Video: Oud-Garsies-juffrou se Afrikaans soos ’n ledemaat

Marié Mostert. (Foto: Maroela Media)

Marié Mostert, ʼn oudonderwyser van Hoërskool Garsfontein in Pretoria, het nie net die skool se personeel op Afrikaanse Taaldag laat kraai van die lag nie, maar later ook die res van Suid-Afrika.

Hannes Nienaber, bemarker van die skool, het ʼn video geneem van Mostert se toespraak met die tema “Konstant” waarin sy haar behendige en humoristiese gebruik van Afrikaans ten toon stel.

Die video is toe op die skool se Facebook-blad gelaai en dit is sedertdien meer as 500 000 keer gekyk en 12 000 keer gedeel.

“Ek weet nou eers wat daardie ‘k’ beteken,” skerts sy oor die duisende reaksies op die video.

Dit is nie die eerste keer dat sy ʼn praatjie by die skool lewer nie. Mostert vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat leerders se kreatiewe skryfwerk jare gelede die beginpunt was.

“Met die nasien van leerders se skryfwerk het ek snaakse sinne neergeskryf en daaruit my eie opstel geskryf. Op die laaste dag van die kwartaal het ek dit vir die personeel gelees en dan het hulle geskater en tog te lekker ontspan.”

So het die mense agtergekom dat sy behendig is met die taal en gemaklik is om voor mense te praat. Mettertyd het die skool haar al hoe meer gevra om praatjies by geleenthede te lewer.

‘n Skermgreep uit die video waarin Marié Mostert Hoërskool Garsfontein se personeel vermaak.

Op die vraag of dit vir haar natuurlik kom om humoristies te wees, antwoord Mostert dat sy “iewers seker maar snaaks is”.

“My kollegas lag sommer by voorbaat wanneer hulle my sien. Hulle lag as ek iets doen, hulle lag as ek opstaan in die personeelkamer.”

Mostert het sowat 30 jaar Afrikaans vir gr. 11-leerlinge en matrieks gegee.

Sy het destyds eers met ʼn graad in joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus begin.

Kupido se boog het haar onverwags in haar tweede jaar getref. Sy het toe ook besluit om joernalistiek te staak en vir ʼn Hoër Onderwysdiploma (HOD) in te skryf.

“Ek en Barry de Beer het mekaar een aand by ʼn geselligheid van die Thalia-toneelgeselskap ontmoet. Ons het in ʼn oogwink verlief geraak en besluit om dadelik te trou terwyl ons albei nog studeer,” vertel Mostert.

Toe Barry in 2009 dood is, het Mostert nie gedink sy sal weer trou nie. Al hierdie gedagtes het egter by die deur uitgeglip toe Phillip Mostert ʼn rukkie later haar pad kruis.

Marié Mostert (Foto: Verskaf)

Wanneer ʼn mens haar pols oor haar liefde vir Afrikaans, dink Mostert aan haar ouers. Veral haar pa, Jannie Breet, wat ook ʼn Afrikaans-onderwyser was.

Saam met die liefde vir Afrikaans wat van jongs af by haar gekweek is, is sy ook gemotiveer om haar liefde vir stories uit te leef.

“My pa het gesê ek praat baie, en my oupa het gesê ek sit nooit stil nie. So in hierdie kombinasie het ek baie keer wanneer daar mense by my pa kom ʼn versie of iets soortgelyks opgevoer.

“My ma het ook vir my ʼn houtkassie gemaak waarop ek gestaan het terwyl ek poppespel vir kinders in die buurt aangebied het.”

Dit het alles bygedra tot ʼn groter liefde vir taal wat vandag nog ʼn onlosmaaklike deel van Mostert se lewe is, soos ʼn ledemaat.

“As ek my verhouding met Afrikaans moet beskryf sal ek sê dat dit konstant deel van my is. Ek kan myself nie los maak daarvan nie. Dit is soos my oog wat ek nie kan uithaal en eenkant sit nie.

Klik hier om na die volledige video op Hoërskool Garsfontein se Facebook-blad te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.