Is daar ʼn groenoog-monster in jou huwelik?

Foto: Pixabay

Deur Annelize Steyn

Elke getroude paartjie beleef ʼn mate van jaloesie. Jy hou immers nie daarvan as ʼn mooi Eva met mooi bene vir jou mooi Adam loer nie… maar waar trek jy die streep tussen gesonde jaloesie en gevaarlike jaloesie?

Toe Leah en James op kollege begin uitgaan, het Leah waarlik spesiaal by hom gevoel. Hy het kwaad geraak wanneer ander ouens vir haar kyk, en in ʼn groot geselskap sou hy sy arm beskermend (besitlik?) om haar vou. In haar vorige verhouding is sy herhaaldelik verkul en James het haar laat voel soos die belangrikste mens op aarde. Maar mettertyd het sy liefde vir haar in iets anders begin verander.

Toe sy ʼn paar jaar later ʼn goeie pos as rekenmeester in Sandton losgeslaan het (hulle het in Pretoria gebly), het hy haar soms tot twaalf keer per dag gebel. Terwyl sy eers gedink het dit was uit besorgdheid, het sy later agtergekom dat hy pal wou weet waar sy is en wat sy doen. Eendag het hy sy misnoeë oor haar uitrusting uitgespreek.

“Hy het gevra of ek nie iets anders wil aantrek nie, want dít wat ek aanhet, lyk effe goedkoop. My bloes het toegeknoop tot by my nek en my potloodrompie het onder my knieë gesit!” vertel Leah.

Sy het geantwoord dat sy beslis nie gaan toelaat dat hy haar kleredrag voorskryf nie en hy het woedend geword, uitgestap en weggejaag. Vir 24 uur was hy skoonveld en sy het hom eers weer die volgende oggend gesien.

Leah het die hele nag wakker gelê en dit is tóé wat die waarskuwingsligte vir haar begin flikker het.

“Ek het skielik die tekens raakgesien wat ek voorheen ignoreer het, en dit het vir my baie duidelik geword dat ek op gevaarlike terrein met hierdie man beweeg.”

Sy het hul verlowing verbreek en hy het haar maande lank met telefoonoproepe geteister – só erg dat sy ʼn interdik teen hom moes kry.

“Sy jaloesie was buite beheer en ek sidder as ek dink wat sou gebeur het as ek met hom getrou het.”

Wat is jaloesie nou eintlik?

Jaloesie is ʼn normale emosie, ʼn emosie wat elkeen in die een of ander stadium van hul lewens beleef. Dit is daardie ongemaklike gevoel wat jy kry wanneer manlief na ʼn rampartytjie toe gaan, of die irritasie wat jy beleef wanneer sy jare lange beste vriendin met hom klets oor die goeie ou dae. Ja, hoewel jou maat nooit jou besitting is nie, is hy tog jou gekose maat en is julle eksklusief mekaar se lewensmaats. Dit is dus normaal om effe jaloers te wees.

Maar jaloesie kan gou in ʼn ongesonde emosie ontaard, meen huwelikskenner Sheri Stritof op verywellmind.com. Heelwat gebroke huwelike en selfs gesinsmoorde het begin by ongesonde jaloesie.

Sy beskryf jaloesie as ʼn reaksie op ʼn waargenome bedreiging teenoor ʼn waardevolle verhouding en dit is ʼn taai kwessie by sowat een derde van alle paartjies wat huweliksberading ontvang.

“Daar is geen rede om te glo dat jaloesie mettertyd sal verbeter nie. Jaloesie is nie ʼn emosie wat weggewens kan word nie.”

Wat is normaal en wat is nie?

Daar ís so iets soos goeie jaloesie! Gesonde jaloesie is voordelig vir ʼn huwelik. Wanneer manlief effe rooi om die kraag raak oor jou vriendelike manlike kollega, laat dit jou met ʼn lekker gevoel, want dit wys tog dat jy vir hom belangrik is en hy jou nie wil verloor nie! Dit laat jóú ook sommer geliefd en gewaardeerd voel, asof jul liefde sterker is as enigiets – en gevolglik is die seks ook sommer passievol! Goeie jaloesie konfronteer ernstige aanslae teen jou huwelik vóór dit handuit ruk.

Gesonde jaloesie kan jou help om jouself en jou maat beter te verstaan. Yazhini Srivathsal, ʼn sielkundige van Scottsdale, Arizona meen: “Dit kan help om emosionele grense te breek, mekaar se weerloosheid bloot te stel en ʼn sterker verhouding te bou.” Sy stel dus oop gesprekke met jou maat voor oor waar jou jaloesie vandaan kom.

Uitsonderlike jaloesie is egter gevaarlik. Dis ʼn rooi lig wat kan waarsku teen potensiële mishandeling.

Jaloerse mense voel dikwels so oorweldig deur hul emosies en onsekerheid dat hulle beheer oor hul maats wil uitoefen. Dit kan lei tot geweld, finansiële mishandeling of ʼn verbale geboelie om beheer te behou of om hul jaloesie te verskans, meen Sheri.

Hoe weet ek my maat se jaloesie is ongesond?

  • Jy gaan winkel toe om ʼn mooi swart rokkie te koop, maar manlief wil weet waar jy was, hoekom jy die rokkie gekoop het en of jy dalk wil mooi lyk vir ʼn ander man.
  • Jy gaan kuier saam met vriendinne en jou man dring aan op ʼn gedetailleerde verslag oor waar jy was en saam met wie jy gekuier het.
  • Jy is uit vir ʼn meisiesaand, maar jou foon lui elke tien minute. Dit is jou man wat net op-“check” op jou. Hy kan jou blatant vra wat jy doen of dit soos “onskuldige oproep” laat klink.
  • Jy betrap jou maat al weer met jou selfoon, besig om e-posse en WhatsApp-boodskappe te lees met die verwagting dat jy ontrou is of ʼn leuen vertel.
  • Jou maat reageer snaaks wanneer ʼn ander man na jou kyk. Dit is asof jy die woede aan sy lyf kan lees en jou selfversekerde man is skielik onseker van homself. Hy bewe, raak lighoofdig, kry depressie en sukkel met slapeloosheid.
  • Jou maat maak stories op. Sy brei uit oor die manier waarop jy met die vrou by die partytjie flankeer het, terwyl jy regtig net hoflik was.
  • Jy kom agter dat jou maat jou agtervolg, selfs wanneer jy buite met ʼn selfoon-oproep besig is.
  • Jy wil graag by jou sussie gaan kuier, maar jou maat hou nie daarvan nie. Hy probeer jou vryheid beperk (subtiel of blatant) en wil ʼn stokkie steek voor elke sosiale afspraak wat jy probeer maak (selfs met familielede).

In Green Eyed Marriage skryf Robert L. Barker: “Vir diegene wat abnormale jaloesie ervaar, bring die emosie ʼn selfvervullende profesie. Soos wat hul maat probeer om hulle te vermy, word hul grootste vrees om liefde en respek te verloor, waar.”

Dit lei dan tot verwyt en verdediging en sal eindelik die laaste brokkie vertroue in ʼn verhouding vernietig, wat sal lei tot meer argumente. ʼn Maat wat voortdurend gerus gestel moet word en verseker moet word van die ander party se liefde, is vermoeiend en die ander party skram weg van so ʼn persoon af – wat die bal natuurlik aan die rol sit.

Hoekom is jou maat jaloers?

Jaloesie het verskeie oorsake. As jou maat uitermatig jaloers is, kan dit wees omdat emosies soos vrees, woede, hartseer en selfbejammering by hom spook. Volgens huwelikskenner en skrywer Sheri Stritof word jaloesie veroorsaak deur:

  • Onrealistiese verwagtinge oor die huwelik in die algemeen (“My maat moet hééltyd aan my sy wees, en ek mag nie met ander mense praat nie.”)
  • Onrealistiese verwagtinge oor ʼn huweliksmaat (“My maat moet haarself onaantreklik maak sodat niemand ooit in haar rigting kyk nie.”)
  • ʼn Foutiewe gevoel van “eienaarskap” oor ʼn huweliksmaat (“Sy is mýne en as ek haar nie kan kry nie, mag niemand haar kry nie.”)
  • Die herlewing van ʼn seer ervaring of verwerping in die verlede (“Wanneer hy weggaan sonder om my te bel, voel ek soos ek gevoel het in my eerste ernstige verhouding, toe daardie ou dit ook gedoen het en my agter my rug verkul het.”)
  • ʼn Gevoel van onsekerheid of swak selfbeeld (“Ek haat dit as hy so met Diana gesels. Sy is mooier én maerder as ek – en sy het boonop ʼn sterker persoonlikheid. Wat as hy haar kies bo my?”)
  • ʼn Vrees vir verwerping (“My pa het my verwerp as ʼn jong dogtertjie en ek sal nie toelaat dat ʼn man my ooit weer so verwerp nie.”)
  • ʼn Vrees om iemand te verloor wat vir die persoon belangrik is (“Ek wil nie hê sy moet te veel tyd met haar sussie deurbring nie. Nou-nou praat dié haar om om my te los en ek kan nie sonder haar klaarkom nie.”)
  • ʼn Intense gevoel van besitlikheid en begeerte na beheer. (“Sy is mý vrou en ék sal bepaal wie sy sien, wat sy aantrek en hoe sy haar in die openbaar gedra.”)

Hoe hanteer jy jaloesie in ʼn huwelik?

  1. Weet dat ʼn mate van jaloesie normaal is. Dit ís nie lekker as iemand met jou maat flankeer nie en dit is beslis nie lekker as jou maat weg van die huis af moet werk nie. Praat hieroor en stel sekere grense wat jou huwelik sal beskerm.
  2. Stel vas wat die wortel van die probleem is. Hoekom is jou maat jaloers? Ís jy dalk oorvriendelik met vroulike kollegas? Bestee julle die afgelope tyd beperkte tyd met mekaar? Doen wat jy kan om jou maat se jaloesie te verlig of om hom/haar gerus te stel.
  3. Kweek ʼn atmosfeer van vertroue. Albei maats moet getrou en toegewyd en eerlik wees. Getroue maats jok nie oor hoe hulle hul tyd bestee nie, hulle vertel nie wit leuentjies nie. Doen wat jy kan om seker te maak die vertroue tussen julle groei.
  4. Weet wanneer jaloesie te ver gaan. Herken die rooi vlaggies: Ekstreme woede, onrealistiese verwagtinge, ongegronde beskuldigings. As jou maat beheer oor jou probeer uitoefen, is dit nooit gesond nie. As jy vind dat jy jou doen en late gereeld moet verdedig, is dit ʼn rooi vlaggie.
  5. Vertrou mekaar se instink. As jy weet jou maat is gebalanseerd en leef volgens staan in lyn met God se wil, vertrou jou maat wanneer hy ongemaklik voel. Jou man weet hoe ander mans dink, wat hulle wil hê en hoe hulle dit gaan kry. Jou vrou het ʼn radar wat ander vroue se intensies dikwels raaklees. Moet dit nie afmaak as paranoia nie.
  6. As jy die een is wat gereeld jaloers voel, vra jouself waar dit vandaan kom. Is jy bang jou maat los jou? Of was jou maat ontrou in die verlede en nou is jy bang dit gebeur weer? Kry ʼn terapeut wat jou kan help om jou jaloesie te hanteer.
  7. As jy jaloerse gedagtes het, daag hulle uit. Vra jouself of jou gedagtes waarlik gegrond is en of jy besig is om irrasioneel te dink. Het jou maat jou al ooit rede gegee om haar telefoonboodskappe te ondersoek?

Jy dink dalk nie jy is die jaloerse tipe nie, maar jou maat beleef dit anders. As dit enigsins konflik in jul verhouding meebring, besluit voortydig om dié saak in die kiem te spoor deur professionele hulp in te win. Jaloesie ís oorkombaar, maar indien julle dit nie saam aanpak nie, kan dit ernstige probleme in jou huwelik veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Soetrissie ·

Ek was in so verhouding.Gedurig van verhoudings en ontrouheid beskuldig.Jy probeer om die teendeel te bewys,dan raak dit net erger en erger.Hoe bewys jy dat jy getrou is en nie ‘n verhouding het nie?En dit terwyl jy heeldag by jou maat is.Het nie eers alleen winkels toe gegeggan nie,het vriende en sport opgegee en selfs dit was nie genoeg nie.As my selfoon gelui het of boodskap ontvang is,moes ek wys van wie dit kom.Tot die bank sms’e was ‘n doring in ons verhouding.Geen wenner nie.

Feite ·

Uitstekende skrywe wat raad bied aan jongmense wat met n jaloerse lewensmaat en die se probleem opgeskeep sit. Diegene met n probleem lewe gewoonlik in ontkenning van hulle probleem. Die onus om iets daaromtrent te doen berus dus hoofsaaklik by die ander persoon, maar om n waansinnige jaloerse persoon te probeer oorreed om hulp te kry, is soos vet op vuur. Daar is dus net twee opsies nl, of hulp of skei anders kan dit ontaard in “hel op aarde”!

DewaldS ·

Diegen wat glo Liefde is Blind het nog nie gesien wat Jaloesie kan doen nie…

Koos ·

Ek wil net sê die dag as jy trou word jy een. So geen meer “girls night out” of “mens night” nie. As jy nog dit wil doen moet nie trou nie. As een in die huwelik dit wil doen lê die probleem nie by die een wat jaloers is nie maar by die een wat sonder sy maat wil uitgaan. Ek is nou 32 jaar getroud en ons is nog steeds gelukkig. Ek leer ook my kinders ( 1 getroud die ander trou nou) getroude mense gaan nie saam ongetroudes uit nie!!!

Cherokee ·

Die skrywer, Annelize Steyn, het haar netjiese lering opgestel met hoofsaaklik (behalwe vir absoluut enkele uitsonderings in haar beskrywings) mans as die skuldiges. En met ‘n wrang glimlag moet ek toegee Annelize, jy is waarskynlik naby aan reg… maar nie kompleet nie. Het jy geweet dat vrouens ook skuldig kan wees aan onbeheersde woede? Beslis weet jy dit want.. jy’s ook ‘n vrou:-)

MeToo op Maroela ·

Feminis joernalis wat net vir ALLE mans duidelik wil laat verstaan watse verfoeilike wesens hulle is. . . . SAKKIE !!

Feite ·

N studie wat pas verskyn het in die UK wys daarop dat 50% vrouens “mental health problems” ontwikkel tydens swangerskap waarvan gevaarlike jaloesie (waansinnigheid) een van die issues is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.