’n Stukkende spieël

sparkler-lig-glo-geloof-hoop

Foto: Freestocks.org/Pexels

Wanneer die masker afval

“Wat gaan vandag met jou aan dat jy so omgekrap is?”

Ek weet nie. Niks nie. Alles.

Dit is moeilik om te verduidelik. Party dae staan ek net so op. Niks het gebeur nie. Niks is “fout” nie en tog is álles fout.

Ek is ʼn Wipplankryer. Dit is my pad. My gemoed maak ongevraag drastiese oppe en affe. Ja, die normale gebeure in die ou lewe maak die oppe en affe soms erger of versnel die pas van die wipplank, maar as jy ʼn Wipplankryer is, is daar dikwels glad nie ʼn sneller nie. Baiekeer is dit werklik so dat jy eenvoudig so opstaan in die oggend. Dit is wat depressie is. ʼn Chroniese wanbalans van die goedvoel- en slegvoel- en veg-of-vlug-stowwe in jou brein. Vandag loop jy met ʼn wip in die stap, môre sleepvoet. En al die leesstof oor depressie as werklike siektetoestand ten spyt, bly die persepsie steeds dat dit maar net ʼn bietjie neerslagtigheid is. En dat mens jou net kan regruk. Of regbid. Ek sien mense se ongelowige fronse wanneer ek versigtig begin praat oor my onlangse hospitalisasie. En dan voel ek ontnugter wanneer ek agterkom dat mense dink dat jy nou, nadat jy ontslaan is, weer doodnormaal gaan wees. Dat medikasie ʼn kitsoplossing is. Dit is nie.

Spieëltjie, spieëltjie in my hand,

waarom net ʼn donker kant?

ʼn Gat van hartseer, bang en kwaad

gaap bodemloos, kloppend, asemloos, swaar.

Die stroom vat jou saam – dit is vinnig én sterk –

naels en nerwe klou, vergeefs of dit werk.

Dit kolk swarter en swarter, nóg af en af

Woorde is weg; wat oorbly, grom en blaf

ʼn Fisieke stryd

Die lyfseer wat gewoonlik opwel op pad huis toe, het vanoggend op pad werk toe al begin. Dit is al ʼn bekende gevoel. Dit begin in my bene. Die bene ín my bene begin pyn. Dan gaan dit oor in my vel. Elke senuwee-eindpunt is hipersensitief. Soveel so dat ek elke haar op my lyf voel en wens ek kan die klere van my lyf afruk, want dit voel soos skuurpapier. ʼn Dooie gevoel in my lippe. Duiseligheid as ek my kop vinnig draai. Kort-kort ʼn skrikgevoel wanneer my hart ʼn klop of twee onreëlmatig in my bors tekere gaan. Elke klank is oorverdowend hard. Elke aanraking seer en oorweldigend. Soms, in erge gevalle, verloor ek ʼn deel van my visie aan die linkerkant. ʼn Blindekol. Sukkel om te praat.

My masker

Wanneer mense begin vra wat fout is, is ek weerloos. Want dit beteken my masker, wat ek elke dag sorgvuldig probeer opplak, het gekraak – of erger – afgeval. My masker help my om normaal en dieselfde te “lyk” na buite, al is my “binne” bykans daagliks anders. Want mens raak gatvol vir vrae wat jy nie kan beantwoord nie. Dit is dikwels die fisieke simptome wat die eerste krake maak. My immuunstelsel gaan vir maande op ʼn staking. Wanneer jou liggaam op ʼn laagtepunt is, is jou weerstand teen emosionele aanslae outomaties laag en dan begin die krake wys.

Elke Wipplankryer se masker is ʼn meesterstuk. Dikwels ʼn oorbeklemtoning van ʼn deel van jouself om die donker deel weg te steek. Dalk empatie vir ander – as jy fokus op ander se probleme, is jou eie nie in die kollig nie. Dalk ʼn lekker sin vir humor – iemand wat grappies maak, kan tog nie depressief wees nie. Dalk werkprestasie – dit is tog ʼn teken van ʼn goed gebalanseerde, doeltreffende persoon.

Maar ʼn masker bly ʼn masker. En wanneer die vrae en krake kom, is die vrees nie ver nie. Vir verwerping. Dat mense minder van jou gaan dink. Jou gaan sien as ʼn swakkeling.

Die masker van jou menswees begin stadig kraak

Die jý wat verberg was, begin sigbaarder raak

Die paniek en die skaamte – wat as hul sien?

Dan verdwyn ook die omgee – dis wat jy verdien.

Dan val die stukke af – kletterend hard

Die monster-DNA, nou ontbloot, pikswart

Wipplank af

Die onvermydelike gebeur van tyd tot tyd. Die wipplank neem die afpad en jy land met ʼn groot wipstop weer onder in die depressiegat. En met die impak onder, foeter die masker met groot vernedering af.

Dit is ʼn alleen-plek. ʼn Plek waar mens wonder of opbeur die moeite werd is. Irrasionele denke, dat die wêreld dalk beter af sal wees sonder jou, dreig om die oorhand te kry. Wanneer jy besluit om tog weer op te beur, kom jy agter jy sit daar aan die onderkant van die wipplank en daar sit niemand aan die ander kant van die wipplank om die opstoot makliker te maak nie. So jy beur teen jou eie gewig en teen swaartekrag boontoe. Dit is ʼn hopelose stryd. Die besef dat jy nie alleen kan op nie, vererger die magteloosheid. As jy gelukkig is, gee sielkundige behandeling en medikasie, soms hospitalisasie die nodige teenwig om jou kant van die wipplank weer op te begin lig.

Die selfstryd en soeke na jou identiteit

Om wipplank te ry is ʼn fisieke stryd en ʼn gemoedstryd. En terwyl jou masker jou dikwels help om net deur die dag te kom sonder te veel moeilike vrae, kan dit maak dat jy jouself begin verloor. Vergeet dat depressie nie jou identiteit is nie. Jou masker ook nie. En dan begin jy wonder wie jy nou weer is? Jy voel soos ʼn fake.

Ek sien kommer, soms oordeel, in die oë wat na my staar

maar spieëltjie, as ék in jou kyk, weerkaats ʼn niemand daar

die Stem kom sag

ʼn bries in die nag

Ek het jou gemaak,

daarom maak jy wel saak

Staan op uit die kolk en loop na die LIG

Glo en vertrou wat Ek beplan, sal jou rig

Ek sê nou vir jou: Kyk wéér in die spieël,

Want wat Ek daar sien, is ʼn skoongewaste siel

Word nou rustig, my liewe, mooi kind

Jy moet jou waarde in My kom vind

Liewe mede-wipplankryer,

Ek hoop jy vind ook weer die jy agter jou masker. Dit het nog altyd in Hom gelê.

Liefde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Riena ·

Aangrypend! Baie mense kan sekerlik hiermee assosieer. Vir my is die belang van voedingstekorte geweldig in vandag se algemene gevoel van moedeloosheid. Laat toets jou Vitamien D vlakke en stel dit reg indien dit laag is. Magnesiumvlakke. Verskeie vitamiene en minerale kan wanneer dit aangevul word `n geweldige verbetering in gemoed bring. Skakel suiker uit. Saam met die geestelike het ons ook definitiewe liggaamlike behoeftes wat `n verskil kan maak in heelparty van ons se lewe. Sterkte!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.