Van bendeleier op Kaapse Vlakte tot toegewyde kunsonderwyser

Mark Jeneker (Foto: Verskaf)

Vir die groter deel van sy lewe was Mark Jeneker ʼn bendeleier, dwelmsmokkelaar en dwelmverslaafde op die Kaapse Vlakte, maar vandag is hy ʼn geliefde kunsonderwyser wat God ken en wil keer dat ander kinders in dieselfde giftige patroon verval.

Die 54-jarige Jenneker het as jong kind in Hanoverpark grootgeword waar sy twee broers by bendebedrywighede betrokke was. Hy het op die ouderdom van nege begin sigarette en dagga rook, en selfs by meisies betrokke geraak.

“My broers was my rolmodelle, ek het altyd vir hulle dopgehou om te weet wat om te doen. Hulle het altyd vir my gesê en mag nie ʼn ‘moffie’ wees nie. So daardie stigma het altyd aan my gekleef. Ek wou altyd wys dat ek dinge beter kan doen as ander mense,” vertel hy aan Maroela Media.

Jeneker het self betrokke geraak by ʼn bende en het sy skoolloopbaan daarvoor verruil nadat hy gr. 8 klaargemaak het.

“Ek wou my broers wys ek sál nie ʼn moffie raak nie. My hele leefstyl het verander. Ek het altyd tyd saam met die boys deurgebring en ek wou wys dat ek ook een van hulle is.”

Jeneker het later saam met sy bende en sy broers Mitchells Plain toe getrek, maar Jenneker se twee broers is kort daarna albei tronk toe. Jenneker het toe besluit dat hy die rol as bendeleiers moet oorneem terwyl sy broers in die tronk is.

Mark Jeneker (Foto: Verskaf)

“Ek was toe die een in die gang wat instruksies gee – wat sê wat moet gebeur en wat nie mag gebeur nie,” sê hy. “Die gang het gewapende rooftogte gedoen, terwyl ek by die huis sit. Maar as hulle dit nie reg gedoen het nie, het ek vir hulle gaan wys hoe om dit te doen – jy sien, ek wou altyd wys ek kan goed beter doen.”

Jeneker het later sy bendebedrywighede na Mosselbaai geskuif en daar is hy gevang toe hy en sy bende ʼn vulstasie in Hartenbos beroof het. Hy is vir vyf jaar tronk toe gestuur, maar nie eens die tronk kon hom stuit nie.

“Dit was eintlik vir my lekker in die tronk. Ek was daar ook in beheer, en self in die tronk was ek die leier van die gang,” sê hy.

In die tronk het Jenneker meer en meer dwelms begin gebruik. Enigiets wat beskikbaar was, het hy gebruik, van petrol en gom snuif tot dagga en Mandrax rook. Nadat hy uit die tronk gekom het, het hy sy bende-bedrywighede ʼn trappie verder geneem en begin smokkel met dwelms. Hy het ook met ʼn vrou getrou wat saam met hom dwelms gebruik het.

Mark Jeneker (Foto: Verskaf)

“Ek het soos ʼn vrye man dwelms gebruik. Dit is waar alles verkeerd gegaan het, want ek het niks meer beheer gehad nie.”

Die vrou met wie Jeneker getrou het, het kleinkinders gehad wat Jenneker soos sy eie grootgemaak het. Hy verduidelik dat hulle nooit hul pa geken het nie en dat hy toe hul pa geword het.

Maar Jeneker se oë het oopgegaan oor waarmee hy besig is toe albei sy seuns binne ʼn jaar na mekaar oorlede is. Een in ʼn motorongeluk terwyl hy vir Jeneker ʼn aansteker gaan koop het en die ander een ʼn jaar later toe hy gekaap en vermoor is.

“Ek het besef almal om my word vermoor en gaan dood, behalwe ek. My oë het regtig oopgegaan en ek het besef ek moet my lewe verander,” sê hy.

Maar die ommeswaai na ʼn beter lewe was nie so maklik soos hy gedink het dit sal wees nie.

Jeneker het homself vir die volgende paar maande by verskeie rehabilitasiesentrums ingeboek, maar binne drie weke was hy by almal weggejaag omdat hy steeds dwelms gebruik het en selfs dwelms in dié sentrums verkoop het.

“Dit was eers toe ek begin kerk loop het wat dinge begin verander het. Elke keer wanneer die cravings kom, het ek eerder kerk toe gegaan, of ek het met ʼn dominee of broer in die kerk gepraat daaroor.

“Niks kon my help om die verslawing te oorkom nie, maar die Here het my gehelp. Ek het my genesing in die kerk gekry. Na die eerste dag wat ek begin kerk loop het, het ek nooit weer dwelms gebruik nie. En nou is dit die belangrikste ding in my lewe.”

Mark Jeneker tydens ‘n kunsklas (Foto: Verskaf)

Jeneker vertel dat hy selfs van sy ou bendelede op ʼn beter pad gehelp het.

“Vyftien van daai selfde mans wat saam met my in die bende was, wat daai gewapende rooftogte gedoen het, loop nou saam met my kerk. Ons dien saam die Here,” sê hy.

Jeneker woon deesdae steeds in Mitchells Plain, is verloof aan ʼn goeie vrou en hy het in 2011 begin om kunsklasse aan te bied in ʼn poging om kinders van die strate af te haal waar die bose bendewêreld hulle dalk kan insluk.

Hy het geld gebruik wat hy nog oorgehad het van sy dwelmhandel om toerusting en verf te koop vir sy kunsklasse en hy vertel dat baie van die kinders in sy klasse ʼn soortgelyke geskiedenis as hy het, waar goeie rolmodelle nie maklik te vind is nie.

“Dit voel amper of ek die kinders se pa is, want hulle het niemand anders om na op te kyk nie. Dit is vir my so belangrik want ek kan die verskil sien wat ek maak in hulle lewe.

Mark Jeneker tydens ‘n kunsklas (Foto: Verskaf)

“Hulle sal in die middag as hulle huis toe gaan, eerder iets verf of teken as om in die strate rond te hang. Die volgende oggend bring hulle my wat hulle gemaak het. Dit wys my dat hulle in ʼn veilige omgewing was.”

Jeneker vertel dat hy sommer so deur die verwery vir die kinders lewensvaardighede leer en vertel wat hulle moet doen en waarvoor hulle versigtig moet wees.

“Ek hoop dat die kinders met wie ek nou mee besig is, eendag ook goeie rolmodelle kan wees in hulle gemeenskappe.”

Jeneker sê God is die enigste ding wat hom op ʼn beter pad kon bring en daarom sal Hy altyd die belangrikste ding in sy lewe wees.

“Jy moet vir God op ʼn pedestal plaas, en Hy moet héél eerste wees. God sál die deure vir jou oopmaak, maar elke persoon moet eers op sy eie daardie eerste tree gee. Sonder God sal mens niks regkry nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dries ·

As ons tog net meer stories soos hierdie op koerantvoorblaaie en in die hoofnuus kan sien.

Gemaskerde Sopbeen ·

Baie dankie vir die positiewe en opheffende berig. Ook dankie aan Janie Monsieur

Mad Mike die Rhodesiër ·

Wel, ek wil net sê dis nogal ‘n goeie store!Wys jou net dat selfs die grootste sondaar êrens in die lewe kan kom as hy sy lewe WIL verander.

Cecilia ·

D keuses in d lewe wat j maak bepaal j destiny nie wat j broers of ouers is of was nie. Dit het hom lank gevat om d regte keuses te maak.

LANA is ELANè ·

Fantasiese getuienis rondom God se genade met die mens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.