie die wenner sal wees. Hier is ʼn paar inskrywings wat uitgestaan het – ons hoop julle reël nou sommer self ʼn spesiale oomblik!

Ronel de Vries van Brackendowns in Gauteng het ʼn behoorlike resep:

ʼn Ideale aandjie uit vir twee mense:

  1. Daar moet liefde wees.
  2. Goeie musiek (“When a man loves a woman”).
  3. Geen derde wiel aan die wa nie.
  4. Mooi omgewing.
  5. Lekker kos.

En “walla”, jy het die perfekte aandjie!

Miralda du Toit van Rustenburg in Noordwes was die afgelope paar maande baie emosioneel ná sy haar ma verlede jaar in September aan die dood afgestaan het. Sy voel sy het haar man bietjie afgeskeep. Só lyk haar ideale aandjie “net om mekaar weer te vind”:

‘n Bottel wyn langs ‘n vuurtjie, onder die sterre. Ons het nie veel nodig nie… net mekaar, sonder enige onderbrekings! Ons vra nie veel nie: ‘n lekker bord kos, lekker wyn en die beste van alles, lekker geselskap!

Lucia Dreyer van Montana in Gauteng reken jy hoef nie ver te reis om die liefde te vier nie. Só skryf sy:

Ek en my man het verlede jaar vir ons 11de huweliksherdenking ʼn piekniek gehou bo-op ons dak. Ek dink dis so ideale aand uit, want jy is veilig en jy hoef nêrens heen te ry nie. Ons het ʼn platdakhuis met die mooiste uitsig so ek het besluit ons gaan sommer onder die sterre lê. Ek het ʼn matras en komberse op die dak gegooi en batterylampies vir lig gebruik, met ʼn lekker bottel vonkelwyn en natuurlik ʼn heerlike piekniekmandjie. Dit was die beste aandjie uit van ons lewe!

Johan Hollander van Mooinooi in Noordwes reken só romantiese piekniek is die perfekte prys. Hy skryf:

Ek en my vrou is al vir meer as agt jaar getroud. Ná ons eerste seuntjie, wat nou sewe jaar oud is, het ek en my vrou nog nooit alleen iewers heen gegaan nie, ons was nog nie een keer alleen na ʼn fliek, om roomys te gaan eet of selfs net ʼn lekker piekniek onder ʼn boom langs ʼn dam of ʼn rivier nie. Ek dink dit is tyd om daardie perfekte piekniek te gaan hou onder ʼn boom langs ʼn dam of rivier met die lekkerste tuisgebakte brood met aarbeistroop en appelkooskonfyt wat lekker soet is vir ʼn lekker soet soen onder daai boom.

Ons hoop jy kan bietjie inspirasie put uit hierdie wenke!

Melissa ontvang die piekniekmandjie met die komplimente van Maroela Media se aanlyn winkel, Die Koöperasie, en Ina Lessing Konfyte en Bakkery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.