Voortrekkermonument help om Melrose-huis op te knap

Die Melrose-huis in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Melrose-huis, ʼn geskiedkundige gebou en museum in Pretoria, is die afgelope week deur ʼn span van die Voortrekkermonument besoek wat broodnodige tegniese dienste aan dié museum gelewer het.

Sedert die begin van die Covid-19-pandemie het talle museums, monumente en gedenkwaardighede regoor die land swaar gekry. In ʼn poging om voort te bestaan is talle van hierdie organisasies genoodsaak om hulle bronne te deel of hier en daar kragte saam te snoer.

Die Kultuurtuiste, waarvan die monument, die Erfenisstigting (ES), die Bloedrivier-erfenisterrein en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) deel is, het dit tydens die pandemie reggekry om van krag tot krag te gaan. Daarom kan hulle ook nou van hulle dienste en personeel beskikbaar stel om Melrose-huis op ʼn gereelde basis te help.

Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenissentrum, verduidelik dat dié projek uit ʼn jarelange verhouding tussen die ES, Voortrekkermonument en Melrose-huis spruit. Sy is dankbaar dat die Kultuurtuiste steeds in staat is om op ander terreine ook ʼn bydrae te lewer om die kultuurgemeenskap se kulturele erfenis te bewaar en uit te bou.

“Melrose-huis, soos baie ander gedenkwaardighede in die land, ervaar steeds die gevolge van die Covid-19-pandemie. Talle organisasies sukkel om kop bo water te hou,” sê Jansen.

Melrose-huis in Pretoria, is die afgelope week deur ʼn span van die Voortrekkermonument besoek wat tegniese dienste aan dié museum gelewer het. (Foto: Verskaf)

Nadat Melrose-huis se grassnyer gebreek het, het Melissa Lindeque, kurator van die museum by die Erfenissentrum, vir hulp aangeklop. “Die ES werk vanjaar saam met Melrose-huis aan verskeie kursusse en projekte wat ons aanbied. Dit is net nog ʼn klein bydrae en vertakking van die organisasies se samewerkingsooreenkoms,” sê Jansen.

Philip Dreyer, wat die Voortrekkermonument se tuine bestuur, het ook die afgelope week by Melrose-huis besoek afgelê. Hy is ook dankbaar dat hy en sy span op só ʼn manier in die gemeenskap kan terugploeg.

“Ek is baie trots op ons tegniese span wat so bereid was om in te spring en te help. Ons besef hoeveel werk daar ingaan om ʼn museum te onderhou en daarom is dit vir ons ook belangrik om te help waar ons kan.”

Hy het die Voortrekkermonument se span, Clement Tladi en Machos Makgato, bedank vir hul bereidwilligheid om Melrose-huis te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Die erfenis bestuur moet ‘n plaas aanskaf en alle bates daar herbou dit sal ‘n groot toeriste aantreklikheid word soos ‘n klein skaal disney world.

FM ·

Dit is puik nuus.
Melrose huis was vir baie jare my geliefde kuier plek en ek dink met lieflike herinneringe terug.
Alhoewel ek nou nooit meer daar kom nie (na Polokwane verhuis en my jare het intussen aangestap) is ek dankbaar dat dit nou weer na sy volle glorie opgeknap sal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.