Video: Bejaardes baljaar by Voortrekkermonument

Betsie Botha en Jaqueline de Lange geniet die Boeremusiek. (Foto: verskaf)

Tuisgemaakte kerrie en rys, heerlike, vars pannekoek, ʼn betowerende optrede deur Matt Stern, volkspele en ʼn opskopsessie saam met ʼn egte boeremusiek-orkes. Dít is wat bejaardes Woensdag 31 Mei by die Voortrekkermonument geniet het.

Dié feesvieringe was deel van die Tooi Turkoois-veldtog se jaarlikse samekoms van bejaardes. Dié veldtog duur van 15 Mei, Internasionale Familiedag, tot 15 Junie, Wêreld Bewustheidsdag vir Bejaardemishandeling.

Dié geleentheid is een waarna bejaardes van reg oor die Jakarandastad jaarliks uitsien.

“Ons wil hulle bietjie bederf en hulle ook laat belangrik voel,” het ds. Frikkie van Wyk, die voorsitter van die Ons Tuis-direksie, gesê.

Vanweë die feit dat talle gouejariges dikwels eensaam is, is dié jaarlikse samekoms een wat altyd vir groot pret en opwinding sorg, het Frikkie verder verduidelik.

Ons Tuis, ʼn organisasie wat bejaardesorggeriewe vir ouer persone bied, het ook ʼn beeldjie aan die Voortrekkermonument oorhandig ter bedanking vir die bewaring van erfenis.

Dié beeldjie, bekend as die Verkenningsbeeldjie, is deur Frederik Johannes Kruger ontwerp, en dien as simbool van die bewaring van erfenis.

“Ons het die plig om ons erfenis vir ons nageslagte te beskerm. Dit raak nie net die fisieke nie, maar is ʼn verantwoordelikheid om ons verlede, identiteit en kultuur te koester,” het Frikkie gesê.

Die Verkenner-beeld deur FJ Kruger. (Foto: verskaf)

Diegene wat wou, het ook na die afloop van die verrigtinge die monument besoek.

“Ons Tuis was nog elke jaar deel van die Tooi Turkoois-vieringe, juis omdat ons sorg vir bejaardes, en omdat die wêreld moet weet dat bejaardes nog ʼn plek in die samelewing het.”

Kyk na ʼn video van die kuiergeleentheid hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.