’n Lewende skakel met die Birkenhead

pierre-massyn-birkenhead-01

Konrad Stutterheim, geharde pionier-duiker van Vermaaklikheid wat baanbrekerswerk op die bekende wrak van die Birkenhead by Danger Point naby Gansbaai gedoen het. Hy onthul nou vir die eerste keer aan Maroela Media sy rol in Suid-Afrika se grootste bergingspoging. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Hulle was die baanbrekers van hul tyd. Die duikerpioniers van weleer. Konrad Stutterheim (73) is een van hulle. En hy is ’n lewende skakel tot die tragiese geskiedenis van die Birkenhead.

Die lewe om ons is vol karakters soos Konrad; mens moet net ontvanklik wees vir sulke onverwagte ontmoetings. Soms kom mens uit die mees onverwagte oorde op waardevolle stukkies geskiedenis af; dit kan artifakte wees uit ’n vervloë tyd. Medaljes, knope, kanonkoeëls, eetgerei, porselein, wrakstukke. En dan is daar die mens ágter die storie.

Nou die dag op Vermaaklikheid loop ek vir Konrad raak. Self ’n oudmatroos, het ons dadelik ’n aanknopingspunt: die see. Hy loop wys my sy kleinood: die voetstuk van die vlagstok van die rampskip die Birkenhead. Ek betas die stuk, gegiet uit soliede brons. En ek verbeel my ek kan die angsgille van die drenkelinge hoor…

Die Birkenhead was op sy dag een van die eerste stoomskepe in die Britse vloot. Die skip was aanvanklik as ’n stoomfregat ontwerp, maar is later in ’n troepdraer omskep. In sy fleur was die Birkenhead 60 meter (219 voet) lank en 11,43 meter (37 voet ses duim) wyd. Sy bevelvoerder was kaptein Robert Salmond en hulle begin die laaste vaart van Portsmouth met soldate van tien verskillende regimente aan boord. Op 5 Januarie 1852 onderweg na Suid-Afrika, tel hulle eers bykomstige troepe by Queenstown (nou Cobh) in Ierland op. Dié soldate moes gaan veg in die Agste Xhosa-oorlog op die Oosgrens. Daar is manne van die Queen’s Royal Regiment en die 74ste Voetregiment.

Op 25 Februarie 1852 verlaat die skip Valsbaai en seil in ’n oostelike rigting. Twee-uur die volgende oggend tref die Birkenhead ’n ongekarteerde rots by Danger Point naby Gansbaai. Die skip is gedoem.

Die dodelike rots wat die Birkenhead sou kelder, se posisie word later bepaal op 34 grade 38 minute 42 sekondes suid en 19 grade 17 minute 9 sekondes oos. Kaptein Salmond gee bevel om die anker uit te gooi en van die rots wat die skip vashou, te tru. Dit was ‘n noodlottige besluit omrede die metaalromp van die skip nog verder oopgeruk is en tonne seewater die gat binnegestroom het. Daar was nie naastenby genoeg reddingsbote vir almal nie. Die vrouens en kinders word in die kotter gelaai. Die ander groot reddingsboot word feitlik onmiddellik deur die golwe oorweldig. Nóg ’n ander groot reddingsboot kon nie te water gelaat word weens wenasse wat nie gewerk het nie (1). Daar is slegs drie klein bootjies oor. Die kavallerieperde word losgelaat om wal toe te swem – ʼn afstand van 3,2 kilometer (2 myl).

Die skip begin vinnig sink. Binne tien minute is die skip onder water. Hy tref nog ’n rots en knak middeldeur. Twintig minute nadat die Birkenhead die verraderlike rots getref het, begin die skip verbrokkel. Van die 643 opvarendes aan boord, ontkom slegs 193 aan die dood.

Luitenant JF Giradot van die 43ste Ligte Infanterie, skryf later in sy dagboek dat haaie onder die manskappe gemaai het, maar dat hulle hom uitgelos het “omdat hy sy broek en hemp aangehad het”, in teenstelling met die ander slagoffers. In totaal oorleef 113 soldate, ses koninglike seesoldate, 54 seemanne, sewe vrouens, 13 kinders en een burgerlike die ramp (2). Agt van die nege perde aan boord kon veilig land toe swem.

Maar die mens se goudkoors het ook ’n Birkenhead-kinkel: tot vandag toe lóóp die stories oor die gesonke skip se fabelagtige goudskat aan boord. Volgens die Britse argief sou die rampskip sowat drie ton gemunte goud as soldy aan boord gehad het.

In 1985 stuur dr. Allan Kayle en wyle Charlie Shapiro die grootste bergingsoperasie in Afrika op die wrak van die Birkenhead van stapel. En die rateltaaie Konrad Stutterheim was ’n lid van hierdie groep baanbrekerduikers. Blootgestel aan die uiterste gevaar wat met so ’n ekspedisie gepaardgaan, word hulle egter met slegs ’n paar honderd goue muntstukke beloon. Dit blyk dat dit die persoonlike geld van die opvarendes was, nie deel van die soldybuit nie. Ander lede van die span was Charlie Shapiro, Jimmy Herbert, André Hartman, Mike Keulema, Italo Martinengo, Allan Holton, Pierre Joubert en Ken de Goede.

pierre-massyn-birkenhead-02

Dié kosbare artefak van die Birkenhead is die gedoemde skip se vlagstok-basis. Let op die kenmerkende pyltjie wat aandui dat dit Britse militêre eiendom is. Foto: Verskaf.

“Ek was aanvanklik die staatsduikinspekteur en opsiener vir die geregistreerde duikgroep om hulle te help om hul kommersiële duiksertifikate te bekom aangesien hulle nie as sportduikers kon opereer nie. Die bekwame Nick Bartlett het my later opgevolg. Ons bystandskip was die Causeway Salvor (3).”

Konrad verklap nog ’n stukkie inligting: “Seker die beste duiker wat Suid-Afrika ooit opgelewer het, was die legendariese Tubby Gericke. Hy het vir geen duiwel gestuit nie. Ek kan nou vir jou sê Tubby was voor ons op daardie wrak, dis dié dat ons amper niks gekry het nie! Wat ek wel kon kry, is die vlagvoetstuk wat jy hier sien.”

Was die porseleinfragmente wat ek eendag tussen die duine naby die Danger Point-vuurtoring gevind het, van die Birkenhead afkomstig? Tussen Gansbaai en Mosselbaai lê daar immers meer as ’n honderd wrakke. En die legende van “Vrouens en kinders eerste” wat volgens oorlewering met die Birkenhead-ramp begin het?

“Loutere kaf”, lig Konrad my in. “Die skip rol onstabiel, is besig om te vergaan en mense veg vir hul lewe. Hulle spook om die paar reddingsbote te water te laat. Daar is geen manier waarop die soldate ordelik in gelid op ’n wiegende dek kon aantree nie. Dit was eerder ’n geval van elkeen vir hom- of haarself. Van die oorlewendes het aan wrakstukke vasgeklou om uit te spoel.”

Daar word jaarliks op 26 Februarie ’n krans by die Birkenhead-gedenkrots gelê ter nagedagtenis aan diegene wat hul lewens daardie dag verloor het.

Die see laat nie met hom speel nie. Maar skattejagters sal ook altyd met ons wees.

  • Pierre Massyn is ’n navorser, amateur-historikus en seiljagvaarder.

Voetnote

  1. Die betrokke wenasse was nie behoorlik onderhou nie en boonop onbeweegbaar weens verf!
  2. Die totaal van hierdie syfers is 194. Indien dit korrek is, het 194 mense dus die ramp oorleef en nie 193 soos sommige bronne dit wil hê nie. Dit is moontlik dat die Britse militêre argief die burgerlike wat die ramp oorleef het, nie in berekening gebring het nie.
  3. Daar bestaan ook ’n verband tussen die skrywer en die Causeway Salvor. Op 7 Februarie 1984 het Pierre Massyn en ander opvarendes van die kaag Wishbone regoor Oranjemund vir proviand aan boord van die Causeway Salvor gegaan voordat hulle hul seereis van Simonstad na Lüderitz voortgesit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Betzie ·

Elke bydrae van Pierre is vir my soos ‘n deur wat oopmaak na ‘n ander wêreld.

Snowball ·

By die Birkenhead Brewery in Stanford, hang daar ‘n roerende skildery van die Birkenhead wat sink. Engelse soldate in uniform wat braaf maar beangs in gelid op die dek staan en wag vir die skip om te sink…..daar sterf die hele misterie van die storie van die heldhaftige soldate nou vir my ‘n sekere dood. Nietemin, die skildery bly roerend en die Birkenhead Brewery se bier bly ‘n wenner. As jy daar by Danger Point se ligtoring deur ‘n merker gaan kyk, dui dit die presiese plek in die see aan, waar die klipplaat lê, waarmee die Birkenhead gebots het. Lekker verlang ek nou….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.