Grootmense, kleinmense en lewenslesse

kinders-speel

Grootmense kan gerus by kinders gaan leer oor vreugde. Foto: Verskaf.

Katinka en Mathilda kom aangehardloop en vertel ’n bul het hulle gejaag. Later die oggend ontmoet ek die skuldige bees. Ek wou nie hulle bubble bars nie, maar voel tog ek moet die kans gebruik vir ʼn belangrike lewensles.

“Wanneer ʼn bul vier tôties het, is daai bul ʼn koei en nie ʼn bul nie,” sê ek.

Ek moes my kinders al baie dinge leer: dat party karre met petrol werk en ander met diesel, dat ʼn mens, as jy ʼn spyker met ʼn tang vashou, nie so maklik jou vinger met ʼn hamer raakslaan nie en hoe om te roei.

So, daar ís dinge wat ons ons kinders kan leer, maar die eintlike kuns is om by húlle te leer.

Nou die dag begin Mathilda skree dat ons ʼn reënboog moet kom kyk. Ek was nie lus om uit te gaan nie. Dit was nat. Sy hou aan roep. Toe ek uiteindelik buite kom, dans sy, Katinka en Nthando in die reën. Iets wat ek maklik sou kon misloop as ek soos ʼn tipiese grootmens in die huis sou skuil.

Jesus het nie vir kinders gesê hulle moet soos grootmense word nie, hy het vir grootmense gesê hulle moet soos kinders word – en dis belangrik dat ons dit onthou.

Klein kindertjies kan ons belangrike dinge leer. Soos om nie snobs te wees nie. Hulle weet nog nie lekker tot watter nasie hulle behoort nie, watter kleur hulle is en of hulle ryk of arm is nie. Hulle diskrimineer nie. Hulle is ewe lelik met alle kinders wat met hulle speelgoed wil speel, ongeag of daai kind wit of swart of Chinees is!

Destyds toe ek in Indië gewoon het, het die haglike omstandighede waarin kinders grootword my dikwels ontstel, maar terselfdertyd was ek ook dikwels verbaas oor die vreugde van die kinders op straat. Hulle kon letterlik in die stof en modder sit en lag. As jy op daardie oomblik ‘n “blydskapsmeter” op hulle sou sit, is ek seker hulle vreugde (ten minste vir daai oomblik) was niks minder as dié van ʼn kleuter in Spur se speelplek of ʼn grootmens wie se rugbyspan pas gewen het nie.

Ryk volwassenes, in ʼn wêreld soos ons s’n, het baie om te leer by arm kinders. Vir mense soos ek is daar dikwels materiële voorwaardes vir geluk. Dis nie sommer enigeen beskore nie! Daar is altyd nog een ding om te besit om werklik gelukkig te wees, leer die advertensies ons.

ʼn Groot deel van my lewe gaan vandag daaroor om arm kinders te probeer help, maar ek raak ook al meer bewus van die feit dat ons in ons pogings ʼn fout maak as ons nie ook bereid is om by húlle te leer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Susan ·

Lekker geskriffie, vol waarheid!! Maak my dag! Maar laat mens ook dink. Dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.