Ideologie, Suid-Afrika en die Koue Oorlog

koue-oorlog

Foto: Factretriever.com

Deur Pierre Massyn

Ons hoor dikwels van die Koue Oorlog. Wat is die Koue Oorlog? Per definisie is dit ’n soort ideologiese konflik wat plaasvind sonder dat die opponente hul noodwendig tot die wapen, in watter vorm ook al, wend. In sy suiwerste vorm is dit ’n stryd tussen die Ooste – veral die ou Unie van Sosialistiese Sowjet-Republieke (nog voor glasnost) – en die Weste, gelei deur die VSA, oftewel Amerika.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Rusland, (met Rusland word bedoel die land en al sy satellietstate soos, byvoorbeeld, die Oekraïne en Georgië wat in hierdie kollektiewe naam ingesluit is) na vore getree as die supermoondheid in die Ooste. Die Rooi Leër, gelei deur Joseph Stalin, ’n massamoordenaar in eie reg, het die magsbasis geword waarop hierdie nuut verworwe status berus het.

Feitlik die hele Oos-Europa het onder sy beheer gekom, ná die vakuum wat gelaat is toe Duitsland stelselmatig eers uit Rusland en toe uit die Balkanlande wat hy beset het, verdryf is. Die Duitse diktatorskap is eenvoudig deur ’n Russiese een vervang. Lande soos Pole, Tsjeggo-Slowakye en Hongarye het gou besef dat die Russiese “bevryder” maar net nog ’n onderdrukker in ’n ander gewaad is.

In Bulgarye kon ek kommunisme in 1985 persoonlik ervaar. Om enigiets te kon koop, moes jy ’n koepon in die hande kry. Dan moes jy toustaan. En jou keuses was uiters beperk, want die winkelrakke was feitlik leeg. Godsdiens is streng verbied. Daar was ook geen sprake van mediavryheid nie. En orals was die neerdrukkende teenwoordigheid van die polisie en soldate.

Die twee opponerende ideologieë in die Koue Oorlog was aan die een kant Marxisme – soos verabsoluteer deur Lenin en later Stalin, en sy Chinese weergawe soos verfyn deur Mao Zedong (soos Stalin, self ’n massamoordenaar), versus die Weste se kapitalistiese vryemarkstelsel.

Die Koue Oorlog het amptelik in 1947 begin, maar daar is aanduidings dat verhoudinge tussen die Weste en Moskou reeds onmiddellik ná Duitsland se kapitulasie op 7 Mei 1945 begin vertroebel het. Wedersydse wantroue het toe reeds kop uitgesteek.

Nog voor die oorlog beëindig is, is op die Yalta-kongres wat in Februarie 1945 tussen die wêreldleiers Roosevelt, Churchill en Stalin gehou is, besluit dat hulle met niks anders as Duitsland se onvoorwaardelike oorgawe tevrede sal wees nie. Dié drie menere het reeds hul lippe afgelek oor hoe Europa daar sou uitsien ná Hitler verslaan is. Feitlik die hele Oos-Europa sou ná die oorlog binne Stalin se kommunistiese invloedsfeer val.

Duisende Duitsers het net ná die oorlog by die Franse Vreemdelegioen aangesluit en is in Indo-China ontplooi waar Frankryk in ’n verbete stryd teen ’n ander ideologiese vyand, die kommunistiese, Maoïstiese Viet Minh, gewikkel was. Vir baie Duitsers was die Viet Minh dieselfde vyand, in ’n ander uniform[1]. Hulle was gelukkig. Dié wat na krygsgevangenekampe in Siberië en elders in Rusland gestuur is, het byna sonder uitsondering weens wrede dwangarbeid en siektes soos tifus (tronkkoors) ’n doodsvonnis gekry.

Die oorlog was skaars beëindig, toe die Weste begin besef Rusland is die ideologiese vyand. Soos twee boksers aan die begin van ’n geveg, voel-voel die twee kampe mekaar eers; probeer vasstel hoe ver jy kan, voor ’n volskaalse oorlog opnuut uitbreek.

In reaksie op die Russiese magsopbou, word die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) in 1949 gestig. Dit was veronderstel om ’n soort buffer teen die Oosblok te vorm. Hul slagspreuk is om kollektiewe sekuriteit teen die Sowjetunie in te stel. Ironies word Duitsland, wat in 1939-‘45 as die universele vyand gebrandmerk is, nou een van Navo se sleutelspelers. In die oorlog het die Weste met Rusland saamgespan om Duitsland te verslaan. Rusland word weldra as die nuwe vyand beskou en Duitsland word by Navo betrek. Die pionne in die magstryd het geskuif. In ’n sekere sin wil dit voorkom asof die Weste in die oorlog teen die verkeerde vyand baklei het.

Spoedig begin die twee vyande met ’n kernwapenprogram. Interkontinentale oorlogvoering is nou ’n wesentlike werklikheid. Supersoniese vegvliegtuie kan binne sekondes oor vyandelike terrein ontplooi word. Kernduikbote is in staat om groot afstande onopsigtelik tot op strategiese punte op die wêreld te maneuver van waar hulle hul dodelike kernmissiele kan loslaat. Die Kernsperverdrag bestaan net op papier. Agter die skerms word dit ’n spel van spioenasie en teenintelligensie, waarin die Amerikaanse Intelligensiediens (CIA) en die Russiese Komitee vir Staatsveiligheid (KGB) die hoofrolle speel.

Die Koue Oorlog bereik ’n nuwe dimensie toe Amerika en Rusland, aangevuur deur suiwer patriotisme, miljoene dollars en dekades se navorsing, in die ruimteresies belê. Amerika maak seker dat die CIA reeds teen die einde van die oorlog die beste Duitse breinkrag in die hande kon kry, aangesien Duitse tegnologie met hul V-2-vuurpyle reeds ver gevorder was. Die briljante Werner von Braun[2] word sonder meer na Amerika verplaas en sy kennis word aangewend in die ruimteresies. Dit word byna ’n obsessie om ’n mens in die ruimte te kry. Die Russe kry hul neuse voor met Sputnik en Yuri Gagarin, maar die Amerikaners plaas Neil Armstrong eerste op die maan.

Ook op die sportfront neem die Koue Oorlog absurde afmeting aan. Amerika boikot byvoorbeeld die 1980 Olimpiese Spele in Moskou. Die amptelike rede is glo Rusland se inval in Afghanistan. Maar Rusland kry sy eie hou in toe hy op sy beurt die Spele vier jaar later in Los Angeles boikot.

Die Koreaanse Oorlog tussen die kommunistiese noorde (gesteun deur China en die Sowjetunie) en die Westersgesinde en -gesteunde suide was ’n direkte uitvloeisel van die Koue Oorlog. Amerika se betrokkenheid in Viëtnam het sy grondoorsake in ideologie gehad. Die VSA wou nie ’n kommunistiese oorname deur Noord-Viëtnam en sy Viëtkong-vegters in Suid-Viëtnam duld nie en het namens die Weste die vakuum gevul wat ontstaan het ná Frankryk se uitgerekte stryd teen die Viet Minh en uiteindelike onttrekking uit Indo-China. Reeds tydens Frankryk se jare lange stryd, het Amerika logistieke en materiële steun verskaf.

In ons eie land, Suid-Afrika, sou ’n reaksie teen die kommunistiese ideologie ook beleidsrigtings bepaal. Die Nasionale Party het sedert sy bewindoorname in 1948 sterk standpunt daarteen ingeneem, veral op militêre vlak. Kuba was ’n eksponent van Russiese kommunisme. Omdat Suid-Afrika in Angola betrokke was, het dit ons in konflik met Kuba gebring waar hy logistieke en operasionele steun aan FAPLA verleen het. In sy kantoor in Windhoek voor onafhanklikheid, het Max du Preez[3] ’n plakkaat ten toon gestel waar die volgende uitbeeld word: ’n Yslike Russiese beer stoot ’n Kubaanse soldaat voor hom uit. Die Kubaan stoot op sy beurt ’n klein Swapo-soldaat voor hom uit. En die Swapo-soldaat veg teen die “rassistiese, koloniale Boere” om hulle uit Namibië te verdryf.

Die Suid-Afrikaanse militêre owerhede het hul eie propaganda-hou ingekry. Hulle het duisende T-hempies laat maak waarop ’n Voortrekkeragtige boer met ’n ruie bosbaard en ’n voorlaaier verskyn. Die onderskrif  was: Die boere is hier om te bly!

Suid-Afrika se antikommunistiese standpunt, asook die buiteland se afhanklikheid van sommige van ons strategiese minerale, maak ons in sekere Westerse kringe ’n bondgenoot. Vir jare lank word Suid-Afrika gesteun deur konserwatiewe Westerse leiers soos Amerika se Ronald Reagan en Brittanje se Margaret Thatcher.

“As jy teen ons vyand is, is jy noodwendig ons vriend”, word daar by implikasie gefluister. Tydens ’n besoek in ’n niemilitêre hoedanigheid aan die grens van Suidwes-Afrika voor die land as Namibië sy onafhanklikheid gekry het, het die volgende treffende en veelseggende inskrywing van ’n hooggeplaaste Amerikaanse afvaardiging in ’n amptelike weermagbesoekersboek my tussen die oë getref:

“Thank you, brave South Africans, for fighting our war for us. ”

  • Pierre Massyn is ’n navorser, amateurhistorikus en voormalige lid van die Suid-Afrikaanse Oorlogsgraftekommissie.

Bronne:

  • Operation Paperclip, Annie Jacobson
  • Operation Barbarossa, Robert Kirchubel

Voetnotas:

[1] Vergelyk Devil’s Guard deur George Robert Elford

[2] Von Braun en ander topwetenskaplikes het hulle op 2 Mei 1945 aan die Geallieerdes oorgegee.

[3] Max du Preez was Naspers se verteenwoordiger in Windhoek. Hy het Beeld as die Boere-Pravda beskryf (Pravda is ʼn Russiese koerant). Max du Preez het politieke plakkate versamel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jerry ·

Suid Afrikaners is ook in n koue oorlog van hul eie gewikkel. Kommunisme, sosialisme, marxisme, pan Afrikanisme vs vryemark kapitalisme. SA se koue oorlog dui daarop dat die sterker, onstuitbare en meer populere idees aanslag links en heel links le. Terwyl apartheid die aanslag n nekslag toegedien het, was dit reeds n uitgemaakte saak dat die aanslag na apartheid sal herleef en dat die vryemark kapitalisme sonder apartheid in SA, sal sneuwel en vervang sal word met n sosialisme soortgelyk aan China se totalitere kapitalistiese sosialistiese staat. SA se parlement, regbank en grondwet word baie effektief ingespan om hierdie verandering te weeg te bring tesame met die koue oorlog klimaat van totale wantroue wat geskep was deur staatskaping fase 1. Staatskaping fase 2 vir die nasionalisering van die gesondheidsektor gaan opgevolg word met nasionalisering van die res van die privaatsektor, die Reserwe Bank en finansiele instansies. SA is onstuitbaar en onherroeplik besig om midde die koue oorlog en midde die afwesigheid van apartheid, gedekoloniseer te word! Die muur van weerstand van die vryemark kapitalisme het reeds verbrokkel tot n onbruikbare hopie wanhoop! Geen opposisie party of organisasie kan meer deel wees van n oplossing nie, omrede almal bloot ook deel geraak het van die probleem, midde in die koue oorlog.

Nico K ·

Om hierby aan te sluit wil ek graag vertel van George Orwell se boek Animal Farm wat hy net na die 2de Wêreld Oorlog geskryf het. Dit was duidelik dat die boek op Rusland gemik was. (Tegnies korrek die Sowjet-unie.) Blykbaar is die karakter van die hoof vark direk op Stalin gebasseer. Maar omdat Rusland op daardie stadium nog die VSA en Brittanje se vriend was wou niemand die boek uitgee nie. Die boek is eers so 2 jaar na die oorlog uitgegee toe die Weste besef het dat hulle hulself misgis het met Stalin.

lewies ·

‘n Oorlog wat gekenmerk is deur koue kliniese verhoudings tussen mense, waar die sterkste, slimste, mees onvoorspelbare gedrag gemeng met ‘n mentaliteit van grootheidswaan, aan die orde van die dag was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.