WEN: Jou eg Afrikaanse slimfoonkiekie kan jou ʼn geskenkpak, kontant in die sak besorg

Jy staan nie net ʼn kans om R5 000 te wen as die wenner van die Eg Afrikaans-afdeling nie, maar sal ook ʼn allemintige geskenkpak ter waarde van R2 000 van Maroela Media ontvang. (Foto: Maroela Media)

Is jy ʼn ywerige fotograaf wat altyd jou selfoon byderhand hou om ʼn foto of twee te neem? Jou beste slimfoonfoto’s kan dalk net vir jou ʼn allemintige prys of twee wen, en erkenning as een van Suid-Afrika se bobaas-slimfoonfotograwe besorg.

Die eerste South African Mobile Photography Awards het vroeër vandeesmaand afgeskop en jy kan jou slimfoonkiekies nou in ʼn verskeidenheid van kategorieë vir dié kompetisie inskryf.

Maroela Media is die borg van die eg Afrikaanse kategorie in die slimfoonfotografiekompetisie. Ons wil hê jy moet help om die weg te baan as professionele of amateurfotograaf en jou slimfoon gebruik om dié kategorie op ʼn unieke wyse te help interpreteer.

Is eg Afrikaans vir jou ʼn koeksister, melktert, ʼn boek of wil jy vir ons ʼn spreekwoord uitbeeld? Is dit kuiers om die braaivleisvuur, die manier waarop ons ʼn Somerskersfees vier of die langpad langs die Weskus? Dalk is dit ʼn windpomp of die Karoo se sterreprag? Stuur vir ons jou slimfoonkiekies as viering van Afrikaans in die taal se mooiste glorie en skoonheid.

Jy staan nie net ʼn kans om R5 000 te wen as die wenner van die Eg Afrikaans-afdeling nie, maar sal ook ʼn allemintige geskenkpak ter waarde van R2 000 van Maroela Media ontvang.

Die geskenkpak bestaan uit:

  • Vier-sak-leerboeksak van Maroela Media
  • Boland-gedigte op vier boereporselein-blikbekers
  • Kombuistaal-yskasmagnete
  • Boerseep
  • Klapsoen-lipsalf
  • 3 x eg Afrikaanse toffies
  • Oom Boet se boeretroos

Boonop kan jy as die algehele wenner van dié kompetisie met R35 000 wegstap! Daar sal ook ʼn kontantprys vir die algehele naaswenners en elkeen van die oorblywende nege kategorieë se wenfoto’s wees.

Die kontantpryse word deur King Price Insurance geborg en Blackview Suid-Afrika verskaf ʼn splinternuwe robuuste slimfoon aan die algehele wenner as deel van die prys.

Alle inwoners van Suid-Afrika, maak nie saak waar jy jou tans in die wêreld bevind nie, kan vir die kompetisie inskryf.

Inskrywings kan op die webwerf www.mobilephotoawards.co.za gedoen word. Foto’s mag slegs geneem en geredigeer word met ʼn mobiele toestel, ʼn slimfoon of tablet.

Die kompetisie het reeds geopen en inskrywings sal tot 15 Januarie 2021 aanvaar word. Daarna sal lede van die publiek ʼn maand kry om vir hulle gunstelingfoto’s te stem, waarna die beoordelaars hul finale keuses sal maak. Die wenners van elke kategorie asook die algehele wenners sal op 26 Februarie 2021 aangekondig word.

Besoek www.mobilephotoawards.co.za vir meer inligting oor hierdie kompetisie.

  • Albert Bredenhann, professionele fotograaf en eienaar van Pixel Pro Photography, is die meesterbrein agter die nuwe Suid-Afrikaanse slimfoonfotografiekompetisie. Hy het met Maroela Media oor die kompetisie gesels. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.