Werknet: Rekordgetal poste vir werksoekers

Foto ter illustrasie. (Foto:
João Ferrão/Unsplash)

Solidariteit het Maandag bekend gemaak dat ʼn rekordgetal poste en CV’s op sy werksoekportaal, Werknet, gelaai is. Dit volg te midde van ʼn oooglopende styging in werksverliese wat oor die afgelope jaar waargeneem is en die ekonomie wat al hoe meer noustrop trek.

“Werknet is geskep om werksoek en die advertering van poste so maklik en toeganklik moontlik te maak. En ons doen dit boonop in Afrikaans,” sê dr. Juran van den Heever, hoof van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling.

“Die platform het reeds almal se verwagtinge oortref. Daar is ʼn hele paar beskikbare poste in verskeie sektore wat veral op sosiale media versprei word. Verskeie gemeenskappe het ook ingespring om te help om beskikbare poste onder geskikte kandidate se aandag te bring.”

Volgens Van den Heever het Covid-19 ʼn pad van verwoesting gesaai en talle huishoudings geruk weens die gepaardgaande werkloosheid en verlies aan inkomste.

Werknet het egter tydens die pandemie ʼn baken van hoop geword deurdat dié platform die Afrikaanse gemeenskap nog meer rondom werksgeleenthede organiseer en bystaan wat werk betref.

Van den Heever wys verder daarop dat dit veral vir kleiner ondernemings belangrik is om hul poste op Werknet te adverteer. “ʼn Hele paar werksoekers het reeds hul CV’s daar opgelaai en hulle hou poste dop om daarvoor aansoek te kan doen. Op hierdie wyse kom werkskeppers en werksoekers by mekaar uit en kan die gemeenskap mekaar help.”

Werknet brei eersdaags verder uit om ook voorsiening te maak vir skaduwerkgeleenthede vir matrikulante, vakansiewerk vir studente, internskappe en klerkskappe, asook gemeenskapswerkgeleenthede by die Solidariteit Helpende Hand. Dit gaan ook ʼn diensgids bied waar ʼn aansoeker met die oog op ekstra inkomste sy eie diens kan oplaai.

“Werk is die belangrikste komponent in enige mens se lewe. Sonder goeie werk kan ʼn mens uiteraard nie vir jou gesin sorg of vir die toekoms beplan nie. Daarom vervul Werknet ʼn sleutelrol onder die Afrikaner- en Afrikaanse gemeenskap deur werk te fasiliteer. As gemeenskap kan ons mekaar in hierdie netwerk van werk help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vlam ·

Sal fantasties wees om ons houtgoedjies daarop te adverteer. Of as vlooimarkte daarop hulle datums kan sit nog ‘n bonus

Jaco ·

Ek sien die woorde Afrikaner en Afrikaans in dié berig. Net die rasse wit en kleurling ontbreek. So ek wonder maar net: weet dié besighede wat op werknet adverteer dat hulle steeds aan regstellende aksie en BEE vereistes moet voldoen? Eks al meer as eenmaal deur ‘n werksoek proses. Elke keer was daar baie belowende hoë verwagtinge wat gekelder is NET omdat my velkleur “verkeerd” was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.