Wolkskool wil matrieks se sukses help verseker

Die Wolkskool se rooster. (Grafika: Verskaf.)

Die Covid-19-pandemie gaan nie matrieks se voorbereiding in die wiele ry nie. Danksy die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Wolkskool kon duisende Afrikaanse matrieks vanoggend afskop met regstreekse uitsendings van klasse.

Matriekleerders kan tot 9 April 2020 elke weeksoggend om 08:30 inskakel vir regstreekse lesse, om voor te bly met hulle skoolwerk. Hierdie diens word gratis deur die Wolkskool aan alle matriekleerders beskikbaar gestel, danksy finansiële ondersteuning van die Solidariteit Beweging en Virseker.

Skole sou vandag vir die tweede kwartaal heropen. Ongeveer 2 100 matrieks wat weens inperkingsmaatreëls tuis sit, het egter Dinsdag by die Wolkskool se regstreekse matriekuitsendings ingeskakel.

“Die SOS het reeds baie positiewe terugvoer ontvang van waarderende ouers en leerders,” het Valentyn van der Merwe, hoof van innovering by die SOS, gesê.

Matrieks kan direk inskakel op uitsendings by live.wolkskool.co.za. ʼn Vaste rooster word gevolg, met die fokus op agt kernvakke:

  • Wiskunde: 08:25 – 09:20
  • Lewenswetenskap: 09:30 – 10:20
  • Afrikaans Huistaal: 10:30 – 11:20
  • Fisiese Wetenskap: 11:30 – 12:20
  • Engels: 12:30 – 13:20
  • Besigheidstudies: 13:30 – 14:20
  • Wiskundige Geletterdheid: 14:30 – 15:20
  • Rekeningkunde: 15:30 – 16:20

Leer aanlyn saam met die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Wolkskool. (Foto: William Iven/Unsplash.)

Volgens Van der Merwe het daar die afgelope paar dae meer as 52 000 nuwe leerders van alle grade op die Wolkskool geregistreer.

“Hierdie drastiese groei in leerdergetalle op die Wolkskool hou bepaalde uitdagings vir die tegnologie in.

“Om die verhoogte aanvraag te hanteer, word die infrastruktuur-kapasiteit deurlopend uitgebrei. Aanpassings word juis tans gemaak. Die Wolkskool behoort teen Woensdagoggend weer vlot te funksioneer,” het hy gesê.

Na verwagting sal skole weer op 20 April heropen.

  • Besoek www.skole.co.za vir ’n maklike stap-vir-stap verduideliking om gratis by die Wolkskool aan te sluit.
  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.