Helde van die vuurtoring

kaap-aghulhas-vuurtoring

Die Kaap Agulhas-vuurtoring. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Die Kaap Agulhas-vuurtoring is onlangs tot historiese landmerk verklaar deur die president van die Amerikaanse Historiese Vereniging van Geskiedkundige Ingenieurswerke (*1). Daar is net eenhonderd sulke uitskieters op aarde. Maar daar is ’n storie agter hierdie prestasie wat nou vir die eerste keer onthul word.

Dit was so hittete of dié vuurtoring, soos ons hom vandag ken, het heeltemal in onbruik verval. In die laat 70’s en vroeë 80’s het Afrika se suidelikste soeklig opgehou draai.

Die koloniale heersers aan die Kaap het hierdie suidelikste baken op Afrika se hakskeen in 1847 laat oprig ná tallose skepe in hierdie “begraafplaas van skepe” ’n watergraf gevind het, óf hulle op die verraderlike draketande wat die kus omsoom, te pletter geloop het. Meer as 120 opgetekende skeepswrakke lê op hierdie ongetemde kus.

Michiel van Breda – eienaar van die plaas Zoetendals Vallei (**2) en die stigter van Bredasdorp – skenk die grond waarop die vuurtoring staan en die bouwerk word in Desember 1848 voltooi. In daardie dae moes hulle nog lig maak met die vet van skaapsterte – vandaar die naam “vuur”toring – maar op 1 Maart 1849 laat ons vuurtoring die eerste keer sy liggie skyn.

Op ’n dag in die laat 70’s in het Afrika se suidelikste soeklig opgehou draai. ʼn Gebrek aan fondse, met gepaardgaande gebrek aan instandhouding, was die hoofoorsake.

’n Groep besorgde Suidpunters, veral Sura Pieterse en wyle Hercules Wessels, en Hein en Marlene Wessels, wou nie net staan en toekyk hoe hul geliefde vuurtoring agteruit gaan nie. Hulle kom al jare der jare na L’Agulhas en het strandhuise hier. Hulle oogmerk: herstel Afrika se suidelikste vuurtoring weer tot sy eertydse glorie (die owerhede was maar traag om geld uit te gee vir hierdie edel motief).

Uiteindelik breek daar toe op ’n goeie dag ’n ligstraatjie deur: “Samel die helfte in van wat nodig is om die toring te herstel, en ons betaal die ander helfte van die herstelkostes” kom die boodskap eendag van die destydse Spoorweë en Hawens se afdeling Vuurtoringdienste af.

Onverpoosd begin die Suidpunters geld in samel. Baie van die vuurtoringbeskermers is boere, en hul beursies staan oop vir die projek.

Die wonderwerk gebeur: danksy die pogings van die Suidpunters samel hulle genoeg geld in om die vuurtoring in sy vorige glorie te laat opknap.

Herstelwerk begin in 1984 en in 1988 is die vuurtoring herstel en heropen. Vandag knipoog sy lig ’n volle 29 seemyl (***3) op die diepsee om skepe te waarsku om hier weg te bly. Andersins, sonder dié waarskuwingslig, bly straks net jou ribbes hier op ons rotse agter.

“Ons kom sedert ons geboorte L’Agulhas toe. Niemand het harder gewerk as Herklaas Wessels om die vuurtoring te red nie”, vertel een van die staatmakers van die beweging om die suidelikste erfenis in Afrika van algehele verval te red.

“Hercules was voorsitter van die Raad van die Skeepswrakmuseum op Bredasdorp. Hy en ons LV, Oubaas Malan, het die minister gaan sien. Dit was ’n keerpunt in ons reddingsaksie”, onthou Hein.

In die vroeë 90’s stig kampvegters van die toring “Die Vriende van die Vuurtoring” uit die Wrakmuseumraad, met Hercules as eerste voorsitter. Nóg ’n naam wat genoem moet word, is dié van wyle professor Carl Lohan, afgetrede dosent van Potchefstroom, wat destyds kurator van die Skeepswrakmuseum was en die kosbare kleinood weer tot sy reg laat kom het.

“Die vriende van die Vuurtoring” het een keer per maand die smaaklikste boerekos in die restaurant op die grondvloer voorgesit. Hierdie geld is gebruik om die kurator van die toringmuseum te besoldig.

Die storie oor hoe die vuurtoring gered is, het egter nog ’n kinkel:

Een Kersfees – alle aanduidings is dat dit 1978 kon wees – kuier die drie aanvallige Cowper-susters by hul ouers in Southermost, die suidelikste privaat huis in Afrika. (Terloops, die Cowpers se huis was skaars 400 meter van die vuurtoring en staan tot vandag toe nog daar.) Op die ingewing van die oomblik besluit hulle: “Kom ons gaan kyk na die vuurtoring”.

Maar ʼn groot teleurstelling wag op die drie susters. Met ’n skok moes hulle sien dat vandale die plek beskadig het. Daar was tekens van vuurmaak en die glas bo in die toring asook die duur Fresnel-prisma is stukkend- en uitgeslaan. Voëls, veral bosduiwe, het orals nesgemaak en daar was selfs menslike ontlasting teenwoordig. Die besoekersboek, ʼn stille getuie van talle historiese oomblikke, het vuile en verslete op die vloer gelê.

Die Cowper-susters was verslae. Maar hulle het ook ’n pligsbesef gehad – iets moet gedoen word. Hul Toring is immers al in 1973 tot nasionale monument verklaar.

In aller yl haas Meg, Janda en Gill terug na Southermost. Terug in “Die Spookhuis”, wat Ma Freda Cowper in 1959 vir 1 500 pond van Pietie Albertyn gekoop het, probeer hulle vir dr. Anton Rupert, invloedryke sakeman en beskermheer van historiese gedenkwaardighede in Suid-Afrika, opspoor. Hulle pogings word beloon, want hulle kry dr. Rupert se sekretaris in die hande en verduidelik die haglike toestand van die vuurtoring. En dr. Rupert se raad word na Southermost herlei: “Maak al die vensters toe. Sluit die vuurtoring onmiddellik en hou die sleutel.”

En só word dr. Rupert se instruksie, danksy die ingryping deur Meg Cowper-Lewis en haar susters uitgevoer – nóg ’n klein juweeltjie in die verhaal van die vuurtoring.

Op 1 Maart 1999 word die 150ste bestaansjaar van Afrika se suidelikste vuurtoring gevier. Meg Cowper-Lewis en die einste dr. Anton Rupert het albei die geleentheid bygewoon.

Die restaurant op die grondvloer van Afrika se imposantste ikoon wat die beste brandewyntert bedien het, bestaan nie meer nie. Maar waar die Suiderkruis aan die hemeltrans hang, swiep ’n wit straal nog steeds oor die dorpie van L’Agulhas…

 Voetnotas

  1. Daar is net twee ander landmerke in Suider-Afrika wat aan die streng kriteria van hierdie vereniging voldoen: Die Victoria-watervalbrug oor die Zambezirivier en die Woodhead-dam op Tafelberg. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs is gevra om ’n voorlegging aan sy Amerikaanse eweknie te maak, en ná deeglike oorweging het die Suid-Afrikaanse liggaam op die L’Agulhas Vuurtoring besluit. Ná die vuurtoring op Groenpunt, is onse toring die oudste een in Suid-Afrika wat nog bedryf word.
  2. Zoetendals Vallei (twee woorde) bestaan vandag nog. Die plaas behoort aan Michael van Breda, ’n nasaat van Michiel van Breda, stigter van Bredasdorp. Die plaas grens aan Zoetendalsvlei, Suid-Afrika se grootste varswatermeer.
  3. Een seemyl is 1,852 kilometer. Die roterende optiese skyf flits een keer elke vyf sekondes ʼn wit straal oor die see en die dorpie.
  • Pierre Massyn is ’n meesterseiljagvaarder (Aflandig) en die voormalige adjunk-skakelhoof van die grootste uraanmyn ter wêreld, Rőssing Uranium, wat in 1986 sy lonende beroep prysgegee het om te gaan seil. Hy het twee jaar later met net die klere aan sy lyf na Afrika teruggekeer. Hy sal vir altyd ’n swerwer bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Essa ·

Ek stem saam – met waardering aan almal wat saam gewerk het aan die grootse poging.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.