We^Can vier fees saam met helde van gemeenskap

We^Can het die NWO, wat die werklike helde van ons gemeenskap is, met ʼn waarderingsgeleentheid gevier. (Foto: Verskaf.)

We^Can het verlede week die niewinsgewende organisasies (NWO), wat die werklike helde van ons gemeenskap is, met ʼn waarderingsgeleentheid gevier.

Sedert sy bekendstelling in April 2020 het We^Can 49 projekte namens 33 verskillende begunstigdes suksesvol hanteer en afgehandel.

“Hierdie begunstigdes, helde soos ons hulle beskou, versorg daagliks ontelbare mense in nood en ons wil hul voortgesette harde werk en dapper pogings, veral gedurende die afgelope paar maande, erken en eer,” het Francois Mouton, stigter van We^Can, Vrydag met die geleentheid gesê.

Vir We^Can was dit ʼn onvergeetlike ses maande: Duisende lewens is aangeraak danksy lede van die publiek se aankope vir hierdie organisasies en helde wat nou almal deel van die We^Can-gemeenskap uitmaak.

Karin Venter (links) en Francois Mouton (middel) saam met die span van Eleos. (Foto: Verskaf.)

Kosprodukte van 77 989 kg is aanlyn ingesamel en versprei in Gauteng en verskeie ander provinsies. Dit was moontlik danksy gevestigde stelsels en projekte wat die NWO’s reeds begin het.

“Ons het na die bes moontlike oplossing gesoek om die gemeenskap te help toe die grendeltydperk in werking getree het, en ons het besluit om bestaande projekte en pogings te ondersteun om ʼn daadwerklike verskil te maak,” het Mouton bygevoeg.

Gedurende die geleentheid is daar ook erkenning gegee aan die We^Can-voedselverskaffers. Hulle het bygedra tot ʼn algehele besparing van R799 369,51 omdat hulle hul pryse drasties verlaag het vir die begunstigdes en hul organisasies se aanlyn uitdagings. Die besparing is bereken deur die geskatte kleinhandelpryse te vergelyk met die We^Can-pryse wat op die aanlyn platform betaal is. Dit het ʼn reusekoopkrag tot gevolg gehad wat enorme verligting aan die organisasies se projekte besorg het. Dit het talle NWO’s weer in staat gestel om soveel meer aan so baie te voorsien, in die moeilikste tyd nog.

Die We^Can-model verseker nie slegs massiewe besparings vir die organisasies nie, maar dit verminder ook die begunstigdes se afhanklikheid van slegs skenkings.

“We^Can wil die helde in ons gemeenskap in staat stel om voort te gaan met die goeie werk wat hulle elke dag doen, dus was daar ook ʼn beplanning- en besprekingsessie op die dag gehou om vas te stel wat die beste pad vorentoe gaan wees vir toekomstige uitdagings, gepas vir die tye waarin die land hom tans bevind.

“Ons het die einde van hierdie seisoen van We^Can bereik en ongelooflike resultate bereik in ʼn tyd wat dit werklik nodig was. Die nuwe seisoen sal daarop mik om steeds die NWO’s te ondersteun, maar met ʼn vars, nuwe benadering wat dan ook gepas sal wees vir die nuwe tyd wat Suid-Afrika ná die pandemie sal betree.”

We^Can gaan ʼn kort breuk neem van die regstreekse uitdagings om dan uiteindelik beter en sterker terug te kom met nog kragtiger vennootskappe en samewerkings. “Hou dus steeds alle nuwe verwikkelinge dop,” het Mouton gesê.

William Moyses, Francois Mouton en Karin Venter van We^Can gesels met verskeie organisasies oor hulle toekomsplanne vir dié platform. (Foto: Verskaf.)

Die We^Can-manier:

Die projekte, bekend as We^Can-uitdagings (live challenges), se hoofdoel is om in ʼn sekere tyd ʼn spesifieke aantal kosprodukte in te samel vir die betrokke We^Can-begunstigde.

Slegs een uitdaging is op ʼn slag op die aanlyn platform geplaas – www.wecanSA.co.za. Lede van die publiek kon dan kosprodukte aankoop teen drasties verlaagde pryse gegrond op die spesifieke behoeftes van die betrokke organisasie wat die begunstigde van die uitdaging was. Wanneer die projek dan teen ʼn einde gekom het, is die produkte aan die begunstigde oorhandig, wat dit op hul beurt aan die mense in hul sorg versprei het.

We^Can is dankbaar vir:

  • Altesaam 49 suksesvolle en afgehandelde uitdagings namens 33 verskillende organisasies sedert die bekendstelling van We^Can in April 2020.
  • Kosprodukte van 77 989 kg wat deur die We^Can-platform ingesamel en versprei is.
  • ʼn Algehele besparing van R799 369,51 namens die organisasies. Dit is bereken deur die geskatte kleinhandelpryse te vergelyk met die We^Can-pryse wat op die aanlyn platform betaal is, en wat as kombinasies vir die organisasies weekliks aangekoop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.